Moenie deur goddeloosheid beïnvloed word nie

Het jy al ooit gesien dat mense wat baie tyd saam deurbring, dikwels dieselfde maniere van spraak, mannerismes en uitdrukkings het?

Mense het die vermoë om dié rondom hulle te beïnvloed. Somtyds is dit goed, en somtyds is dit nie ter sake nie. Maar somtyds is daar mense wat ons moet vermy omdat hulle invloed geestelik gevaarlik is.

Selfs Paulus het hierdie mense teëgekom. Hulle het ongoddelike gelowe, gesindhede en gedrag in die kerk ingebring. Kom ons kyk na een van die sleutelkenmerke wat dikwels in sulke mense gevind word.

Die eerste kenmerk wat genoem word, is selfsug. Wanneer jy self die middelpunt van jou lewe is, dan maak ‘n hele klomp ander sondes woning in jou hart. Selfsugtigheid kan geldgierigheid, grootpraterigheid en verwaandheid bring (v 2). Selfsugtigheid veroorsaak dat mense beledigend en harteloos kan wees (v 3), met min of geen ontsag vir ander nie.

Maar die slegste is dat daar ‘n uiterlike skyn van godsdiens is (v 5). Hulle weet wat die regte dinge is om te sê op ‘n Sondag of in ‘n groep van Christene. Hulle vou hulself toe in ‘n kleed van goddelikheid, maar onder dit is daar verrotting. Hulle sê vinnig ander sleg, skinder en kritiseer. Daar is ‘n tekort aan selfbeheer in hulle spraak en in hulle gedrag. En in die meeste gevalle, is hulle nie oortuig dat wat hulle doen, verkeerd is nie.

Paulus vertel vir Timoteus en vir ons dat ons nie met hierdie soorte mense moet assosieër nie. Hy sê NIE dat ons ongoddelike mense buite die kerk moet vermy nie. Jesus het saam met sommige van die slegste sondaars geëet en tyd deurgebring. Hy het liefde en welwillendheid aan hulle bewys, hy het sonde, “sonde” genoem, maar altyd gewys na vergifnis. Dit beteken dat ons met die nie-Christene rondom ons sal en moet assosieër, sodat ons hulle kan liefhê, en hulle die genade bied wat God in Christus aanbied.

Wat Paulus wel sê, is dat ons versigtig moet wees om te assosieër met diegene wat hulleself “Christene” noem, maar wie se lewens die Woord van God weerspreek, en ‘n bespotting van Sy Woord maak deur dít wat God sonde noem, te ignoreer.

Vir jou en my beteken dit dat ons sterk moet wees. Ons moet sterk wees in wat ons glo en hoekom ons dit glo. Ons moet sterk wees in ons oortuigings oor wat reg en verkeerd is. Ons moet sterk wees sodat ons kan opstaan vir waarheid en goedheid. Ons moet sterk wees sodat ons ander kan beïnvloed, in plaas daarvan dat ons deur ongoddelike gedrag beïnvloed word. Dit alles beteken dat ons sterk in die Here moet wees, want dit is die enigste manier hoe ons die invloed van ongoddelikheid kan weerstaan.