My beiteltjie

Thailand se Ministry of Education het aan twee van my M6 (matriek) studente beurse toegeken.

Soos die meeste dinge wat van dié militêre regering af kom, is die voorwaardes streng. Hulle moet in 2018 by die Rajhabat Universiteit in Sakon Nakhon onderwys gaan studeer, spesifiek om Engelse onderwysers te word. Soos almal in the platteland van Thailand (selfs die Thai onderwysers wat Engels onderrig), is Nutcha en Mean se Engels baie, baie basies. Die departementshoof gee my dus opdrag om ten minste een maal per week met dié twee Engels te praat.

Ek voer die opdrag graag uit – dit is twee lieflike kinders, baie entoesiasties en sommer net dierbaar. Nog voordat hulle gehoor het van die beurse, het ek in die klas vir hulle vertel van Suid-Afrika (wat vir hulle ‘n heel onbekende plek was) en my taal Afrikaans. In vergelyking met Thai, wat baie min harde klanke bevat, moet Afrikaans vir hulle fassinerend klink, en natuurlik vra hulle altyd dat ek vir hulle my “funny language” moet praat. Dit is nogal ‘n uitdaging om só te praat – met iemand wat jou nie verstaan nie, maar tog met blink ogies na elke geluid luister!

Eendag, juis omdat ek nie eintlik weet wat om te sê nie, besluit ek om vir hulle ‘n stukkie van die NP van Wyk Louw gedig “Die Beiteltjie” voor te dra. Nodeloos om te sê, die k- en kl- klanke was vir hulle fassinerend, en van toe af het hulle elke keer gevra vir die “poem about the breaking rock” (Ek vooraf vertel waaroor die gedig gaan). Ek besef eers agterna dat ‘n Afrikaans-sprekende vrou wat in die platteland van Thailand vir twee aspirant-onnies Van Wyk Louw voordra, nou nie juis ‘n alledaagse gebeurtenis is nie … en dit raak beter:

Een van die uitdagings wat ek aan myself gestel het, was om voordat ek aan die einde van my semester in Thailand huis toe kom, die Thai volkslied te ken. Nadat ek dit foneties vir myself aangeleer het, vra ek vir Nutcha en Mean om dit saam met my te sing – wat hulle met groot entoesiasme doen. Nadat hulle my dawerende applous gegee het, vra hulle dat ek vir hulle iets in my taal moet sing. Die eerste liedjie wat by my opkom, is Laurika Rauch se “Groete aan Mannetjies Roux” – en dit word toe deel van ons roetine: as ons klaar Engels gepraat het, is dit ‘n stukkie van Van Wyk Louw en dan ‘n stukkie Mannetjies Roux: darem net die koorgedeelte. Stel jou voor, daar sit ek, vaal van verlange na my land, en sing: Ag stuur ons net so ‘n bietjie reën … terwyl die Thailand se reënseisoen en Asië se tropiese moeson-storms besig is om presies dít te doen!

Kort voor lank besef die kinders dat hulle iets bekends raakhoor, en so gebeur dit dat hulle, as ek kom by …my oom op sy pla-ha-haas… hulle asems diep intrek. En dan, as ek by die laaste woordjie kom, sing hulle altwee oorverdowend saam: Aaa-frrri-kaa!

Inderdaad, Van Wyk Louw, jy was reg toe jy geskryf het oor “ ‘n bars wat van my beitel af dwarsdeur die sterre loop.”  My Afrikaanse beiteltjie ook! Dwarsdeur die sterre, tot in die oerwoud dóér in die reënwoud in noord-oos Thailand!

Ek hoop en glo Nutcha en Mean gaan oulike English teachers wees. Maar ek hoop ook dat daar iewers in hulle herinneringe ‘n klomp klankies wat klink soos ‘n beitel op ‘n rots gaan vassteek. Ek hoop ook dat hulle partykeer Laurika se liedjie sal neurie, en dan, as hulle by Afrika! kom, hoop ek, sal hulle daar ver in Asië net so vinnig aan my en my “funny language” dink.

En veral hoop ek dat onderwysers, ouers, grootmense, sommer ons almal, oral in die wêreld, sal besef presies hóé kragtig die beitels van taal, van praat en van sing is. Of ons nou gedigte voordra, liedjies sing, onderrig, grappies vertel, raas, baklei, liefdeswoordjies fluister of skinder …

Vorige artikelDroogte se water
Volgende artikelMevrou Doeminie is doodtevrede
Blogger - Christa Grobbelaar
Christa Grobbelaar is ‘n mamma van twee volwasse dogters en ‘n juffrou van honderde. Sy en haar man, Willem, is albei onderwysers. Haar onderwysloopbaan het grootliks daaruit bestaan om vir kinders Engels te leer, maar haar graad in Sielkunde het altyd handig te pas gekom. Sy het na ‘n vroeë aftrede vir een semester in Thailand gaan skoolhou en doseer nou deeltyds Afrikaans en Engels vir onderwys- en joernalistiekstudente. In Thailand het sy met ‘n blog begin as teenmiddel teen die verlange na Suid-Afrika, maar geniet dit steeds om met die blog voort te gaan. Dié persoonlike blog, Christastories, is te sien by christainthailand.wordpress.com