My geselskap

Toortsie

Die plaas se stilte is ‘n wonderlike ding, iets om te koester, maar stilte kan ook erg stil raak.

Daar waar ek in die week heen pendel, is daar geen sein van enige aard nie. Danksy slim tegnologie kon ons wel aansluit by internet en die selfoonsein versterk as jy in ‘n sekere vertrek is. Radiosein is ‘n saak van onmoontlikheid. Ons het nie ‘n TV hier nie.

Al die jare was RSG in die middag my enigste geselskap. Hul help my om positief te bly met hul vrolike geselskap, ek leer nuwe dinge en tussenin hoor ek darem die heel belangrikste nuusgebeure van die dag.

Toe begin die gependel. Ek is so besig met die heen-en-weer-ry en om my werk gedoen te kry en nes te skrop dat ek dit nie regtig agterkom dat die geselskap nie daar is nie. Ry ek op ‘n Vrydagmiddag laat huis toe, noem hulle op RSG dat dit ‘n slegte week vir SA was, maar ek weet nie hoekom nie en vind ook nooit uit nie! Net so hoor ek dat daar goeie goed gebeur het, maar weet nie wat dit is nie. Sonder dat ek dit besef het, het ek kontak verloor met die buitewêreld.

Dit is darem nie nét negatief nie. Ons kuier saans om ‘n braaivleisvuur, gesels en versterk vriendskapsbande en geniet die rustigheid wat net ‘n plaas kan bied.

Toe stel iemand voor: Luister RSG op die internet! Wat ‘n lekkerte! Wat ‘n genade! Dankie tog vir slim mense en elektronika. Wanneer ek nou by my rekenaar sit en werk, hou die vriendelike aanbieders van RSG my op hoogte van die belangrikste dinge, maar veral ook van die lekker dinge in die lewe. Ek hoor mooi musiek, interessante resepte, maar die belangrikste van alles, ek hoor ander stemme. Postiewe stemme wat positief voel oor ons land en sy mense.

Groetnis

Toortsie

(Die foto is van ‘n radio-onderhoud tussen Ingrid Venter-Groenewald van Radio Tygerberg en die Toortsie.)

DEEL
Vorige artikelWiele en wysheid
Volgende artikelBarensnood op wiele
Blogger - Toortsie
Madelé Burger (Toortsie) is 'n ma, ouma en boervrou. Sy en haar man woon in die Overberg en het 'n gemengde boerdery. Madelé is lief vir mense en leef die lewe voluit. Sy reis graag en geniet dit baie om in die natuur te wees. Sy is 'n uitgewer van Banting Resepteboeke en is 'n Transformasie Gebedsbediening Fasiliteerder. Sy skryf op haar blog oor alledaagse dinge, kinders, die lewe en haar verhouding met God. Besoek haar blog by toortsie.com