Moeg? Drink dit vir meer energie

0
208
drink.jpg

As die Desembervakansie net te ver voel en jou krag te min, het ons goeie raad. Dit wat jy drink, maak dat jy moeg óf energiek voel. So, dink mooi voordat jy daardie eerste sluk vat.

Drink koffie vir beter breinfunksie

As jy na middagete lomerig begin voel, drink ’n koppie filterkoffie of ’n skeut espresso, maar sonder melk en suiker. Studies toon dat koffie help om jou breinfunksie te verbeter. Dit verhoog nie net jou energievlak nie, maar verbeter ook jou bui, geheue en reaksietyd.

Dié voordele word toegeskryf aan kafeïen, wat, as dit in matige hoeveelhede ingeneem word, ’n positiewe uitwerking op jou gesondheid kan hê. Die neurowetenskaplike dr. Gary Wenk, skrywer van Your Brain on Food, meen dat jy tot vyf koppies koffie ’n dag kan drink om jou brein teen siektes soos Parkinson en Alzheimer te beskerm. Moet net nie alles op een slag drink nie!

Drink water vir kwynende energie

Somtyds is ’n gewone glas kraanwater al wat jy nodig het om weer ’n huppel in jou stap te sit. Wanneer jy ontwater is, kan dit jou energie dreineer en jou vermoë om fisies te presteer, aantas. Navorsing toon dat ontwatering dit moeiliker maak vir sportlui om ’n oefensessie te voltooi.

Dit sal ook ’n uitwerking hê op gewone mense wat alledaagse take probeer verrig. As jy voel jou konsentrasie begin afneem, drink ’n glas water. Wanneer jy gedehidreer is, kan jou waaksaamheid ook verslap. Hoe weet jy of jy genoeg water drink? Jou urine moet ’n ligte geel kleur wees, soos strooi.

Loop lig vir sport- en vitamiendrankies

As jy na ’n sportdrankie gryp nadat jy geoefen het, dink weer. Sport- en vitamiendrankies bevat elektroliete soos kalium en natrium, wat veronderstel is om jou lyf weer te hidreer. Die waarheid is egter dat jy omtrent so aktief soos ’n professionele sportvrou moet wees om waarlik voordeel uit die drankies te trek. Dit is ook propvol suiker en ander koolhidrate.

Dit kan lei tot ’n sugar crash, daardie gevoel van luiheid en moegheid nadat jy baie suiker en ander koolhidrate ingeneem het. Dan praat ons nie eers van die leë kilojoules wat dit bevat nie. Drink eerder water en eet ’n piesang as jy bekommerd is oor jou kaliumvlak.

Energiedrankies is sleg vir jou hart

Aan die einde van die jaar is ons geneig om staat te maak op energiedrankies soos Red Bull, wat propvol kafeïen is. Op lang termyn kan dit egter baie sleg wees vir jou hart. Volgens navorsers het gesonde mense wat drankies wat groot hoeveelhede kafeïen en suiker bevat, gedrink het, verhoogde hartsametrekkings ervaar. Kenners is nou bekommerd dat dié drankies veral nadelig is vir mense met hartsiektes.

Tussen 2007 en 2011 het besoeke aan noodgevalleafdelings in Amerika as gevolg van ’n oordosis energiedrankies verdubbel: van 10 000 tot 21 000. Kenners meen die kombinasie van suiker en kafeïen is miskien te veel van ’n hupstoot vir jou hart.

Glas wyn vir die (hoof)pyn?

Min dinge is so lekker soos ’n glas wyn of twee na ’n stresvolle dag by die werk. Daardie glasie wyn wat jou so troos, kan egter ook ’n negatiewe invloed op jou energievlak hê. Alkohol is ’n depressant, wat jou brein en sentrale senuweestelsel aantas en tot chroniese moegheid kan lei.

’n Glas wyn is eintlik ’n tweesnydende swaard. Jy mag dink dit help jou om beter te slaap omdat jy gouer aan die slaap raak, maar dit beïnvloed die gehalte van jou slaap. Jy slaap ligter en kan hoofpyn, nagmerries en nagsweet ervaar. As jy wel ’n knertsie in die aand gaan geniet, maak seker jy drink ’n glas water saam met elke glas wyn om die newe-effekte van alkohol te verminder. Vir ʼn goeie nagrus moet jy alkohol vier tot ses uur voor bedtyd vermy.

Aanvullende bronne: WebMD.com, ScienceDaily.com, FoxNews.com