Moenie geld najaag nie

187

Talle mense gaan gebuk onder ’n mentaliteit van armoede en skaarsheid.

Die realiteit is egter dat ’n mens met so ’n lewensbeskouing nooit genoeg geld, geleenthede of materiële dinge sal hê nie. Dit is daarom belangrik dat ons ons uitkyk moet verander na een van genoeg en meer as genoeg.

Die mens is bedoel om ’n lewe van oorvloed te geniet. Waaraan meet jy hierdie seëninge? Die wêreld beskou welvaart as geld – eiendom en ’n stewige bankbalans.

Wanneer jy rykdom egter in ander terme benader, sal jy sien dat mense wat arm aan besittings mag wees, geestelik skatryk is. En dat sommige wat materieel welgesteld is, geestelik bankrot is. Hulle bestee soveel tyd daaraan om geld, plesier en mag na te jaag dat hulle die ware kennis, geluk en passie misloop.

Daar is ook talle mense wat wag dat hulle omstandighede verander voordat hulle gelukkig gaan wees.

Deur jou uiterlike situasie te verbeter mag dit dalk lyk of dit voor die wind gaan, maar daar is geen manier dat ’n mens blywende en innerlike genoegdoening en vrede kan hê deur slegs aardse goed te besit nie.

Weelde waarborg nie vreugde en gemoedsrus nie. Die mite van koning Midas illustreer dit duidelik. Hy het geglo dat goud sy lewe perfek sou maak, maar op die ou end was dit nie genoeg nie.

Moenie wag dat jou omstandighede verander sodat jy vervuld kan wees nie. Ware geluk kom van binne.

–Lynette Beer, motiveringspreker

Kliek op voelgoed.co.za/3-minute-selfhelp vir Lynette se video- en oudioreeks.