Michael Mol: beste huweliksraad

0
419
michael_mol.jpg

Die beste huweliksraad wat Michael en Jacqui Mol ooit gekry het, was om tyd te maak vir date nights.

Die beste huweliksraad wat Michael en Jacqui Mol ooit gekry het, was om tyd te maak vir date nights.

Al was Michael se ouers jare lank huweliksberaders, was hulle alledaagse lewens vir hom die grootste voorbeeld en inspirasie van hoe ’n gelukkige huwelik lyk. “Hulle het my geleer dat ’n goeie selfbeeld en ’n sterk verhouding met God die fondament is van ’n suksesvolle lewe en huwelik,” vertel Michael trots. As man vir Jacqui gaan hy uit sy pad uit om herinneringe te skep, soos dat hulle twee naweke alleen weggaan.

“My verwagtings van Jacqui is dat sy haarself sal versorg en mooi lyk; dit is hoe ek haar leer ken het. Die hoogtepunt van ons troudag was toe ek oor my skouer loer en haar in die paadjie sien aankom. Sy is steeds die liefde van my lewe 20 jaar later, en selfs mooier vandag as wat sy toe was. Ek weet die meeste mans ‘moet’ dit sê – ek sê dit nie net nie, dit is eenvoudig waar!”

“Ek bewonder Michael vir hoe teenwoordig hy is as hy by ons is. As hy by die huis is, fokus hy op my en die kinders en niks anders nie. Dit kan dalk vreemd klink, maar sekere mans kan voorgee dat tyd saam met hulle gesin deurbring, maar hulle gedagtes en hart is nie by hulle gesin nie. Michael se algehele fokus en aandag is op ons as hy tuis is, en dit is van onskatbare waarde.”

Michael glo ’n gesin wat saam speel en saam bid, bly saam. “Op Sondae surf ons hele gesin voor kerk en spandeer dan die dag saam. Sondae is gesinsdae. Ek neem ook die leiding wanneer ons as gesin Bybel lees en bid. Ek geniet dit om dit op ongewone en kreatiewe wyses te doen. Dit is nooit vervelig nie,” sê Michael.

“As Jacqui oor iets gesels wat vir haar ’n probleem is, maak ek tyd om te luister. Tyd is die grootste toets van my toewyding aan haar. Ons het vroeg in ons huwelik besluit dat skei nooit ’n opsie gaan wees nie. Toe Jacqui ma geword het, het sy haar identiteit as vrou en individu verloor. Ek het haar aangemoedig om verder te studeer. Sy het daarna haar eie onderneming, Strengths Finder, begin.

“Ek wys vir Jacqui dat ek haar beskerm deur getrou te wees aan die beloftes wat ons op ons troudag gemaak het. Ek het belowe om nooit ontrou te wees nie,” sê Michael. “As vrouens dink ons soms ons moet mooi bly sodat ons mans getrou kan bly, maar ek het besef dat Michael getrou is, want as hy nie was nie, verkul hy homself. Hy het besluit om ons huwelik te eer en hy hou daarby,” voeg Jacqui by.

En hoe hou hulle die romanse lewendig? Michael maak die swembad skoon en snoei die prieel, en Jacqui reël gereeld ’n kinderoppasser wat net moet bel as die wêreld tot ’n einde kom.