Moeilike tye maak jou sterk

0
754

Soms lyk jou omstandighede vir jou so sleg dat jy dink daar is nou geen hoop meer oor nie, alles is verby. Game over, punt, stop!

Een ding kan jy vir seker weet: Dit maak nie saak wat die omstandighede is nie, jy is nooit alleen nie. Wat vir jou na ’n punt lyk, is dalk eerder ’n komma. ’n

Wonderlike nuwe begin! Soms moet jy deur slegte omstandighede gaan om te groei, want dit vorm jou om die mens te word wat jy moet wees. Dit help jou om jou spesiale doel te bereik.

Iemand is in beheer van jou lewe

Dalk voel jy op die oomblik platgeslaan. Onthou, dit maak nie saak hoeveel keer jy val nie; wat tel, is hoeveel keer jy opstaan. Gelukkig hoef jy dit nie alleen te doen nie. Hier is die wenplan: Bid en vra vir krag en inspirasie. Doen wat nodig is, en dan wat moontlik is. En voor jy jou kom kry, doen God vir jou die onmoontlike!

Moet nooit dink dat Hy van jou vergeet het en nie meer in beheer is van wat met jou gebeur nie. Glad nie! Die meesterplan vir jou lewe is reeds volledig uitgewerk. Jy weet nie altyd presies hoe die plan gaan verloop nie, maar jy kan vertrou dat alles wat gebeur, tot jou voordeel is.

Ek wed jou as jy terugkyk oor jou lewe, sal jy besef dinge het nie sommer “gelukkig” of “toevallig” gebeur nie. Die goeie én slegte tye het saamgewerk om ’n mooi prentjie te skep.

Moenie op jou probleem fokus nie

Jesus het Petrus uitgenooi om uit die skuit te klim en na Hom toe te stap. Petrus het dit sonder skroom gedoen en hy het op die water geloop. Totdat hy om hom begin kyk het en sy fokus verloor het – toe sink hy vinnig!

Jy moet dieselfde doen. Waag die kans om uit die boot te klim en buite jou gemaksone te beweeg. Dan kan jy jou volle potensiaal bereik. Ja, daar sal altyd slegte omstandighede wees, maar dis daar om jou te vorm en te laat groei.

Wanneer jy toelaat dat die TV-nuus jou ontstel en as jy na al die doemprofete op sosiale media luister, sál jy bang en bekommerd raak. Sodra dít gebeur, begin jou geloof wankel. Besluit sommer vandag om nie hierdie dinge jou fokus te maak nie. Neem notisie daarvan en doen wat jy kan daaraan, maar moenie dat vrees jou lamlê nie. Verander jou vrees in fokus op Hom, dan kan jy ook op water loop!

As jy ’n WhatsApp-boodskap probeer tik terwyl jy bestuur, gaan jy baie maklik ’n ongeluk veroorsaak. Dieselfde beginsel geld ook wanneer jy met jou negatiewe omstandighede gekonfronteer word. Soos jy jou oë op die pad moet hou wanneer jy bestuur, so moet jy op jou lewenspad jou oë op die regte Persoon hou. Dan sal jy veilig wees.

Jy kry altyd nog ’n kans, dis ’n belofte!

Die wonder is dat jou Pa jou nie los as jy droogmaak nie. Jy kry altyd nog ’n kans. Kom ek herinner jou net gou weer aan wie jy nou eintlik is: Jy is kind van die Lewende God. Jy is ’n erfgenaam van die koninkryk. Wow!

Die lewe neem maar sy loop met ons almal. Daar is goeie tye en slegte tye. Daar is natuurlik glad nie iets soos toeval nie. Jy sal wel in jou lewe baie “Godsvallighede” raaksien as jy mooi kyk. Die kere toe jy weer moed gekry het om aan te gaan, of toe jou verleentheid omskep is in ’n geleentheid.

Net soos Jesus vir Petrus gebid het, so bid Hy vir my en jou. Sjoe, is dit nie merkwaardig nie? Petrus sou eers later besef dat wat hom deurgedra het, nie sy toewyding, beloftes of gebede aan Jesus was nie, maar andersom!

God wil jou gebruik soos jy is, waar jy is. So, staan op en vergeet van die foute wat jy in die verlede gemaak het. Moenie dat jou omstandighede jou definieer nie. Styg uit en maak ’n verskil, sommer net daar in jou klein kringetjie. Jy sal sien hoe die rimpelings van jou positiewe optrede almal om jou – én jouself – verander. Jou omstandighede sal dalk nog dieselfde bly, maar jý sal anders wees!

Liesel Krause-Wiid is ’n bekende predikant en skrywer wat graag God se grootheid en goedheid in alle omstandighede raaksien en ook wat Sy doel daarmee is.