My 16 jaar in ’n Thaise hel

0
230
thailand_tronk.jpg

Dis drie jaar sedert Vanessa Goosen (40) vrygelaat is uit Lard Yao, Thailand se mees gevreesde vrouetronk. Sy is op 21 gevonnis vir dwelmbesit. Hoe het sy die 16 jaar oorleef? Daar was net één manier …

“Kyk hoe lyk jy,” sê sy spottend. Dis een van die ander gevangenes wat so praat. “Jy’s siek en swak, maar jy dien nog steeds hierdie God van jou. Hoekom? Kyk na mý,” voeg sy dan by, vol bravade. “Ek is sterk en gesond, en ék glo nie in hom nie. Hoekom klou jy so vas aan jou geloof?”

Sy is reg. Ek lyk sleg. My hare is yl en my oë dof. My liggaam is uitgeteer en drup van die sweet. Maar ten spyte van hoe ek lyk, wéét ek waar my vertroue lê.

Agt jaar lank het ek gebid, geglo dat my aansoek om kwytskelding deur Thailand se koning goedgekeur sal word. Dit het vyf jaar geneem om al die dokumentasie bymekaar te kry. Nadat alles voltooi, betaal en ingedien is, moes ek nóg drie jaar wag vir die uitslag.

Hoeveel keer het ek Hom nie gesmeek om hierdie aansoek te laat vlot nie? Kwytskelding beteken jy kan huis toe gaan. Hoe smag ek nie daarna nie! Die groot, oop ruimtes. Die blou lug. Afrika-grond. Vryheid!

Dan, onverwags, breek die dag aan wat die tronkowerhede my inroep. My hart klop in my keel … Die tronkamptenaar vou die dokumente tydsaam oop. Emosieloos kondig sy formeel aan: “Die koning het jou kwytskelding afgekeur. Want jy is ’n dwelmgeval.” Nét dit. Die hamer in my hart mis ’n slag. My ore begin suis. Here, nee! Hoe kan dit wees?

Geen woorde kan my teleurstelling beskryf nie. “Hoe kán U dit aan my doen!” skree ek kliphard in my binneste. “Ek het U vertrou! Het my geloof en gebede dan niks beteken nie? Gaan U my net so hier los? Lewenslank? Vergete in hierdie hel?”

Daardie dag het iets in my afgeskakel. My geloof. Hoop. Ek wil nie meer bid of die Bybel lees nie. Ek wil nie eet of slaap nie. Hoe besiger ek bly, hoe minder hoef ek te dink aan hierdie verpletterende hel.

Weke lank dryf ek my liggaam om soos ’n masjien te werk en in bitterheid te verdrink . Ek sak inmekaar en word in die hospitaal wakker. My oë kan beweeg, maar die res van my liggaam lê leweloos.

[pagebreak] Ek kan nie my ledemate beweeg nie. Ook nie praat nie. Net my dowwe hartklop verklap dat ek nog leef.

Die dokter diagnoseer erge depressie en angsaanvalle. Ek het nie geweet dat bitterheid, woede en onvergewensgesindheid die lewe uit jou kan wurg nie. Ek het teen myself gedraai en my eie grootste vyand geword. En só lê ek dag na dag roerloos in die bed. ’n Drenkeling in my eie poel negatiewe gedagtes. Stadigaan besig om te sterf.

Ek vervies my vir die vrou, ’n ander gevangene, wat bo-oor my lewelose liggaam raas: “Jy’s selfsugtig, Vanessa. Hou op om net aan jouself te dink!” Sy weet niks van my pyn nie. Sy weet niks van wat hierdie plek aan my of my familie gedoen het nie. My ma wat probeer selfmoord pleeg het omdat ek hier is … my oupa wat dood is aan ’n hartaanval nadat hy in die koerant oor my vonnis gelees het … my dogtertjie, in die tronk gebore, wat op drie van my af weggeskeur is … my suster wat in ’n inrigting beland het. Alles oor my! Hoe kan sy sê ek is selfsugtig?

Dan hoor ek hoe sy begin bid. Hardop en vol krag. Ek hoor hoe sy in die Naam van Jesus die gees van dood bestraf. Hoe sy lewe inroep. En terwyl sy bid, voel ek hoe ’n warmte deur my koue liggaam spoel. Ek hoor hoe my maag begin rommel, hoe die skakelaar wat afgesit is, weer aangeskakel word en lewe teruggee. Ek sien my dogter se gesig voor my en vir die eerste keer in ’n baie lang tyd begin ek huil.

My hart was so lank kliphard en my emosies so lank onderdruk dat die walle van my siel nou soos ’n rivier losbreek en oorstroom. Dis waar, besef ek tussen die trane deur. Ek kan nie net opgee nie. Ek moet terugveg. Ek wil terugveg. Ek wíl lewe! Een van die Psalms kom by my op: I shall not die, but live to declare the works of the Lord. Here, help my. Ek wil nie meer doodgaan nie. Ek wil vir U leef, voluit, maak nie saak hoe my omstandighede lyk nie, eggo dit in my hart.

Ek maak my oë oop en vra die vrou om my van die bed af op my knieë te help. Ek móét met die Here praat.

[pagebreak] Ek moet om vergifnis vra dat ek in Hom getwyfel het. Dat ek my vertroue op mense gestel het, in plaas van in Hom – in Sy tyd en Sý wil.

So begin my herstel in Lard Yao. Dit duur vier jaar om gesond te word, maar dis ook vier jaar van ongelooflike geestelike groei. In hierdie tyd leer die Here my wat dit regtig beteken om op Hom te vertrou. Geloof op Sý voorwaardes, nie myne nie. Hy leer my treetjie vir treetjie. Letterlik.

Ek moet van voor af oefen om my ledemate te gebruik. Vir eers is my grootste doelwit om van die bed af tot by die deur te loop. Dan om by die deur uit tot by die trappies te skuifel. Dan om tot by die volgende kamer te stap waar die vigs- en tuberkulosepasiënte lê. Dis hiér waar Hy my onvoorwaardelike liefde leer, en ook dat Hy nie onderskeid tref nie. Hy het álmal lief.

Meer as ooit tevore leef ek in Sy Woord. Elke jaar lees ek die Bybel van voor tot agter en voel hoe dit my gees voed en opbou. Ek besluit ook dat ek nooit, ooit weer my rug op Hom sal draai nie – maak nie saak hóé ek lyk of waar ek my bevind nie. Toe my medegevangene my uitlag oor hoe siek en swak ek is ten spyte van my geloof, vra ek vir God, taamlik ontsteld, of Hy gehoor het wat sy sê. Hy antwoord sag: “Jy moet jammer voel vir haar, want as jy doodgaan, weet jy waarheen jy gaan. As haar tyd aanbreek, weet sy nie.”

My gebede begin ook nou anders klink. Waar my kwytskeldingsgebed gegaan het oor wat ék wil hê, begin ek nou bid dat slegs Sy wil sal geskied. “Ek wil graag eendag huis toe gaan, maar net hoe en wanneer U wil.”

Dis agt jaar later – sestien jaar in Lard Yao – toe ek die nuus kry. Die koning het amnestie toegestaan, wat beteken dat ek oor vyf kort maande vrygelaat gaan word! Sonder dat ek ’n vinger hoef te verroer het. Geen koste, geen dokumentasie. Net guns. God se goedheid en guns oor my lewe. Elke sel in my liggaam jubel. Sy tyd het uiteindelik aangebreek. Hy het my gevorm en gepoets soos Hý my wou hê en nou is ek reg om huis toe te gaan. To declare the works of the Lord.