Moenie tou opgooi nie – wees vasberade

0
18
Susan Hume

Susan Hume is ‘n kunstenaar en bly in  Kommetjie in Kaapstad. Sy het al talle kere probeer om van haar skilderye uit te stal by plaaslike kunsgalerye, maar niemand het belang gestel nie.

Susan Hume is ‘n kunstenaar en bly in  Kommetjie in Kaapstad. Sy het al talle kere probeer om van haar skilderye uit te stal by plaaslike kunsgalerye, maar niemand het belang gestel nie.

Toe plaas sy foto’s daarvan op haar webtuiste, en skielik was daar talle navrae oor haar kunswerke. Iemand stel toe voor dat sy van haar skeppings aan die Louvre in Parys voorlê. Sy het twee gestuur, en een is aanvaar en word tans in die Louvre uitgestal. Haar werk is teen €5000 ook een van die duurste skilderye wat tans daar uitgestal word. Die prys word deur kenners in die Louvre bepaal. In ʼn onderhoud met Susan Hume het sy gesê: “Hulle (die plaaslike kunsgalerye) het opgegee met my. Maar al wat ek weet, is jy moet jouself wees, glo in God en vertrou. En natuurlik, verf net vir jouself!”

Dit is ʼn pragtige verhaal van iemand wat nie moed opgegee het nie. Sy het vasgebyt en op die oue einde wonderlike sukses gesmaak.

Jesus vertel vir ons in Lukas 18 ʼn gelykenis van ʼn weduwee wat ook nie “nee” vir ʼn antwoord gevat het nie. Sy het absoluut net aangehou om haar saak by ʼn onregverdige regter te stel. Lukas sê dat “Jesus hierdie gelykenis vertel het om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.” Ook in ons gebedslewe gooi ons nie sommer tou op nie. Jesus prys mense wat bereid is om volhardend te bid.