“My gesin se toekoms in my hande”

771

Mike Makovere het min hoop gehad vir ’n beter toekoms, maar dit het alles verander met die hulp van iemand wat sy potensiaal raakgesien het.

“Ek het snags wakker gelê. Koud en onseker oor wat om te doen, nadat ek van Zimbabwe af Suid-Afrika toe gekom het. Ek het kilometers gestap, bus gery, ’n paar voertuie gesmeek om ’n plekkie te skrop agter op die bakkie. Tree vir tree was ek op pad na ’n beter lewe.

“My keuse was maklik. Kom hier uit en gaan kry werk en maak ’n beter lewe vir myself en my vrou en lieflingkinders. Só het ek in Pretoria se middestad aangekom, met niks. Die laaste bietjie trots moes ek bymekaarskraap om te vra vir ’n plek om te slaap. Ek was wel gelukkig om ’n plek te kon kry in ’n skuiling, maar alles kom teen ’n prys.

Snags kon ek nie slaap nie as gevolg van die drankgebruik van die ander skuilingbewoners en het ek geweet, dit is beslis nie wat God vir my beplan het nie. Ten spyte hiervan het ek uitgehou, aangehou en nie hoop verloor nie.

“Toe gebeur dit. Tshepiso het my op straat gesien en my genooi na een van PEN se gemeenskapsprojekte waar daar ondersteuningsgroepe gehou word vir mense soos ek. Mense wat alles verloor het, wat niks het nie, maar wat wel droom. Jy sien, my drome was en is steeds groot. Ek kan alles verloor, maar my integriteit, my drome en my familie sal ek ten spyte van die koue van kwesbaarheid en haweloosheid, in my hart vertroetel. Op daardie somber Donderdagoggend het my lewe vir altyd verander.

“As jy die fast forward op my verhaal druk, staan ek vandag tweede in bevel van die Sediba Hope Mediese Sentrum en kan ek teruggee aan dieselfde gemeenskap waaraan ek eens behoort het, deur die verskaffing van gratis basiese mediese dienste.

“Wat ek deur my pynlike en harde reis na vryheid geleer het, is om nooit moed op te gee nie. God het ’n plan het met elkeen van ons wat slegs kan gebeur as ons dit self laat gebeur. Die dag toe ek my familie van Zimbabwe af laat kom om by my te wees, het ek almal ’n stywe druk gegee en besef dat ons ons eie grense en mure bou sonder dat ons dit weet.

Vandag breek ek mure af. Mure van seer, van armoede, maar die meeste van alles, mure van onregverdigheid. My reis is steeds nie klaar nie, maar tydens my reis kan ek nou ’n oomblik vat en kyk na die landskap om my en die son op my gesig voel.”

PEN se passie is om mense ’n behoorlike kans te gee. Hulle glo daaraan om haweloses en kinders te ontwikkel en toe te rus om vir hulleself te kan sorg. Die organisasie, wat deur dr. Marinda van Niekerk bestuur word, se hoofdoel is om hoop te gee deur middel van geloof.

’n Spesiale span gee aandag aan behoeftiges se fisiese en emosionele gesondheid. Behuising en kos word ook aan haweloses voorsien.

Jy kan ook help om vir iemand anders ’n beter toekoms te verseker. Belê in PEN se doel en besoek www.pen.org.za vir meer inligting. Jy kan hulle ook skakel by 012 323 6688 of hulle op sosiale media volg by @PENIgnite.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.