Moenie ‘n goeie saak bederf nie

0
24
cirus.png

Emosies is op die oomblik gaande oor die gebruik van wilde diere in sirkusse nadat daar ‘n program op TV was wat gewys het hoe olifante deur ‘n olifanthanteerder geslaan word. Omtrent 200 diereregte-aktiviste het toe die afgelope naweek in Centurion by die Brain Boswell-sirkus betoog. Die betogers het egter nie toestemming gehad om te betoog op die perseel waar die sirkus tans staan nie. Die koerantberig vertel egter dat van die betogers Boswell in kru taal uitgeskel het. Volgens die koerant het ‘n damesbetoger ook die persoon wat die sirkusgangers gewys het waar om te parkeer, twee keer geskop. Blykbaar het sy gedink dat hierdie persoon mnr. Boswell self was. Sy is toe glo in hegtenis geneem.

Die betogers se saak het meriete, maar hulle optrede laat veel te wense oor. Dit maak dat ‘n mens hulle nie wil ondersteun nie, want dan voel dit vir jou of jy jou ook met hulle optrede vereenselwig. Dit gebeur nogal baiekeer dat mense ‘n billike saak het, maar dan verdedig hulle dit op so ‘n onbetaamlike wyse, dat hulle steun verloor. Daarom is dit so belangrik dat wanneer jy in ‘n winkel of by ‘n garage(!) of by ‘n kasregister jou saak wil stel, dat jy dit steeds fatsoenlik sal doen.

Ek wed jou jy het nog nie hierdie vers in Matteus 12:19 gelees nie. 🙂 Matteus sê daar van Jesus: Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. Tog het Jesus impak gehad. ‘n Mens hoef nie te vloek en te skel om jou punt te maak nie.