Moenie jou doelwitte vergeet nie

0
116
Elain_Vlok.jpg

Na 10 jaar is die Mama Afrika-projek van Clover nog in volle swang. Só hou Elain Vlok dit aan die lewe.

Die Mama Afrika-projek is vanjaar 10 jaar oud. Ontmoet prof. Elain Vlok, Clover se korporatiewedienstebestuurder. Sy is die dryfkrag agter dié liefdadigheidsprojek wat vroue bemagtig.

Ek het die Mama Afrika-projek volhoubaar gemaak deur…

… tot vandag toe te hou by my oorspronklike doelwit met die projek. Dit is om vir alle mamas vaardighede, opleiding en benodigdhede te gee sodat hulle selfonderhoudend kan wees. Ek het nooit my liefde en passie vir hierdie werk verloor nie, want daar is groot nood daar buite. Dis wonderlik om ’n verskil te maak.

Die uitdagings daarvan om ’n liefdadigheidprojek aan te pak…

… is dat jy nie vooraf ’n idee het waar om te begin of wat gaan werk nie. Maar moet nooit jou gut feeling geringskat nie. Gewone common sense is al wat nodig is. Waar ’n wil is, is daar mos ’n weg. Dis natuurlik as jy entoesiasme, geloof en hope energie het! Wees maar altyd bedag op slaggate en mense wat jou wil uitbuit.

Die Mama Afrika-projek is op lang termyn suksesvol omdat…

… ons nog bykans dieselfde span het wat reg van die begin af saamgewerk het. Ons werk met vroue, wat dit makliker maak, want ons verstaan en respekteer mekaar. “Lead the way you want to be followed” is hoe ons werk, soos mama Florence Nyakiso altyd sê.

Een van die hartroerendste oomblikke nog ooit was…

… toe ek een van die Khayelitsha-mamas besoek het. Sy het ’n tipe hospies. Terwyl ek in die vertrek gestaan het, het een van haar pasiënte gesterf. Ek kry nou nog ’n knop in my keel as ek aan haar reaksie dink. Dan was daar ook die baba wat onophoudelik gehuil het tot jy hom optel…en dan besef jy dat hy net vasgehou wil word.

Die grootste hindernisse om met Mama Afrika te oorkom is…

… wanneer die persone wat deur die projek opgelei is, weer op straat beland en nie by die projekte bly nie. En soms ’n Clover Mama Afrika wat ’n versorger het wat nie behoorlik na die waardevolle toerusting omsien nie. Dit gebeur selde, maar is dan ’n groot uitdaging om te hanteer.

Die geheim van ’n suksesvolle niewinsgewende organisasie is…

… ’n oopdeurbeleid en dat jy 24/7 beskikbaar en bereikbaar moet wees. Jy moet werklik omgee vir ander mense en empatie met hulle en hulle omstandighede hê. Terselfdertyd moet jy op jou regte staan, anders loop mense bo-oor jou. Dis soos om sterk en sag te wees gelyktydig. Natuurlik kan jy dit nie sonder formidabele opleiers en projekvennote doen nie.

Die belangrikste waardes in my professionele lewe is…

… eerlikheid en hardwerkendheid, en jy moet gelukkig wees in jou werk. Jy kan dit nie doen net omdat jy dit moet doen nie, want dan gaan die werk jou doodmaak. Verandering is die kern van die saak en jy moet bereid wees om saam met die mamas te leer. Leer, leer en nogmaals leer.