Minder drama met jou kind

679
Lizanne du Plessis
Lizanne du Plessis

Om ’n wag voor jou mond te plaas en nie te ontplof as jy kwaad word nie, is een van die belangrikste eienskappe van ’n suksesvolle volwassene.

Frustrasie en woede is normaal. As ons nie briesend word wanneer iemand iets verkeerd doen, reëls oortree of iemand ons te na kom nie, sal ons waarskynlik nie die durf hê om op te staan en te veg vir dit wat reg is nie.

Dis orraait om partykeer kwaad te word

Die goeie nuus is ons kan onsself en ons kinders leer om wat hulle voel, reg te hanteer en te bestuur.

Sommige mense praat van negatiewe emosies soos frustrasie en woede, selfs vrees en angs. Maar as dit so genoem word, dan is ons geneig om te dink dat ons daarvan ontslae moet raak. Voor jy weet, sê jy goed soos: “Moenie kwaad word nie” of “daar is geen rede om bang te wees nie”.

Hierdie intense gevoelens is nie iets wat ons moet weg wens nie. Daar is ’n rede waarom ’n mens hierdie uitdagende en moeilike dinge ervaar – dit vorm ’n mens. Wat uiteindelik saakmaak, is wat ons daarmee doen.

As kwaadword in aggressie teenoor ander mense, dinge of diere oorgaan, kan dit ’n probleem raak. Dit is nooit reg om iemand te slaan, die hond te skop, speelgoed neer te gooi of iemand met klippe te takel nie.

Sê presies hoe jy voel, en haal diep asem

Aanvallende gedrag is meestal ’n wekroep vir aandag of weerspieël onderliggende angstigheid. Dink aan maniere om jou kind veilig, gekoester en geliefd te laat voel. Spandeer tyd saam. Alleentyd. Net jy en jou kind, sonder enige afleidings. Vra wat hy graag wil doen, sit jou foon neer en speel regtig saam.

’n Woede-uitbarsting wys dat hy nog nie mooi weet of geleer het wat om met teleurstelling of skaamte te doen nie. Die eerste stap wanneer ons vir kinders wil leer hoe om “groot” emosies te hanteer, is om vir hulle te wys hoe ons dit doen.

Iets wat ek nog elke dag oefen, is om bewus te word van wat ek voel, en dit dan vir my kinders te noem. “Oe, ek is nou so kwaad ek voel of ek wil slange vang.” Dan sien hulle hoe dit lyk, en dat dit oukei is. As ek oorweldig voel, haal ek drie maal stadig diep asem – voor ek weet, voel ek rustiger en meer in beheer.

Leer jou kind probleemoplossing van kleins af

Wanneer jou kleuter byvoorbeeld speel en ontsteld raak, want Sussie vat die blokkies waarmee hy speel, beweeg nader, en sê byvoorbeeld: “Ek sien jy is vies. Sussie vat jou blokkies. Is daar iets wat ons kan doen om seker te maak dat sy nie die blokkies vat wat jy wil gebruik nie?” Wanneer jy só met jou kind praat, help jy vir Boeta om die groot gevoelens beter te hanteer.

As jou kind nie aan oplossings kan dink nie, gee vir hom opsies. “Dink jy ons moet dalk vir Sussie ook blokkies gee om mee te speel, of moet ek haar vra om my te help met die kos terwyl jy nog ’n rukkie speel?”

Kinders moet leer dat hulle geregtig is daarop om te “voel”. Wanneer ons vir hulle ’n veilige omgewing skep en help om uiting daaraan te gee, ontwikkel hulle emosionele intelligensie. Die boodskap is altyd: Jy mag kwaad word. Die sleutel is wat jy daarmee maak.

Lizanne du Plessis, Ouerleiding, kinderontwikkeling en -terapie

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.