Moet die doodstraf ingestel word?

0
950
tronkstraf.jpg

Menige mense voel dat die doodstraf geweld in Suid-Afrika sal hokslaan. Twee kenners gee hul opinies.

“Ja, die doodstraf sal ongetwyfeld ’n veiliger omgewing vir almal skep.”

cr_snymand.jpgProf. CR Snyman
Emeritusprofessor in strafreg by Unisa en skrywer van ’n bekende handboek oor die Suid-Afrikaanse strafreg

Die doel van die doodstraf in enige samelewing is om as ’n afskrikmiddel vir voornemende moordenaars te dien. Dit verwyder ook moordenaars uit die samelewing en druk die samelewing se afkeer en veroordeling van moord uit. Wanneer ’n moordenaar tereggestel word, voel die naasbestaandes dat die moordenaar kry wat hy of sy verdien – dat geregtigheid geskied.

Sedert die afskaffing van die doodstraf lyk die misdaadsituasie in ons land baie slegter. Veral vroue voel onveilig. Jy is heeltyd bang iemand oorval jou, selfs tuis, en doen jou gesin skade aan. Dink byvoorbeeld hoe kinders ’n geslag of wat gelede nog vrylik kon rondbeweeg en skool toe stap. Nou kan niemand dit meer met gemoedsrus doen nie.

Voordat die doodstraf afgeskaf is, is daar gemiddeld omtrent 7 000 mense per jaar in ons land vermoor. Dit is nou meer as twee keer soveel – 16 000! Daar word amper elke halfuur iemand in Suid-Afrika vermoor. Behalwe hierdie statistiek, het opnames onder die algemene publiek gewys dat die meeste mense oor alle rassegroepe heen ten gunste is van die herinstelling van die doodstraf vir moord.

Die afskaffing van die doodstraf is een van die mees merkwaardige uitsprake in die geskiedenis van ons strafregstelsel. Dit het ook die mees katastrofiese gevolge van enige uitspraak op ons samelewing gehad. Selde indien ooit sal jy ʼn uitspraak kry wat presies die teenoorgestelde bereik het as wat die hof beoog het.

Wat die hof probeer bereik het, was om die reg op lewe en die waarde van die menslike lewe te beskerm en uit te bou. Daar is geredeneer dat die doodstraf inbreuk maak op die reg op lewe, die reg op waardigheid en die reg om nie op ’n onmenslike of vernederende manier behandel of gestraf te word nie. Maar nou word die moordenaar se lewe gespaar terwyl die slagoffer met sy of haar lewe moes boet – en dit is in stryd met die reg op gelykheid.

Lewenslange tronkstraf is ook glad nie so ’n effektiewe afskrikmiddel soos die doodstraf nie. Na 25 jaar – en in sommige gevalle 15 jaar – kom veroordeeldes in aanmerking vir parool, wat dikwels toegestaan word.

’n Strafregstelsel wat voorgee dat die reg op lewe die hoogste goed is, maar wat in die praktyk eindig met een van die hoogste pro rata-moordsyfers (en misdaadsyfers in die algemeen) ter wêreld, is ’n siek stelsel. Die waarde van ’n lewe in ons land was nog nooit laer as sedert die invoering van die “reg op lewe” nie.

“Nee, die doodstraf is nie die towerwoord wat alles skielik gaan regmaak nie.”

chris_jones.jpgDr. Chris Jones
Teoloog by die Universiteit van Stellenbosch

Doodstraf speel nie die rol wat mense dink nie. Baie mense reken die doodstraf is die antwoord op ’n land se hoë moordsyfer. Baie Suid-Afrikaners meen byvoorbeeld die getal moorde sal drasties afneem as die doodstraf heringestel word. Maar nêrens in die wêreld is goeie wetenskaplike navorsing gedoen wat bewys dat doodstraf mense afskrik om moord te pleeg nie.

Ek het ook in Suid-Afrikaanse tronke onder gevonnisde moordenaars hieroor navorsing gedoen, en presies dieselfde gevind. Uit die 467 moordenaars wat ek ondervra het, het 76% gesê die doodstraf sou hulle nie afgeskrik het om moord te pleeg nie. Van die oorblywende 24% was ’n klomp geneig om ook só te dink, maar hulle was nie daarvan oortuig nie.

’n Groot persentasie van die gevangenes met wie ek gepraat het, was onder die invloed van alkohol en of dwelms toe hulle die moord gepleeg het. Baie het ook nie die moord beplan nie – dit het impulsief gebeur. So, daar was nie kans om na te dink oor die gevolge van wat hulle doen nie.

Ons leef in ’n buitengewoon gewelddadige samelewing, jy móét deurentyd op jou hoede wees. Die doodstraf is egter nie die towerwoord wat alles skielik gaan reg maak nie. Ons het ’n holistiese benadering nodig om ons land te genees. Herstellende geregtigheid, wat beide die oortreder en die slagoffer in ag neem met ’n groter fokus op versoening, gaan baie beter gevolge hê as blote straffende geregtigheid – dit beteken nie daar moenie straf wees nie! Maar meer navorsing is nodig oor hoekom daar soveel gewelddadigheid in ons land is en hoe die morele weefsel van ons mense herstel kan word. Die probleem van alkohol- en dwelmmisbruik moet aanpak word asook dié van disfunksionele gesinne, skole en buurte.

Doodstraf berus op wraak, en geregtigheid kan nie op wraak gegrond word nie. Die mees doeltreffende afskrikmiddel van wetteloosheid en moord is ’n effektiewe strafregstelsel. Hiervoor is die volgende drie dinge nodig: bekwaamheid, geloofwaardigheid en effektiewe kommunikasie.

  • ’n Strafregstelsel moet in staat wees om die meeste misdadigers te kan identifiseer, arresteer, vervolg en vonnis. Hiervoor het ons genoeg bronne nodig – mense asook geld.
  • Die feit dat ’n strafregstelsel potensiële oortreders waarsku dat hulle aan die pen sal ry, móét geloofwaardig wees. Die politieke wil, veral by die land se polisie, moet dit bewerkstellig.
  • Hierdie twee belangrike aspekte moet effektief gekommunikeer word aan alle potensiële misdadigers. Mense moet weet ons land het ’n effektiewe strafregstelsel en dat die oorgrote meerderheid oortreders nie gaan wegkom nie. Ons “misluk” tans wat al drie hierdie aspekte betref.

 

FORUM:
Sal jy veiliger voel as die doodstraf weer ingestel word?