My gebrek word my brood en botter

0
147
juanita.png

Soos Moses voel Juanita de Villiers soms dat God haar op verkeerde plek gesit het. Maar Hy maak nie foute nie.

Soos Moses voel Juanita de Villiers soms dat God haar op verkeerde plek gesit het. Maar Hy maak nie foute nie.

Juanita de Villiers. Onthou die naam, want dié borrelende aktrise met die mooi blou oë is besig om naam te maak in ons land se televisie- en filmbedryf. Vandeesmaand is sy te sien in die hoofrol in die romantiese komedie Somerson – ’n lekker-lag fliek oor ’n getroude paartjie wie se huwelik vinnig besig is om uit te rafel. Juanita se eie huwelik is piekfyn, dankie, maar sy is nogtans vertroud met uitdagings...

Die dogtertjie wat nie kan lees en praat nie

Jare lank het ek soos Moses van die Bybel gevoel... en soms voel ek steeds so. Moses moes die Farao gaan oortuig dat hy die Israeliete moes laat trek, maar hy het nie opgewasse vir die taak gevoel nie. Sy spraakgebrek het hom gepootjie, en toe smeek hy die Here om eerder iemand anders in sy plek te gebruik.

Dié stuk in die Bybel het ek opnuut in my universiteitsjare raakgelees en besef: Maar dis ék daai. Dis hoe ek al jare lank voel! Al het ek nie ’n fisiese gebrek soos Moses wat gehakkel het nie, sukkel ek ook soms om te praat – veral as ek in ’n stresvolle situasie is. Dan sê ek my sinne verkeerd of ruil my woorde om.

Dit kom van kleins af. Al is dit nooit formeel by my gediagnoseer nie, is ek effens disleksies. Toe ek in graad 2 was, het ek spraakterapie gekry omdat ek “ban” gesê het in plaas van “bang”. Ek kon nie my tong om die ng-klank kry nie.

Op skool het ek gou die grap van die klas geword, die een wat met klaslees of mondelinge die sinne agterstevoor lees of die woorde heeltemal verkeerd uitspreek. Later het ek daaraan gewoond geraak en maar saamgelag. Wat anders kan jy doen? Maar iewers, hier diep binne, het dit tog seergemaak. Ek was selfbewus en het begin glo ek gaan dié “gebrek” nooit onder die knie kry nie. Dit het gevoel of ek eenvoudig nie goed genoeg was nie.

Om aktrise te wees was God se plan, nie myne nie

Dit was nie my plan nie. Dit moes die Here s’n gewees het. Ek het nooit eers in daardie rigting gedink nie. Hoekom sou ek, met mý agtergrond!

My pa het altyd gesê ek kan enigiets word as ek my hart daarop sit. Die probleem was egter dat ek lank geen idee gehad het wat ek met my lewe wou doen nie.

Ek kon nog altyd goed dans, en het reeds op skool die onderwyserseksamens in ballet, klopdanse en modelwerk voltooi. Ten minste hoef ek dan nie te gepraat het nie, dus was ek mal daaroor. Om my lyf op die maat van musiek te beweeg was soveel anders – vryer en lekkerder – as om voor ’n klomp mense hardop te lees of te praat. Dit het heeltemal natuurlik gekom, soos asemhaal. Toe ek ouer word, het ’n kniebesering egter enige moontlikheid van ’n dansloopbaan vernietig.

My eerste skuif in die rigting van dramawêreld het toevallig in my matriekjaar gebeur. Ek het aan die dans- en modelwerkkategorieë deelgeneem van die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles en gevolglik my Biologie-eindeksamen misgeloop! Ek het my doodgestres en gewonder of ek die eerste hoofmeisie van ons skool gaan wees wat druip.

Gelukkig het ek deurgekom, maar ek kon die impak van daardie vraestel nog lank daarna voel. Met net vyf vakke het ek universiteitstoelating misgeloop. Toe skryf ek vir tandheelkunde-assistering by die technikon in. ’n Jaar later wou ek universiteit toe gaan (vir mondhigiëne), maar is steeds afgekeur. Twee jaar agtermekaar!

Ek onthou hoe ek op die dag van my tweede aansoek saam met my ma in die ry by die universiteit gestaan het. Sy het nog gesê: “Vul ’n tweede keuse in, net ingeval.” Ingeval wat? het ek gewonder, want ek was so seker dat hulle my hierdie keer sou aanvaar. Wat moet ek in elk geval as tweede opsie neerskryf? Ek kon aan niks dink nie. Snaaks genoeg onthou ek toe dat my nefie opera gestudeer het, en hoe ek en hy een keer oor die dramastudente gesels het. Hy het nog gesê hy weet nie hoekom enigiemand drama wil gaan studeer nie; almal weet tog daar is nie werk nie. En ek dink so ewe: “Ja, dis lekker dom. Hoekom wil jy vir iets gaan studeer as jy niks daarmee kan doen nie?”

Maar wat vul ek die volgende oomblik as tweede keuse op my vorm in? Drama. Van alle dinge! Ek het geen idee gehad hoekom ek dit neergeskryf het nie, maar daar het dit gestaan – groot in swart op wit.

God het beslis met ’n plan gewerk!

’n Paar weke later lê daar ’n brief van die universiteit in ons posbus. Ek was baie gretig om dit oop te maak. Mondhigiëne, hier kom ons! Groot was my ontnugtering toe ek lees: It is with a sense of pity that we have to inform you... dat ek vir die tweede keer nie vir die kursus aanvaar is nie! ... but your application for Drama has been accepted.

Wat? Ek het nie geweet of ek moes lag of huil nie. Maar met die aanvang van die nuwe akademiese jaar het ek, op die rype ouderdom van 23, by Tukkies se dramadepartement opgedaag.

In daardie eerste week het al die studente een middag buite op die gras gesit en gesels. Ek het om my gekyk en ’n lekker gevoel in my hart gekry. Hierdie is mý mense. Ons aanvaar en verstaan mekaar. Dís waar ek hoort.

Ek moes leer om my spraakprobleem te oorkom

Dit sal seker altyd deel wees van my, maar ek het beslis vaardighede aangeleer om dit beter te hanteer. Die tyd op universiteit was van die waardevolste jare in my lewe. In die drama-departement leer hulle jou hoe om jou stem en spraak reg te gebruik. Ek het nie net geleer om my psige, lyf en stem as ’n instrument saam te laat werk nie, maar ook hoe om my groot vyand, stres, op sy plek te sit.

In die eerste twee jaar was dit omtrent al waarop ons gefokus het. Later begin dit voel of jy jou tyd mors. Dis asemhalingsoefeninge, stemoefeninge, ontspanningsoefeninge... Wat is die nut daarvan? het ek baiemaal gewonder. Ons het ure lank op die vloer gelê en geleer om ons liggame in ’n neutrale toestand te kry. Dis die punt van waar jy kan begin werk om die karakter wat jy moet speel, deel van jou te maak. Ons het ook eindelose ure geoefen om reg asem te haal. Wat jy eintlik leer, is om jou hele liggaam as ’n mikrofoon vir jou stem te gebruik.

Vir iemand met my tipe “spraakgebrek” was hierdie opleiding goud werd. Ek staan vandag nog steeds verstom oor hoe die Here my op presies die regte plek gekry het, sodat ek by die beroep kon uitkom wat Hy vir my in gedagte gehad het.

Maar ek sê nie dit was maklik nie. Vir hierdie meisie van die Noord-Kaapse platteland af was die stads- en universiteitslewe ’n groot aanpassing. Ek kon vir die eerste jaar omtrent glad nie Engels praat nie. Daar was so baie woorde wat ek nie verstaan het nie. Vandag lag ek daaroor, maar dit was nogal ’n probleem om in Afrikaans te dink, praat en skryf, terwyl al die klaswerk en boeke in Engels was.

Weereens was ek die grap van die klas, maar hierdie keer was dit anders as op skool. Ek het nie sleg gevoel nie. Hulle het nie vír my gelag nie, hulle het saam met my gelag, en teen my tweede jaar het ek Engels al mooi onder die knie gehad.

Drama-opleiding het my probleem egter nie volkome genees nie. Soms raak my woorde steeds deurmekaar, maar ek weet nou ten minste hoe om dit te hanteer. Ek het geleer dat akteur-wees nie oor jóú gaan nie. As ek ’n karakter vertolk, is dit nie ek, Juanita, wat in die kollig is nie. Die fokus is op my karakter – dit het niks met my as mens te doen nie. Om so daaroor te dink help my om kalm te wees en gefokus te bly op die karakter wat ek speel. Ek sê altyd: Fake it till you make it. Ek het!

My spraakgebrek het my iets oor myself geleer

Soos Moses kan ek sê dat ek deur God se genade iets wat vir my onmoontlik gelyk het, kon regkry. Deesdae kan ek my prate praat, sonder om te voel ek is nie goed genoeg nie. Ek weet ek is, want die Here het self hierdie beroep vir my gekies.

Hy het ook wonderlike mense gestuur wat my gehelp het om in myself en my vermoëns te glo. Een van hulle is my man, André Velts. Hy het saam met my na-ure klas geloop in film- en televisiewerk. Die eerste keer toe ek hom ontmoet het – hy moes my help met my teks – het ek gedink: “O vrek, hierdie drama-ouens is almal weirdos”. Hy het nie eers oogkontak gemaak nie. Later het ek uitgevind hy was bloot te skaam om in my oë te kyk, want vir hom was dit blykbaar “te mooi”!

Deur André het die Here weereens nuwe deure laat oopgaan. Omdat dit moeilik is om werk te kry in hierdie bedryf (my nefie was nie heeltemal verkeerd nie), het ons besluit om ons eie werk te skep. Ons het lank trouvideo’s geneem, toe musiekvideo’s gemaak en later filmwerk begin doen. Ons het selfs ons eie produksiemaatskappy gestig, Twinfish, maar dit het nie beteken die werk het ingestroom nie.

Ek het kort-kort weer aan myself begin twyfel, want in die vyf jaar ná my studie was daar nie één geslaagde oudisie nie. En ek was al amper 30! Ek het laat begin studeer en laat begin werk. “Here, is U seker U wil my in hierdie beroep hê? Sal ek ooit goed genoeg wees?” Die twyfel het my mal gemaak, maar ek het tog bly hoop.

André het my ook gedurig aan die groter prentjie herinner... die regte rol op die regte tyd. Wag net geduldig daarvoor. Hy was reg. Op die Here se tyd het die deurbraak gekom. Ná 30 was daar al drie hoofrolle (Koringberg, met André as mederegisseur; Ontwaking en Somerson), asook ’n kleiner rol in die 2013-fliek Knysna.

My hoofrol in Ontwakingwas vir my die deurslaggewende faktor, die rol wat vir my bevestig het die Here wíl my hier hê. Die hoofrol het nie na my kant toe gekom oor my man of oor my konneksies met die filmspan nie. Die keuse is gemaak op meriete, deur mense wat my van geen kant af geken het nie. Toe weet ek: Ek IS goed genoeg!

Vandag is ek steeds nie perfek nie. Ek moet elke dag hard aan my craft werk, maar met God se genade is ek nederig dankbaar vir die kans om ’n werk te doen waarvoor ek baie lief geraak het. My “gebrek” het inderdaad my brood en botter geword.