Moenie oordeel op net ‘n seisoen nie…

Wat ‘n wonderlike openbaring dat die Here ‘n God van seisoene is.  Dit gee mens soveel hoop en moed om te weet, selfs al is jy nou in ‘n winter seisoen is lente en somer op pad!

Maak nie saak hoe sleg dit gaan nie, as jy Syne is sal die wiel weer draai, Prediker 3 belowe mos daar is ‘n spesifieke tyd vir alles onder die son, die goeie en die slegte.

Maar net so verlig as wat ons maar kan wees as gevolg van hierdie wete vir ons eie lewe, net so is dit ‘n belangrike openbaring as ons kom by die om ons.  Elke liewe mens het sy eie pakkie, en is op hierdie oomblik in ‘n spesifieke seisoen.  Soms kyk ons na mense in ‘n haglike seisoen, en ons besluit ons weet wie en wat hulle is, en behandel hulle soos ons dan dink hulle verdien.

Maar dink net, Koning Dawid, was eers ‘n vergete skaapwagter, toe ‘n nasionale held, toe ‘n gesogte krimineel, toe Koning, toe egbreukpleger en moordenaar, toe weer desperate voortvlugtige, en uiteindelik Pa van die wysste koning van alle tye.  Hoe is dit vir op en af?  En na dit alles verwys God self na hom as ‘n man na Sy hart?

Rut was eers die hartseer weduwee, toe veragte buitestander en so arm sy moes in Boas se veld vat wat sy kon kry. Toe word sy die eienares van daardie einste veld en Boas se gesiene vrou.

Wat van Mordegai? Gerespekteer as Woordkenner, toe slagoffer van die koning se vrousoek, toe aan die ontvangkant van ‘n moordopdrag, in sak en as buite die koning se paleis, en toe… tweede in bevel in die paleis, aan die sy van sy niggie, die koningin.

Sê nou ons het Dawid geken in sy egbreuk dae? Of Rut, vuil en honger agter in die veld, of Mordegai in sak en as aan die huil – en ons het nie die wysheid van nakennis gehad nie.  Dan wonder ek hoe ons hulle sou geoordeel het.  En op watter seën ons vandag uitmis a.g.v. dieselfde onkunde?