Middernag Openbarings

Sleep training”… ‘n kontroversiële onderwerp en iets wat ons nooit gedink het ons gaan nodig hê nie.

Ons is mos vinnig om te sê iets is taboe, tot ons dit self nodig kry en noodgedwonge ons eie navorsing doen. Ons seuntjie is 10 maande oud en slaap vir die afgelope 6 maande selde meer as 2ure aan een op ‘n aand. Nodeloos om te sê is mamma en pappa effens gedaan.

Boonop die min slaap, is daar soveel druk op ouers in vandag se tyd. Soveel “judgement” oor alles van borsvoed / formule, natuurlik geboorte / keisersnee, die lys gaan aan. Noem net die woord “sleep training” in ‘n moderne mamma-kring en die wenkbroue skiet die hemele in.

Na ‘n besoek aan die pediater besef ons daar is regtig nou niks wat ons nog nie probeer het nie, en hy het regtig sy slaap nodig- vir sy gesondheid én ons sn.

Ons was self nog nooit gemaklik met “sleep training” nie, omdat ons nie hou van die idee om ons baba alleen te los laat hy homself aan die slaap huil nie. Die metode wat ons pediater toe voorstel is egter een waaroor ons vrede ervaar, en na BAIE gebede besluit ons om dit toe te pas.

Die reël is dat jy dadelik gaan as jou baba huil, jy vryf sy ruggie en praat met hom, maar jy mag hom onder geen omstandighede optel nie. Die dokument verduidelik presies watter emosies en reaksie jy kan verwag, maar niks kon my mamma hart voorberei op daardie eerste aand nie.

Baie deur die weer en met ‘n swaar hart staan ek toe op en trotseer die moeilikste aand van my lewe. Eers is hy kwaad. Ek probeer sy ruggie vryf en hy stoot my hand weg, skoppend en skreeuend- hy wil slaap en niemand wil hom help nie! Toe verander die woede in hartseer… Ek staan en vryf my dierbare seuntjie se ruggie, my gesig weggedraai van sy bed sodat hy nie my snikke kan hoor nie. My hart skeer in twee! Ek weet as ek hom nou optel en borsvoed, gaan hy dadelik kalmeer en al die trane sal vergete wees. Maar ek weet ook dat hy nodig het om te slaap, en dat hierdie opoffering hom baie meer gaan baat in die lang termyn.

Iets in my mamma hart kliek toe met ‘n klein deel van God se Vader hart. Hoeveel keer roep ek nie uit na Hom in die midde van moeilike omstandigede, en kan nie verstaan hoekom Hy niks doen nie?? Hoor Hy my dan nie? Gee Hy nie om nie? Ek weet Hy is Almagtig, Hy kan dan dadelik my omstandighede omdraai as Hy wil?

Terwyl my seuntjie huil, breek my hart, maar ek los hom nie vir ‘n oomblik alleen nie. Ek praat saggies met hom en vryf sy ruggie. Soos hy bedaar en nou en dan bietjie kerm praat ek deurlopend met hom.

In my hart ervaar ek ‘n Vader wat my NOOIT alleen los nie. Wat in die midde van my storms my hand styf vashou. ‘n Vader Wie se hart seer raak as Sy kinders ontsteld is, maar wat die groter prentjie sien.

Miskien is jy opsoek na verligting in ‘n storm en verstaan jy nie hoekom jou Pappa nie ingryp en uit die storm haal nie.
Hy sien die groter prentjie.
Hy het net planne van voorspoed vir jou.
Hy hoor jou en Hy los jou nie vir een oomblik alleen nie.