Moenie jouself te hoog ag nie!

0
435

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het glo verlede week in ‘n bespreking oor immigrasie na Afrika-lande as “sh*t-hole lande” verwys.

Hy het later ontken dat hy dit so kras uitgedruk het, maar sy verduideliking gaan nie so goed af nie. Die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika moet ook vandag aan die Suid-Afrikaanse regering verduidelik wat die Amerikaanse president met sy uitspraak bedoel het, en hoekom hy so sê. Dit is natuurlik nie bloot die Afrika-lande self wat so sleggesê word nie, maar die bedoeling is dat dit ook van toepassing is op die inwoners van hierdie lande, insluitende op ons hier in Suid-Afrika. Hierdie opmerking is juis gemaak toe daar oor immigrasie gepraat is.

Sulke beledigings sê meer van die persoon wat dit maak, as van die persone oor wie dit gemaak word. Trump is ‘n onverantwoordelike en arrogante persoon wat Amerika nog groot skade gaan berokken.

Paulus skryf in Romeine 12:3 soos volg: “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Hierdie beginsel moet elkeen van ons koester, naamlik om nooit ooit te dink dat ek beter is as ander nie. Intussen verwerp ons Trump se kommentaar met die minagting wat dit verdien!