My boetie, die dood en ek!

Daar is ‘n venster in my hart waardeur ek God kan sien. Die venster was eens helder; ek kon God so duidelik sien. Die glas was skoon en die ruit was heel.

En skielik kraak die venster die oggend van 7 Julie 2019. ‘n Klippie het die gebreek… ‘n asma klippie.

Die geluid het deur die gange van my hart geruk. En skielik het die uitsig wat eens so helder was, verander in ‘n spinnerak van stukkende glas en plek, plek sukkel ek om mooi te sien want my hart is aan flarde geruk.

My vredeliewende groen temperament boetie is op ouderdom 52 sonder waarskuwing uit my lewe geruk.

My boetie was ‘n skrander, skerpsinnige, spitsvondige, vriendelike en liefdevolle mens met ‘n ruim hart wat ander graag laat skaterlag het. Hy het dit ook sy doel gemaak om ander te herinner aan dit wat eweigheidswaarde het. By hom het ek ook die dieper betekenis van nederigheid en vergifnis leer.

Nou is hy weg. Wat nou van my? Ek moet aangaan met die lewe. Want dis wat ‘n mens doen as jy ‘n Christen is wat met hoop lewe. Dit vat egter nie die seer weg nie. As jy soggens opstaan, is daar ‘n krapperigheid in jou gemoed, ‘n seerplek wat jou kort-kort herinner dat dinge nie meer dieselfde is. Met elke asemhaal onthou jy hy’s weg.

Ek lees êrens dat ‘n mens anders na dood en trauma moet kyk. Ons ma’s en ons oumas het ons geleer om deur pyn te werk, klaar te maak daarmee en aan te gaan. Want dis wat goeie Christene doen. Hulle gebruik al die krag en sterkte wat mense hulle toewens, smeer dit aan en stap dapper voort.

Maar dit werk nie eintlik so nie, sê die post-moderne ghoeroes. Trauma en iets so seer soos dood gaan lê diep in jou selle. Jy kan jouself bepraat soos jy wil, maar dit maak nes in jou onderbewuste. Dis soos ‘n seer tand wat jy probeer mis borsel maar elke kort-kort vergeet jy en dan is die pyn weer daar. Wat jy moet weet, sê die ghoeroes, is dat trauma jou verhaal verander. Jou verhaal is skielik anders – vir altyd.

Jy hoef daarom nie oor dood te kom nie. Jy hoef die een wat dood is nooit te vergeet nie want hy was deel van jou en sal altyd deel van jou bly. Jy moet net, stadig en versigtig jou verhaal aanpas. Want jy het nou ‘n nuwe storie om te vertel. Dit gaan seer wees, want dis ‘n wond wat sy tyd vat om te genees. Jy moet hom sagkens in die verlede tyd inskuif, maar as jy lus het om nog met hom te praat, is dit reg so. Skryf vir hom ‘n brief – jy sal agterkom dat jy met God begin praat omdat hulle nou by dieselfde adres is. En eendag gaan ons mekaar mos weer sien!

Ek huil terwyl ek aangaan met my lewe. En ek werk aan my nuwe verhaal.

Vorige artikel[3MinuteSelfhelp OUDIO] Geld en geluk
Volgende artikel‘n Lewe van ekstra’s
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.