My beminde kom kuier!

0
33
liefde_met_passie.jpg

“Luister, daar kom die man
   wat ek liefhet!
Hy spring oor die berge,
hy wip oor die rante.
Die man wat ek liefhet,
   maak soos ’n ribbok,
soos ’n takboklam.
Kyk, daar staan hy
   agter ons huis se muur,
hy kyk by die venster in,
hy loer deur die latwerk!
Die man wat ek liefhet, praat,
   hy sê vir my:
‘Staan op, my liefling, my mooiste,
   kom na my toe!
Kyk, die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink
   oor ons land.
Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!
My duif in die klipskeure,
in die skuilplek teen die krans,
wys my jou gesig,
laat hoor my jou stem.
Jou stem is strelend,
jou gesig lieflik.’
“Vang vir ons die jakkalse,
die klein jakkalsies
wat die wingerde verniel,
ons wingerde wat al bot.
Die man wat ek liefhet, is myne,
   en ek syne.
Hy laat sy skape tussen die lelies wei
tot die aandwind begin waai
en die skaduwees lank word.
Kom terug, man wat ek liefhet,
   maak soos ’n ribbok,
soos ’n takboklam op die Beterberge.
(Hooglied 2:8-17)

Watter man sal darem nie met reusetreë aangehardloop kom as hy sulke woorde hoor nie!

Hierdie pragtige liefdeslied vorm ’n mooi eenheid. Dit begin deur te vertel van berge, ribbokke en takboklammers (v. 7), en dit sluit ook daarmee af (v. 17).

In hierdie lied dink die vrou terug aan een van die kere toe haar geliefde by haar kom kuier het. Sy is in haar ma se huis en dan, skielik, hoor sy haar beminde aankom. Hy spring sommer oor die berge en wip oor die rante (v. 8). As jy vir iemand lief is, gee dit jou mos bomenslike krag!

Die sinnetjies is kort, en ’n mens voel die opgewondenheid en afwagting aan van die man wat moet hardloop en spring om by sy beminde te kom. Hy huppel waarlik soos ’n ribbok en ’n takboklam. In die Ou Testament het die grasie, spoed en huppeling van hierdie boksoorte byna spreekwoordelik geword (kyk 2 Sam. 2:18; 1 Kron. 12:8; Jes. 35:6). Verder is die bokke ook met liefde geassosieer omdat hulle in die lente in die veld rondloop op soek na ’n maat om mee te paar. Hierdie man se passie vir sy geliefde jaag hom as ’t ware aan om by haar uit te kom.

[pagebreak]

Skielik kom die man tot stilstand (v. 9). Hy het by sy geliefde se ma se huis aangekom. Al die energie wat hy gebruik het om na haar toe te hardloop, word nou omgesit in die intensiteit waarmee hy na haar kyk. Hy kyk by die venster in van die huis waar sy beminde is, hy loer na haar deur die latwerk (v. 9). Dit was waarskynlik latte wat rondom ’n balkon gebou is sodat dit net lug deurlaat en nie die sonlig nie. Dit het gehelp om die hitte draagliker te maak. ’n Mens kon wel tussen die latte deur loer, en dis presies wat hierdie man doen. As hy haar sien, roep hy haar om na hom toe te kom.

Lente bring liefde

Nêrens in die Bybel kry ons ’n mooier lofsang oor die natuur as in die volgende verse nie (v. 11-13). In Palestina is wintertyd ook reëntyd. Nou sê die man dat die reën en koue verby is. Dit is lente en daar is orals bloeisels in die veld. In sekere gebiede in Palestina vorm die blomme vandag nog die allermooiste tapyt. Die man sê die tyd het aangebreek om te sing. ’n Mens kan selfs die tortelduiwe hoor. Hulle het natuurlik gemigreer toe die winter aangebreek het, maar met die begin van die lente het hulle teruggekom. Ook die voorvye kom al uit en die wingerde bot.

As hierdie man die natuur so haarfyn vir sy beminde beskryf, weet ’n mens dat daar liefde in die lug is. Lente was mos nog altyd die tyd van liefde. Die tyd het nou aangebreek vir hierdie paartjie om na die minnelied van die tortelduif te luister en die bloeisels van die natuur te geniet. Daarom nooi die man sy beminde weer om op te staan en na hom toe te kom (v. 13). Tennyson het mos nie verniet gesê nie: “In die lente gaan ’n jong man se hart asof vanself in die rigting van die liefde.”

Daarom nooi hierdie minnaar sy meisie om na hom toe te kom. Maar hy sê sy is soos ’n duif in die klipskeure teen die krans (v. 14). ’n Mens kan die duiwe in die kranse nie maklik in die hande kry nie. Jy sal hoogstens af en toe ’n vlugtige blik van hulle kry waar hulle in die skeure wegkruip. So bly hierdie meisie ewe koketterig net buite haar minnaar se bereik.

[pagebreak]

Daarom smeek hy dat sy tog net so af en toe vir hom haar gesiggie sal wys en haar stem sal laat hoor (v. 14). Hy sê haar stem is juis vir hom so mooi, en haar gesig is lieflik.

Maar daar is jakkalse!

In vers 15 sê die man: “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel.” Hierdie uitdrukking het niks te make met ons moderne Afrikaanse idioom nie, trouens dit het hoegenaamd niks te make met wingerdplase of die wynbedryf nie. Dit is die vrou wat hier met ’n wingerd vergelyk word (kyk ook Hoogl. 1:6; 8:12). Sy word ook as ’n boord of tuin beskryf (kyk Hoogl. 4:16): net soos ’n tuin heerlike vrugte aan ’n mens bied, so bied hierdie vrou seksuele plesiere aan haar minnaar.

In die antieke wêreld was die jakkals die simbool van ’n vrouejagter. Die woord jakkals het dus sterk seksuele konnotasies gehad. Die minnaar in Hooglied is erg bekommerd: hy sê sy wingerd is besig om te bot, dit wil sê, sy geliefde se seksualiteit is besig om te ontvou. Daarom weet hy dit is belangrik dat hy haar nou teen jongmanne moet beskerm wat haar wingerd gaan verniel. Dit beteken hierdie vrouejagters is daarop uit om die meisie haar maagdelikheid te ontneem. Sy is nog nie heeltemal in sy besit nie. Daarom moet hy haar teen die jakkalse beskerm wat haar wingerd wil verniel: hy moet haar beskerm teen jongmanne wat haar seksueel wil uitbuit voordat hy haar as net syne kan neem.

In vers 16 stel die vrou haar beminde egter gerus dat sy net aan hom behoort en dat hy net aan haar behoort. Hulle behoort dus aan mekaar. In Genesis 2:18 het God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie.” Maar wanneer ’n mens se lewe so diep en intens met dié van iemand anders verbind word, verbreek dit die eensaamheid. In hierdie saamwees vind die mens vreugde en plesier. Die man weet nou vir seker dat sy aan niemand anders behoort nie.

Skape tussen lelies

Daarna praat sy verder: “Hy laat sy skape tussen die lelies wei” (v. 16). Sommige geleerdes meen dat die lelies (of lotusblomme) waarvan sy hier praat, die simbool was van lewenskrag. Die meisie sê dus bloot dat haar liggaam bevrediging en seksuele genot aan haar beminde verskaf. Ander interpreteer die lelies as simbool van haar skaamhare.

[pagebreak]

Dan sinspeel hierdie vers baie eksplisiet op die feit dat sy haar beminde seksueel bevredig.

Die man het ’n lang tyd by haar deurgebring. Volgens die NAV het hy tot die aand by haar gebly: “tot die aandwind begin waai en die skaduwees lank word”. Volgens ander Skrifverklaarders het die man by haar oornag en dus tot die volgende oggend by haar gebly. Daarom vertaal die Good News Bible dit so: “until the morning breezes blow and the darkness disappears”.

In die konteks van die hele gedig maak dit meer sin dat die man die nag by sy beminde deurgebring het. Maar toe die sonnetjie die volgende oggend sy kop uitsteek, het hy verkas. Sy wil hom egter nog by haar hê. Daarom roep sy agter hom aan en vra dat hy moet terugkom na haar toe.

Sy vra verder dat hy moet maak “soos ’n takboklam op die Beterberge” (v. 17). Wat is die “Beterberge”? Geleerdes reken dat “Beter” die naam is van ’n plek wat bekend was vir luukse produkte soos lekkerruikkruie. Dit verwys dus na haar heerlik geparfumeerde liggaam. Ander verklaar die term “Beterberge” as haar borste of haar skaamheuwel. So ’n interpretasie is ook heeltemal moontlik. Ons het mos juis gesien dat etlike van hierdie liefdesgedigte op ’n klimaks eindig, oftewel met die seksdaad self.

In hierdie gedig lees ons dus watter heerlike herinneringe die meisie het van die keer toe haar beminde by haar in haar ouers se huis kom kuier het.

’n Lied oor die liefde

’n Christen wat hierdie liefdeslied lees, sal dadelik vra of die paartjie darem getroud was. Ons moet egter nie elke keer hierdie vraag aan die teks stel nie. Die skrywer van die boek Hooglied wil net die liefde tussen man en vrou besing. As ons by die lees van elke liefdeslied eers bekommerd wil weet of die paartjie getroud is, mis ons die mooiheid van die lied. Die bedoeling van die liedere is nie om ’n klomp voorskrifte oor die huwelik te gee nie. Dit kan ons wel in die res van die Bybel lees. In die boek Hooglied wil die skrywer net die skoonheid van die liefde besing. Kom ons geniet die boek soos die skrywer dit bedoel het.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.