’n Moderne Spreuke 31– supervrou

1105

Die supervrou van Spreuke doen alles perfek. Tog is sy doodgewoon. Sy ken dié tydlose waarhede vir ’n  gelukkige lewe volgens God se wil. ONS VRA ALETTÉ–JOHANNI WINCKLER …

Gebruik jou tyd vir dinge wat régtig saak maak

Hoeveel keer op ’n dag gaan jy by jou Facebook-rekening in? As jy dit 13+ keer doen, is dit amper een uur per dag. Dan ly jy waarskynlik aan FOMO – “the fear of missing out”.

Of loop jy en lees wat almal oor alles te sê het terwyl jou kind soebat vir aandag?

Dis nie net sosiale media wat tyd steel nie. ’n Buite-egtelike verhouding, enige ánder verslawing, om geld in die water te gooi, mors ook tyd.

Jy het net 24 uur in elke dag. Dink mooi oor waarmee jy dit volprop.

Skep ’n warm en liefdevolle atmosfeer

Elkeen van ons het ons eie manier waarop ons gaste laat tuis voel.

Gaste moet hulle skoene kan uitskop. Sommer ook pens-en-pootjies op die koffietafel klim, as hulle wil.

Gasvryheid is om alle negatiewe gevoelens vir daardie tydjie opsy te skuif. Dit is mooi musiek. Goeie wyn en die lekkerste kos wat jy kan voorsit.

Gasvryheid is ’n opregte glimlag en oop arms wat iemand verwelkom met ’n drukkie en ’n klapsoen op die wang.

Kuier is belangrik. Vriendinne is soos die stroop op jou wafel. Die lewe is maar nét nie dieselfde daarsonder nie.

Wees goed versorg, dan is jy ook gelukkig

Elke vrou lyk beeldskoon op haar troudag. Maar ná die wittebrood verander dit. Jy kan nou maar ontspan, want jy het nou ’n man gevang!

Dan kom die babas. Dikwels is dit hier waar vroue handdoek ingooi en aanvaar dit is nou hoe dit is en van hulleself vergeet.

Onthou, die vrou is die hart van die huisgesin. Wat gaan gebeur as jy aanhou om jou fisieke en geestelike gesondheid te verwaarloos?

Wanneer jy goed voel oor jouself, jou gewig, gesondheid, hare, vel, voete, hande, is jy sommer ook vriendeliker en gelukkiger.

Wees fluks en werk met gewillige hande

Ons doen alles met ons hande. Soms is die toewyding, inspirasie en motivering daar, maar jou hande wil eerder lê en rus.

Daar is ’n spreekwoord oor knap, gewillige hande: Alles waaraan sy raak, verander in goud.

Hoe sal jou uitkyk op daaglikse take verander as jy in jou geestesoog sien hoe alles waaraan jy raak in goud verander? Elke kind wat jy vertroos, kilometers wat jy agter kliënte aanry, koppies tee wat jy aandra en oproepe wat jy ontvang, verander in goud! Hoe anders sal jy nie daardie kind of oproep hanteer nie?

Kry vrede in jou hart, dit maak jou mooi

As jou hart, siel en gees aan die binnekant ’n gemors is, gaan dit aan die buitekant wys!

Ons probeer baiekeer om iets met ons eie krag reg te kry. Ons gaan van sielkundige na sielkundige, lees boeke en luister na mense, maar niks help nie.

Dis belangrik dat die wonde aan jou binnekant nie net met pleisters toegeplak word nie. Krap die rowe af en wees eerlik oor die seer sodat volkome genesing kan plaasvind.  Wanneer iemand daardie innerlike genesing en vrede beleef wat alle aardse verstand te bowe gaan, is sy sommer beeldskoon.