Mislukking is nie ’n skande nie

0
398

Tracey Swanepoel se sukses met THINKspiration volg nadat haar eerste droom nie bewaarheid is nie. Sy het geleer hoeveel mislukking tot sukses bydra.

Die droom om Wimbledon te wen het my van jongs af elke oggend uit die bed gekry. Dit het tot ’n tennisbeurs by ’n universiteit in die Verenigde State gelei. In die begin het dit goed gegaan. Die enigste probleem was ’n klein rugbesering wat nie wou opklaar nie. Ek het net deur die pyn gespeel. Naderhand moes ek pal pynpille drink en voor elke wedstryd inspuitings in my rug kry. In die eindwedstryd, ná die inspuiting, het my bene lam geword. Die afrigter het net gesê: “Jy beter jouself regruk as jy jou beurs wil behou.” Hy wou net wedstryde wen en het nie omgegee vir my welstand nie. Die besering het gelei tot die einde van my tennisdroom en ’n terugkeer na Suid-Afrika.

Jy kan oorleef as alles uitmekaar val. Jy staan op en droom nuwe drome. Ons planne vir die lewe is dalk nie wat God beplan het nie. Dit leer jou aanvaarding en om dieper oor dinge te dink.

Die druk om die beste te wees met alles het my dikwels teruggehou. By terugskouing besef ek ek was nie avontuurlustig of braaf genoeg nie. Dis ’n belangrike les om te leer – dat mislukking deel is van die lewe en dit met almal gebeur. Elke dag is nog steeds ’n uitdaging, maar op ’n stadium was die druk om honderd persent te wees oorweldigend.

Om weer die beheer oor jou toekoms te neem gaan oor die storie wat jy vertel. Natuurlik ook om ’n plan te hê en dit in werking te stel. My pad met tennis het gewys dat jy jou doelwit in kleiner take moet opbreek. Dit laat jou voel asof jy dinge kan doen en regkry, maar so leer jy ook jouself ken, vernaam jou sterk punte. Ek ontwikkel hulle dan verder.

’n Baie goeie manier om weer suksesvol te wees is om mislukking van skande te skei. Ons is so bang daarvoor omdat dit ons klein en skaam laat voel. Vergewe jouself. Hoe meer jy daaroor praat, hoe minder voel jy dit. Ek sal baie eerder iemand wil wees wat aanhou probeer, as die een wat net kritiek lewer.

Die beste idees en oplossings waarmee ons al vorendag gekom het, was nie na wonderlike vergaderings nie, maar na die aaklige vergaderings. Ons doen baie werk met leiers, waar ons hulle help om op hulle sterk punte te fokus. Een ding wat jy sien, is dat kwesbaarheid mense soos ’n magneet aantrek. Dit kom wanneer jy jou swak punte erken, iets wat bevrydend is. Dan beweeg jy weg van kompetisie af en kan saam met mense werk om suksesvol te wees.

By THINKspiration fokus ons daarop om leiers te ontwikkel en hulle te help om korporatiewe strategie te verstaan. Ons doen dit deur hulle met innoverende en kreatiewe vaardighede toe te rus. Voorbeelde daarvan is visuele strategiekaarte en die vermoë om stories te vertel. Dit help hulle om mense te motiveer.

Ons bring logika, slim denke en kreatiwiteit bymekaar om leiers en besighede te help om met hulle eie mense te kommunikeer. Hulle leer om mense te inspireer en op ’n ander manier te lei, omdat dit help om verhoudings te bou. Dit bring ook menslikheid terug na die werksplek.

5 wenke vir sukses

1) Luister om te verstaan, want dit gee jou woorde meer gesag.
2) Gebruik stories om jou boodskap te laat vassteek.
3) Fokus op jou eie en ander se sterk punte.
4) Opregtheid trek mense aan, omhels dit.
5) Almal misluk, maar maak seker dat jy vorentoe val.

Kontakbesonderhede:
Epos: tracey@thinkspiration.co.za
Webwerf: www.thinkspiration.co.za