MOEDERSDAG – Wat beteken jou Moeder vir jou?

Ek is mal oor skryf, en gewoonlik sal ek skryf oor iets wat my inspireer of my hart die meeste aanraak. Maar as ek moet skryf oor wat my grootste inspirasie in die lewe is, dan sal ek skryf oor iemand baie spesiaal in my lewe.

Sy is ‘n steunpilaar in my lewe. Ek kan altyd oor enige iets met haar praat en sy sal altyd daar vir my wees, maak nie saak wat die omstandighede is nie. Sy inspireer my elke dag om die beste persoon te wees wat ek kan wees – sterk, onafhanklik en gelukkig met myself. Sy is een van my heel beste vriendinne.

Dis my Moeder.

My Moeder beteken letterlik die wêreld vir my.

Al bly sy amper ‘n 1000km van my af, waardeer ek altyd elke oomblik saam met haar. Sy sal altyd uit haar pad uit gaan om ander te help – ‘n regte Moeder Theresa, met ‘n hart van goud.

Ek weet dat ek nie net vir myself praat nie, maar ook vir my broers, wanneer ek sê dat ek nie kan voorstel dat iemand ‘n beter ma as ons het nie. Ek kan my lewe nie sonder haar voorstel nie, ek is so dankbaar vir haar en vir alles wat sy vir my en my gesin doen.

My Moeder was nog altyd en sal altyd my rolmodel wees. As ek oor 30 jaar die vrou is wat sy is, sal ek meer as gelukkig wees.

‘n Moeder is daardie persoon wat altyd in jou glo en weet tot wat jy in staat is, al glo jy self nie so nie. Wanneer jy hopeloos voel, sal sy daar wees om jou op te lig en weer op die regte spoor te sit om jou doelwitte te bereik.

Sy sal haar eie grense verskuif om jou te akkommodeer.

‘n Moeder is liefde – Een van die grootste geskenk vanaf Bo.

Dit is werklik die wonderlikste gevoel om te weet dat iemand jou meer as enigiets liefhet en sal ALTYD van jou hou. Al verbrokkel jou vriendskappe of verhoudings met ander, met ‘n Moeder in jou lewe, weet jy, daar is altyd iemand wat jou sal liefhê en jou trane sal afvee.

Ek wonder hoe bring ‘n mens hulde aan iemand soos ‘n Moeder op Moedersdag? Want nie een versie, gedig of definisie kan enige Moeder beskryf nie. En op ‘n manier is ek glad nie verbaas nie, want ek weet voor my siel, daar is geen vergelyking vir ‘n Moeder nie, want daar is net een soos SY!

Vir haar verruil ek vir niks in die lewe nie.

Maak nie saak wanneer jy Moedersdag vier nie, dit gaan alles oor hoe om dit ‘n spesiale dag te maak, vir die persoon wat jou in hierdie wêreld in gebring het.

Aan al die merkwaardige Moeders daar buite: Gelukkige Moedersdag!