Motivering- Die dryfkrag binne-in jou

0
46
selfhelp_issues.jpg

Motivering is ’n magiese woord. Dis iets waarna ons almal strewe. Mense sal enigiets doen om gemotiveerd te wees en te bly. Hulle lees boeke, woon praatjies by en luister na motiveringsprekers om dit reg te kry. Maar daar ís maniere wat jy jouself gemotiveerd kan hou.

Motivering IS …

  • Motivering beteken om te beweeg. Dit is afgelei van die Latynse woord movere.
  • Motivering is dus gedrag in aksie. Jy moet doen en nie net droom nie, jy moet in beweging kom. Motivering is ook die motief waarom jy iets doen.
     

Motivering IS NIE …

  • Dis nie ewigdurend nie, maar moet gedurig aan die brand gehou word omdat dit ‘opgebruik’ word.
  • Motivering is nie effektief as dit van buite kom nie – die diepste, betroubare motivering is dit wat van binne jou kom.
     

Skep NUWE MOTIVEERDERS

Dit is goed om van tyd tot tyd jou lewe in heroorweging te neem:

  • In watter areas voel jy moedeloos en lus vir niks?
  • Hoe lank het jy al ’n sekere doel, maar is nie in staat om dit deur te voer nie?

As jy nie opgewonde is om jou doel na te jaag nie, moet jy miskien nuwe motiveerders inbou. As jy vir jare al sê jy wil gewig verloor en jy het dit nog nie reggekry nie, skep vir jouself motiveerders. Kry vriendinne wat saam met jou op ’n gesonde eetplan sal gaan en oefen of kry ’n realistiese datum en geleentheid as motivering. Om te doen, moet jy opgewonde wees om by die eindpunt uit te kom.

Begin VAN VOOR AF

As niks vir jou werk nie, is dit goed om van voor af te begin. Heroorweeg wat jou doelwitte is, heroorweeg hoe jy die doelwitte wil bereik en indien nodig, kry nuwe doelwitte. As jy elke oggend opstaan met geen lus vir die dag nie, moet jy aanvaar dat verandering nodig is. Dan moet jy weet dis tyd om ’n nuwe hoofstuk te skryf.

Dis ELKE DAG nodig

Zig Ziglar, ’n motiveringspreker is deur iemand gekonfronteer met die stelling dat hy ’n Yes-man is. “Jy kry mense opgewonde en positief en almal skree ‘ja! Ek glo in myself’, as jy hulle toespreek. Sodra jy weg is val alles weer plat en gaan alles terug na die ou, gewone patrone.”

Sy antwoord was dat motivering iets is wat elke dag moet gebeur, hetsy deur iemand van buite of deur die individu self. “Ons eet elke dag en ons het nie ’n probleem daarmee nie, net soos kos ons daagliks van energie voorsien, net so is motivering ons daaglikse petrol om voort te gaan.”

Dis ’n EMOSIE

Onthou, motivering is ’n emosie. As jy positief en opgewonde is oor dinge in jou lewe, sal jy elke dag opspring en bly wees oor die nuwe dag, alles sal ekstra mooi lyk en jy sal ’n inspirasie vir ander wees. Jy moet hierdie emosie dus gesond en lewenskragtig hou!

Kyk jou probleme IN DIE OË

Iemand wat vir jare reeds oorgewig was, vertel dat sy na haar kinders se geboortes bloot net te besig en meestal te moeg was om aandag aan haarself te gee. “Ek het geweet ek tel gewig op en ek wou graag iets daaraan doen, maar die motivering het ontbreek. Ek was nou al ook so oorgewig dat ek nie meer geweet het waar om te begin om weer my ou self te word nie.

“Ek was altyd ongelukkig en dit het oorgespoel na my gesin. Toe ek eendag weer sonder rede op my seun begin skree, omdat ek eintlik ongelukkig was met myself, en ek in sy oë kyk, het ek besef dat ek besig was om my gesin te vernietig.”

Identifiseer ’n DOELWIT

Sy het op die plek besluit om haar lewe te verander. “Ek het vir myself doelwitte neergeskryf, ’n dieetkundige gaan sien en volhard. Dit was nie elke dag maklik nie, maar die trots op my gesin se gesigte toe ek die eerste 10 kg verloor het, het alles die moeite werd gemaak.” Haar gesin se ondersteuning en bewondering was haar motivering om te volhard. “Vandag is ek weer gelukkig, my man is weer verlief op my en my kinders spog met hulle ma.”

Jy moet ’n VISIE hê

Om gemotiveerd te wees moet jy ’n motief hê, want ’n motief is ’n rede om op te tree. Sonder ’n rede om te lewe of aan te gaan, is jou lewe leeg. Jy moet besluit hoe moet die prent van jou lewe lyk as jy aan die einde daarvan kom; wat die einde van jou movie moet wees. Dit sal jou help om gemotiveerd te bly totdat jy slaag.

7 AKSIE-STAPPE

Volg die stappe om weer gemotiveerd te raak.

  1. Begin weer droom. Vra vrae soos: ‘Wat wil ek graag in die lewe bereik?’ ‘Wat is my passie?’
  2. Visualiseer hierdie droom in aksie
  3. Begin werk daaraan, gee dit ’n inspuiting deur bv. ’n kursus by te woon of te beplan hoe jy dit ’n realiteit gaan maak.
  4. Werk om resultate te kry, hoe meer resultate jy sien, hoe meer gemotiveerd sal jy raak.
  5. Dink positief. Moenie dat ander jou negatief beïnvloed nie. Glo in jouself!
  6. Beweeg vorentoe en hou jou oog op die einddoel.
  7. Hersien die stappe gereeld om jou fokus te behou.