Moet jy in eiendomme belê?

Eiendom is steeds een van die beleggings wat die beste presteer oor die langer termyn.

Die voordeel van eiendombeleggings is dit bring nie net vir jou ‘n maandelikse inkomste in die vorm van huurinkomste nie, maar jou kapitale belegging groei ook soos die eiendom se waarde vermeerder. Goeie eiendombeleggings wat goed bestuur word kan passiewe inkomste vir jou skep.

Om egter goeie huurders te kry en die eiendom te onderhou kan ‘n groot uitdaging wees, veral as jy vrou-alleen is. Die oplossing is om ‘n goeie, betroubare verhuringsagentskap aan te stel. Hulle sal huurders vind en goedkeur, jou huurinkomste invorder en die onderhoud van die eiendom bestuur. Sodoende kan dit ‘n moeitevrye belegging word. Jy gaan egter maandelikse kommissie betaal aan die agentskap wat jou huurinkomste gaan verminder, maar om sonder al daardie bykomende stres te leef, maak dit waarskynlik die moeite werd.

Bo-en-behalwe die terugbetaling op die verband, indien jy ‘n verband sou uitneem, moet jy ook die grondbelasting, sekuriteitsfooi, heffing en geboueversekering in ag neem. Dis alles addisionele uitgawes wat jy gaan moet dek en ook sodoende jou inkomste gaan verminder. Neem ook in ag dat jou huurinkomste belasbaar is. Jy kan egter meeste van die uitgawes wat gepaardgaan met die eiendom aftrek vir belasting. Op tweede of derde eiendomme gaan jy ook kapitaalwinsbelasting moet betaal op enige wins wat jy gaan maak op die eiendom as jy sou besluit om dit te verkoop.

Onthou ook dat sommige eiendomme se waarde kan verminder en jy ook verliese kan maak. Maak dus seker dat jy in ‘n goeie ligging koop; hoe die toekomsplanne vir die omgewing jou eiendom kan beïnvloed; dat die eiendom in ‘n goeie toestand is en nie groot uitgawes gaan vereis om dit leefbaar te maak nie en dat jy nie oorkapitaliseer met verbeterings wat jy wil aanbring nie.

‘n Groot voordeel van eiendombeleggings is dat iemand anders jou eiendom vir jou betaal en jou dus help om welvaart vir jouself te skep. Om eiendombeleggings as deel van jou belegginsportefeulje te hê, kan ook baie help met jou aftredebeplanning. Jy besit dus ‘n bate wat maandelikse inkomste vir jou kan genereer tydens aftrede. Gaan doen gerus ‘n paar sommetjies om te bepaal hoe eiendombeleggings in jou beleggingsportefeule en skepping van welvaart kan inpas.

Vorige artikelDie regte besluit
Volgende artikelTotaal oorgelewer
Blogger - Ronel Jooste
Ronel Jooste is ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester met meer as ‘n dekade se korporatiewe ervaring in die bank, versekering en beleggingsindustrieë. Huidiglik het sy haar eie finansiële welstand maatskappy genaamd FinanciallyFiTLife. As finansiële coach en konsultant help sy mense met hulle persoonlike finansies; besighede met hulle besigheidsfinansies en bied ook werkswinkels en finansiële welstandprogramme aan. Ronel het haar eie finansiële geselsprogram op All-Time Radio; sy skryf graag artikels vir verskeie publikasies asook haar eie blog; en tree as spreker op by geleenthede waar sy haar passie vir finansiële fiksheid deel. Saam met haar suster besit sy die PhysEQFiT Gastehuis en privaat gym in Centurion. Ronel is ‘n fiksheidsfanatikus en hardloop, gym, gholf en fietsry is deel van haar daaglikse leefstyl. Haar droom is om mense te inspireer om ‘n gesonde, aktiewe, gelukkige en finansieël welvarende leefstyl te leef. Besoek Ronel se webtuiste www.financiallyfitlife.co.za vir meer blogs, hulpmiddels en hoe Ronel jou kan help met persoonlike of besigheidsfinansies.