Minki is dankbaar vir rekmerke

0
79
minki_van_der_westhuizen.jpg

Een van SA se mooiste vroue, Minki van der Westhuizen, praat oor nederigheid, beroemdheid en rekmerke.

Is vroue jaloers op jou as pragtige, sprankelende model?

Ek het al geleer dat nie almal dieselfde smaak het nie. Party mense dink ek is mooi en ander nie. So, as iemand ʼn negatiewe opmerking maak of venynig is, steur ek my nie juis daaraan nie. Ek weet mos wie ek in Christus is, daarom pla dit my nie. Dis Hy wat my geskep het. Aan my voorkoms kan ek nie verander nie. Gelukkig het ek ʼn fantastiese groep vriendinne wat my nooit soos ʼn “model” laat voel nie. Ek is net Minki vir hulle.

Is dit makliker om aanvaar te word as jy mooi is?

Om mooi te wees bring mens net tot op ’n punt, dit gaan jou nie oor die wenstreep help nie. Daarvoor moet jy in jouself glo en hard werk. My ouers het van kleins af selfvertroue by my en my broer, Ben, gekweek. Ek glo dit is een van die hoof redes waarom ek gemaklik is met wie ek is. En ook die wete dat my ouers baie lief is vir mekaar en ons altyd sal ondersteun en liefhê.

Gebeur dit soms dat mense jou op jou voorkoms takseer?

Vandat ek op Pasella is, gebeur dit dikwels dat mense kom hallo sê wanneer hulle my op straat herken. Dit pla my glad nie. Almal is altyd baie warm en vriendelik. Net soos die mense met wie ek onderhoude voer vir die program. En as iemand ’n vooropgestelde opinie van my het, hou ek daarvan om hulle verkeerd te bewys. Ek verkies dat mense eerder my kom groet en met my gesels as wat hulle net staan en ʼn opinie vorm, sonder dat hulle my eers ontmoet het.

Hoe bly jy nederig ten spyte van jou bekendheid?

Ek dink die feit dat ek stelselmatig bekend geword het, het my kans gegee om gewoond te raak aan die kollig. Ek kan baie van my waardes toeskryf aan my grootword jare en my opvoeding. My ouers se opinie is steeds vir my belangrik en ek wil hulle nooit teleurstel nie. My geloof speel verseker ook ’n groot rol in my lewe. Daarom sal ek nooit dink ek is beter as iemand anders nie.

Hoe aanvaar jy die veranderinge in jou lyf na swangerskap?

Ek het in my laaste week van swangerskap met Katerien rekmerkies gekry en dit was nogal vir my erg. Toe lees ek ’n artikel van ’n ma wat sê hoe dankbaar sy is vir haar rekmerke, want dis ’n herinnering van die wonderlike tyd toe haar baba nog deel was van haar liggaam. Daar het ek besef hoe bevoorreg ek is om ’n perfekte baba te kon hê en te kon dra in my moederskoot vir 40 weke.