Misdaad – jy kan dit ook oorleef!

0
113
kaping.jpg

Misdaad kan met almal gebeur, al wil ons nie daaraan dink nie. Tog is daar hoop en lewe ná geweld.

“Ongelukkig beskou baie Suid-Afrikaners hulleself as slagoffers,” vertel dr. Tessa van Wyk, traumatoloog, RSG-aanbieder en skrywer van die boek Trauma. “Veiligheidshekke en alarmstelsels kan jou beskerm, maar gaan nie jou vrees wegvat nie. Vrede en veiligheid lê binne jouself. Misdadigers kan jou lyf seermaak, maar hulle hoef nie jou gees te knak nie.”

Rena: “Ek het ’n gewelddadige kaping oorleef”

18 November 2006 sou ’n dag word wat ek vir die res van my lewe sal onthou. Ek, my man, Eddie, en ons nege maande oue dogtertjie, Carli, is daardie aand buite ons huis deur drie mans oorval en in ons motor geboender. Omdat ons nie mag opgekyk het nie, het ek nie ’n idee gehad waar ons was of wat hulle doen nie. Eddie het gesmeek hulle moet ons aflaai, maar hulle het hom net stilgemaak.

Uiteindelik het ons langs ’n afgeleë pad gestop. Ek onthou die stilte. Eddie is eerste uit die kar geruk. Daar was ’n skoot. Toe stilte. Die voorste een het met Carli uit die motor geklim. Weer ’n skoot. Weer stilte. Toe het alles swart geword. Ek het eers weer “bygekom” toe hulle Carli vir my gooi. Ja, gooi! Ek was nie dood nie en Carli nie geskiet nie. Die aanvallers het laat spaander – twee die veld in en die derde is weg met die motor.

In die donker het ek na Eddie begin soek. Toe ek hom kry, het hy plat op sy rug gelê. Twee skote in die bors. Ek was histeries. En toe sê hy vir my iets wat ek nooit sal vergeet nie: “Rena, ruk jou reg. Jy moet sterk wees.”

Met Carli op die heup is ek terug pad toe om ’n voertuig te probeer voorkeer. Ek het vir God gegil om ’n engel vir ons te stuur, en toe hou twee motors met drie swart mans in stil. Ook maar goed, want ons sou Eddie nie alleen in die kar gekry het nie. Die ouer man het Carli in sy baadjie toegedraai en kon Eddie se ma-hulle met sy foon bel.

By die hospitaal het daar al bloed by Eddie se mond uitgekom. Hy is dadelik teater toe.

Lees ook: Is dit God se skuld?

[pagebreak] Dit was Eddie se stiefpa wat die nuus kom meedeel het: “Eddie is weg!” Weg? Ek kon dit nie glo nie. Dit het net gelyk of hy slaap, maar toe ek hom soen, was hy yskoud.

Ná die aanval het ek vir my en Carli ’n nuwe huis en motor gekoop. Ons moes oor begin, maar dit was nie maklik nie. Carli het my aan die gang gehou, in die oggende laat opstaan. Wanneer sy geslaap het, het ek Eddie se baadjie aangetrek en my aan die slaap gehuil.

Een naweek kuier Carli by my ma. Ek het met ’n handvol pille gesit en regtig geen sin daarin gesien om aan te hou leef nie. As Carli sonder ’n pa kan grootword, kon sy sekerlik sonder ’n ma ook. Die oumas sou goed vir haar sorg. Dis tóé dat ek onthou het hoe Eddie daardie aand vir my gesê het om sterk te wees. ’n Helderheid het oor my gekom. Ek het besef Carli sal moet grootword met die wete dat haar ma nie lief genoeg vir haar was om te bly leef nie.

Ek het geweet ek het dringend hulp nodig. Die volgende twee jaar se sessies by ’n kliniese sielkundige het baie gehelp. Ons het baie gepraat. En ek moes briewe skryf – vir Eddie, vir Carli, selfs aan die moordenaar.

Vandag kan ek sê dat die seer nooit weggaan nie, maar dit word wel “sagter”. Die Here was goed vir my. Hy het Johann na my Carli toe gestuur. Ons is nou al vyf jaar getroud. Johann verstaan dat ek soms verlang. Carli weet sy het ’n pappa in die hemel en ’n “aardse” pappa. Sy het ook ’n sussie bygekry. Ninke is nou vier.

Wat met ons gebeur het, was erg. Ek weet nie hoekom dit gebeur het nie, en glo my, as ek eendag Daarbo is, sal dit die eerste ding wees wat ek vir God gaan vra. Tog weet ek Hy was heeltyd daar.

Die middag ná Eddie se dood het my tannie vir my ’n veertjie gebring. Die veertjie moes my herinner aan God se engele wat heeltyd daar is om ons te beskerm. Wanneer ek ’n veertjie sien, moes ek onthou dat God daar is.

Lees ook: God se liefde vs. vrees

[pagebreak] Elke oggend as ek uit die huis geloop het, was daar ’n veertjie. Wanneer ek by my werk kom, het daar ’n veertjie gelê. Soms, as ek in die straat geloop het, het daar ’n veertjie gewaai en reg voor my geval. Dis was net altyd te veel en te presies om blote toeval te wees.

Ek hou vandag nog aan daardie eerste veertjie vas.

Tessa: “Praat en skryf die seer uit” Rena het die regte ding gedoen om so gou moontlik weer op haar eie te gaan bly. Sy moes opstaan, Carli versorg, die huis skoonmaak. Boonop kan jy op jou eie manier en eie tyd uiting gee aan jou emosies sonder ander mense wat jou heeltyd dophou.

Selfdoodgedagtes is ’n normale reaksie na trauma, veral as iemand oorlede is, maar ek vind dat min mense dit regtig doen. Direk na die insident trek al die pynlike emosies jou uitkyk op die lewe skeef. Wanneer jy egter jou eie pyn verwerk het, word die verlange na die dood ook minder.

Dis verskriklik belangrik om oor jou gevoelens en die gebeure te skryf en te praat. Met ’n traumatiese gebeurtenis neem instink oor. Jou regterbrein, wat verantwoordelik is vir intuïsie, kreatiwiteit en verbeelding, is dominant tydens ’n traumatiese gebeurtenis en die terugflitse daarna.

Jou linkerbrein, wat verantwoordelik is vir tydsbesef, wilskrag, logika en taal, is afwesig tydens ’n aanval. Daarom dink jy in so ’n situasie gewoonlik nie aan wat jy doen nie. Jy tree irrasioneel op en kan dikwels agterna nie mooi onthou wat gebeur het nie. Dit is een van die redes hoekom die seer gevoelens jou so oorweldig.

Jy het iets van buite nodig om die verwarring in jou onderbewussyn te orden. Skryf en praat kan jou help om emosies te verwoord en as’t ware uit te spoeg sodat dit verwerk kan word.

Kliek hier en druk ’n pragtige gebed vir beskerming uit, van Liesel Krause-Wiid.