Moenie ’n perfekte ma probeer wees nie

793

Lika Berning voel soms ontnugter en oorweldig as ’n ouer. Om ’n onvolmaakte ma te wees is egter so goed soos dit ooit sal wees.

Aan die begin het die gedagte om ’n ma te word my baie opgewonde gemaak. Maar toe Hugo op pad was en ek sy hartklop in my buik hoor en dink aan wat die geboorte alles van my gaan verg, het dit my bang gemaak.

Alle eerste ma’s is seker senuweeagtig oorgeboorte gee. Dit het my baie bekommerd gemaak; sou ek dit regkry om ’n goeie ma te wees? Sou ons ons kind alles kan bied wat nodig is en het ons genoeg geld en genoeg kennis van die lewe? Dit was ’n moeilike tyd. Ons het erg oorweldig gevoel.

Die waarheid is egter dat nie een van ons dit regkry om ’n perfekte ouer te wees nie. Deel van die probleem is dat ons probeer om perfek te wees of dat ons voel daar word van ons verwag om’n sekere tipe ouer te wees. Ek het byvoorbeeld aan die begin gedink dat my kind nooit ’n woede-uitbarsting in die winkel sal kry nie, dat my huis altyd netjies sal wees en dat my kinders altyd mooi aangetrek sal wees met skoon gesiggies. Nou ja, vandag is my huis onderstebo en my kinders het droë jogurt en piesang op hulle wangetjies lank na ontbyt verby is!

Ons as ouers gaan heeltyd foute maak, dis maar deel van menswees. Al wat jy kan doen, is om in die aand mooi te dink oor hoe jy dinge die volgende dag beter kan doen. Ongelukkig maak die media dit nie juis vir ons makliker nie, want die wêreld is vol van allerhande beelde van perfekte maâ’s. Hulle het perfekte skoon klere aan en daar is nie eers een stukkie baba-opgooi iewers op hulle te sien nie. Daar word ’n waanbeeld geskep dat daar ouers is wie se stootwaentjies altyd mooi netjies is of wie se baba se poefdoeke nie sleg ruik nie. Nee wat! Dis nie nodig om jou te steur aan ander mense en hoe hulle dit doen nie.

Dit beteken nie dat ek nie dikwels steeds onseker voel nie. Daar was al ander vierjarige seuntjies wat soet sit en boekies lees terwyl myne ’n ander kind met ’n speelgoedkarretjie oor die kop slaan. Dit laat my skaam kry, want my kinders is regtig wild. Dan besef ek weer dat daar tog “perfection in the imperfection” is. Dis nie die moeite werd om te vergelyk nie, want elke ma vind uiteindelik haar eie manier van dinge doen.

Ek het my eie hart gevolg met die geboorte van ons kinders; om natuurlik geboorte te kon gee was ’n ongelooflik bemagtigende oomblik. Dis vandag ook vir my belangrik om my kinders so natuurlik moontlik groot te maak. Ons eet gesond en ek glo dat sommer baie drukkies, soene en styf vashou teen Mamma ook iets is wat help teen kwale soos koors.

Ons is so gelukkig om ook baie tyd saam in die natuur te kan deurbring, op die strand en die berg! Baie tyd saam het vir seker ’n uitwerking op die kinders se gedrag, gesondheid en gemoed. Hulle spandeer ook baie tyd saam met Mamma en Pappa aan tafel en saans lees ons saam stories. Hulle is net vir ’n kort rukkie klein; daarom wil ons by hulle wees, vir hulle bid en baie liefde wys.

My derde kind is pas gebore en ek is so verskriklik gelukkig. Ek weet nou hoe om al hierdie kosbare oomblikke te waardeer en soveel moontlik daarvan te probeer inneem. Vir my is ma-wees ’n absolute eer en’n voorreg.