Moenie opgee oor een slegte seisoen nie

2932

Geen tuin is altyd groen en geen boom het altyd blare nie. Seisoene bring verandering wat nie altyd lekker is nie, maar dis broodnodig.

Geen huwelik beleef net bloeisels en blomme nie. Alle huwelike gaan deur seisoene, maar die bestes oorleef nie net die seisoen nie – hulle kan getuig van orkane, vloedgolwe en tornado’s wat amper alles vernietig het. Dit klink dalk soos ʼn cliché, maar gras bly nou maar eenmaal langer groen as daar moeite gedoen word om dit te voed en water te gee.

Die goeie en slegte is deel van die huweliksreis

Die nugter (en baie belangrike) perspektief is om te weet dat jy elke dag kan water gee en kompos gooi, maar jy spring steeds nie die winter vry nie. Die enigste gras wat nooit doodgaan of vaal lyk nie, is kunsgras. Weet daarom vandag dat jou huwelik doodnormaal is as jy nie elke dag maanskyn en rose ervaar nie.

Baie huweliksmaats kan getuig van tye waarin hulle dood gevoel het by mekaar. Daar was geen hoop en absoluut geen tekens van enige lentebloeisels nie. Die mense wat egter snap dat dit deel van die huweliksreis is, veg deur hierdie tyd. Hulle wag biddend en hardwerkend vir die seisoen om te wissel.

Hulle vervloek nie die droogte nie – hulle kies om iets daaruit te leer. Hulle raak nie beangs as daar geen vrug is nie – hulle snoei met wysheid om gereed te wees vir die volgende seisoen.

Hou aan veg, al is dit seer en moeisaam

Ek glo met my hele hart dat die meeste huwelike wat stormwaters beleef, gered kan word. Mense gee deesdae eenvoudig te vinnig op. Hulle wil ’n ledemaat amputeer terwyl genesing of verbetering so maklik kan wees soos ’n paar besoeke aan die fisioterapeut.

Miskien lees jou nou hier en dink aan al jou honderde besoeke aan beraders en die talle dinge wat jy al probeer het om jou huwelik te red. Ja, dit vat twee mense om ’n huwelik te red – maar dit vra net een om aan te hou veg tot die einde.

Dit verg dat ons soms ’n eerlike kykie moet gaan gee of die kompos regtig die regte ding vir ons spesifieke gras is. Om ’n tuin te verbeter verg soms dat ons sekere struike met wortel en tak moet uitgrawe en die grond omspit. Dis harde werk. Dis soms ’n seer en moeisame proses. Partykeer neem die seisoen jare om te draai, maar weet vandag dat dit nie help om ’n huis te verkoop bloot omdat die tuin verdroog is nie. Die volgende huis se tuin sal ook getoets word. Ons verruil een tuin vir ’n ander in die naïewe en valse hoop dat die volgende tuin nie soveel winters sal moet deurstaan nie.

Vind hoop in hoe ver julle al gekom het

Die groot genade is sigbaar wanneer ons deur hierdie seisoene leef en heel aan die ander kant uitkom – dalk anders, maar steeds saam. Die getuienis lê daarin dat ons vasgebyt het en bereid was om aan te hou probeer. ’n Jong tuin lyk vars en wys potensiaal. ’n Ouer tuin het egter diepte in sy wortels. So ’n tuin het baie seisoene gesien kom en gaan. Dit was geraak deur koue, droogte en ryp, maar het baie blomme en kleure om van te praat.

Miskien is die groot geheim om stil te raak as die seisoen draai. Om nie die oplossing uit te werk en bossies uit te haal, te snoei of alles te wil versuip in water nie. Ons dien ’n Vader van seisoene. Op die regte tyd sal gebeur wat belowe is.

Ná elke nag kom daar genadiglik weer ʼn sonsopkoms. Ná elke winter is daar nuwe groei en lewe. Dink vir ’n oomblik wat jy al geleer het en hoeveel sterker jy al geword het. Dink aan al die wysheid wat jy het om te deel met mense wat sukkel om hulle eie seisoen te oorleef. Vind hoop, want die groot Tuinier is besig om ’n nuwe tuin uit te lê – een waarin jou nageslag met dankbaarheid nog in die skadu van die welige bome kan sit.

Gretha Wiid, huwelikskenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Gretha.