Moenie jou lewensdeure oopskop nie

Tyd vir TV en fliek het ek nie baie nie, maar die ander aand vang my oog weer hoe een of ander karakter op die skerm ‘n deur skouer dat mens net skaniere sien trek.

Ander kere skop hulle dit mos sommer so woerts-warts oop en storm binne.

Persoonlik het ek nog nooit probeer om ‘n deur oop te skouer of te skop nie. ‘n Mens kan mos seerkry in die proses! Maar hoeveel keer probeer ons nie om deure in ons lewens oop te forseer nie? Het dit dalk iets te doen met die kitsoplossingstyd waarin ons leef? ‘n Mens kan mos alles van kos tot raad in ‘n kits kry deesdae. Dit beteken ook dat ons baie keer ook genoop voel om kitsbesluite te neem. Partykeer met rampspoedige gevolge. Soms kan die “regte” keuse op die verkeerde tyd dinge lelik laat skeefdraai.

Hoe weet jy dan wanneer en wat om te besluit? Wel, daar is drie dinge wat ek altyd in berekening bring alvorens ek ‘n groot besluit neem. Dalk moet jy dit ook probeer. Ten eerste, vra jouself of dit wat jy nou wil doen strook met die Bybel? Bid oor die saak. Tweedens vra raad en leiding by ‘n kundige. As jy bv. jou eie besigheid wil begin, praat met iemand wat dit reeds suksesvol gedoen het. Lees en leer soveel as moontlik oor al die voordele, nadele, slaggate, suksesse en mislukkings van ander mense wat reeds die paadjie gestap het. Sodoende kan jy ‘n ingeligte besluit neem. Die belangrikste van alles, neem slegs ‘n besluit as jy vrede in jou hart het daaroor. En ja, wees geduldig, onthou die Prediker leer ons daar is ‘n tyd vir alles in die lewe. Soms moet ons in geloof wag voordat ons die keuses maak.

Vorige artikelDie verhaal van Tanya Moolman: Liefde Verpersoonlik
Volgende artikelOnnodige uitgawes
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.