Minder droogheid, beter seks

0
452
gretha_wiid.jpg

Baie vrouens ervaar vaginale droogheid. Gretha Wiid gee raad hoe jy nog steeds seks kan geniet!

Vaginale droogheid is algemeen en oorkombaar

Baie vroue sukkel met pynlike seks as gevolg van vaginale droogheid terwyl ander weer ’n stryd het met ’n chroniese gejeuk. En wie wil nou jeuk vir die verkeerde redes of seks hê wat voel soos daardie droë basaarbroodjie wat jy moet afwurg? Asof die gejeuk en geskuur nie erg genoeg is nie, moet party vroue nog hulleself verdedig ook in die huwelik. Hulle moet hulle mans probeer oortuig dat hulle gebrek aan smering nie noodwendig beteken dat hulle nie lus is nie. As jou man jou nie glo nie, sit jy op die ou end met ʼn droë vagina én ’n droëbek of dikbek man.

Om jou huwelik, vagina en sekslewe die nodige vog te gee, is dit belangrik om te weet wat vaginale droogheid veroorsaak. Estrogeen of eerder die gebrek daaraan is die groot oorsaak. Omdat die vagina estrogeen benodig om klam te bly en teen infeksie te baklei, is dit te verstane dat omtrent die helfte van vroue bo 50 chroniese vaginale droogheid ervaar. Die vermindering in estrogeen veroorsaak dat die vagina se wand dunner en minder elasties raak – iets wat kan bydra tot pynlike seks. ’n Droër vagina is ook meer geneig tot inflammasie en infeksie as gevolg van klein skeurtjies in die wand.

Jy moet ook verstaan dat dit nie net vroue in hulle menopouse is wat met vaginale droogheid te kampe het nie. Jong vroue met hierdie probleem kom al hoe meer voor. Hulle ondervind soms droogheid tydens borsvoeding, swangerskap of in sekere fases van hulle menstruele siklus. Sommige medikasie, veral antihistamien en ontstuwingsmiddels vir sinusitis en verkoue, kan ook meer opdroog as net jou neus. Partye vroue kla weer dat die gebruik van antibiotika vaginale droogheid tot gevolg kan hê. En strawwe rokers se sekslewe kan ook mettertyd saam met die sigaret in as verander as gevolg van droogheid.

Neem jou emosionele toestand ook in ag. Hoe angstiger en hoe meer gespanne jy is, hoe groter is die kans dat jy met droogheid kan sukkel.

Die bose kringloop van droogheid en seks

Vaginale droogheid kan ’n baie negatiewe invloed op jou sekslewe, selfbeeld en lewensgehalte hê. Buiten dat sommige vroue met hierdie probleem geneig is om seks te vermy omdat dit pynlik en ongemaklik is, is daar ander wat selfbewus voel omdat hulle altyd smeermiddels moet gebruik. Omdat gereelde seks jou vagina help met smering, word die droë vagina en vermyding van seks later ’n bose kringloop.

Daarom is dit belangrik om te weet wat die oorsaak is sodat jy dit reg kan behandel. Dit help nie jy gebruik rome en hormoonvervangings nie, maar die eintlike oorsaak is angs. As jy nie self kan vasstel wat jou droogheid veroorsaak nie en dit is nie tydelik nie, gaan besoek jou dokter. Ek vind dat baie vroue skaam is om hieroor met hulle dokter te gesels. Ander aanvaar weer te maklik dat dit seker maar ouderdomverwant is. Die skaam vroue sal eerder probeer om die antwoorde op die internet te soek, terwyl die ouer vroue hulle droë lot gelate aanvaar. Indien die oorsaak dalk hormonaal of medies van aard is, sal jy ’n voorskrif moet kry vir die nodige medikasie. En hoe vroeër jy dit begin behandel, hoe beter kan jy dit beheer. Moenie te lank wag nie. Pak die bul by die horings sodat jy met groter vreugde die bul by die huis kan pak.

As dit egter net ’n tydelike probleem is soos tydens swangerskap, kan jy ’n gewone smeermiddel of bevogtiger gebruik. Maar kies gehalteprodukte. Ek beveel gewoonlik dié met ’n waterbasis aan omdat dit veilig is vir alle vroue. Die silikoonbasis werk ook goed omdat dit waterbestand is en nie taai word nie. Vermy produkte wat gliserien bevat, en as jy geneig is tot infeksie, bly ook weg van smeermiddels wat gegeur is of warm word. Laat jou man jou eerder warm maak. Jy vat dalk vlam vir die verkeerde redes!

Ander opsies om vaginale droogheid te behandel is hormoonvervangingsterapie, maar jou hormonale profiel moet eers deur ’n dokter hiervoor getoets word. Te veel vroue maak die fout om sommer hulle eie behandeling te kies met estrogeenrome. Daar is ’n baie fyn skeidslyn tussen ’n hormoon en ’n demoon – daarom is dit regtig belangrik om ’n professionele opinie te kry.

Praat eerlik met manlief oor jou ongemak

Soos alle terreine in die huwelik waar ons soms sukkel, is eerlike kommunikasie hieroor nodig met jou man – ter wille van begrip, maar ook om meer voorspel van sy kant af aan te moedig. Spreek jou dokter as jy moet, maar doen intussen jou bekkenvloeroefeninge (Kegel-oefeninge). Drink baie water om seker te maak jou vagina dehidreer nie, en belê in ’n goeie smeermiddel.

Met wankelende hormone, angs en ouderdom, is jou sekslewe dalk op dié stadium droog, maar met die regte hulp van jou dokter, jou man en jou gunstelingsmeermiddel sal alles baie gladder verloop!

Geskryf deur Gretha Wiid