“My gesin uit vuur gered”

169

Zanti Swanepoel het vir twee dae nadat hulle huis bykans afgebrand het, steeds roet opgegooi. Haar mond was swart binne, maar haar hart was lig.

Die krag het die soveelste keer daardie week afgegaan. Ons was baie veiligheidsbewus en het elke keer seker gemaak dat al die stoofplate, ligte en ander elektriese toestelle afgeskakel was. Min het ons besef dat een van die stoofplate dié keer net oor nul gedraai was.

My man, Louwerens, was weg om ’n reeks kursusse elders aan te bied. Ek, ons drie dogtertjies en hulle ouma het agtergebly.

Ek het aandete op ’n gasstofie gemaak en die pan met olie op dié “af” stoofplaat gebêre. Ons het die gasbottel ook in die kombuis gelos ingeval ons dit die volgende dag weer sou nodig kry.

Voor die brand het ’n vriendin vir my ’n boodskap gestuur. Sy het gebid dat ons teen dreigende gevaar beskerm moes word. Dit was nogal ’n vreemde boodskap. Teen slapenstyd was die krag steeds af, en ek het met dié woorde aan Ouma en die kinders in die bed geklim: “No word formed against us shall prosper against us, in the Name of Jesus.”

In die vroeë oggendure het ’n harde knal my laat wakkerskrik. Dit het uit die rigting van die kombuis gekom. Toe ek in die gang afstorm, het bolle swart rook by die kombuis uitgeborrel.

Die olie op die stoofplaat het kokend warm geword en die kombuiskaste aan die brand laat slaan! Ek het net besef, hier is gróót moeilikheid. Vanaand verloor ons alles.

Die rook was besig om die slapende dogtertjies te oorval. Dit was ’n gesukkel om hulle wakker te skud, maar almal is uiteindelik na veiligheid gebring. Dit is verskriklik om die vrees in jou kinders se oë te sien.

Die selfoon het uit my hande geglip en in stukke op die vloer geval. Ek kon dit wonderbaarlik regkry om die redial-knoppie te druk, wat ’n vriendin se nommer – skaars ’n kilometer ver – geskakel het. Dié vriendin en haar man was oomblikke later daar, met vier brandblussers wat ’n familielid (toevallig) kort tevore aangeskaf het!

Net twee dinge kon verhinder dat ons hele huis in vlamme opgaan. Die gasbottel, wat nog al die tyd in die kombuis gestaan het, moes nie aan die brand slaan en ontplof nie. En die vuur moes nie verder as die kombuis versprei nie.

Albei was hoogs onwaarskynlik. Die gasbottel het reeds begin smelt weens die hitte, en die res van die huis, met al die houtmeubels, was hoogs vlambaar.

Ons het hardop gebid dat nóg die gasbottel, nóg die res van die huis sou vlam vat. Die Here was só getrou.

Die assessor wat die toneel kom besoek het, het gesê hy het nog nooit so iets gesien nie. Die gasbottel móés ontplof het. En die brand sou vinnig deur die hele huis versprei het omdat die rooshout hoogs vlambaar is. Maar dit het nie!

Toe een van my ander vriendinne hoor wat gebeur het, het sy skielik haar droom van die vorige week verstaan. In haar droom het sy op ’n heuwel gestaan en afkyk hoe alles brand; maar die mense wat in gevaar was, het nie wakker geword nie. Sy het geweet dat sy moes bid dat hulle wakker word – min wetende dat dit ons gesin was.

Vertel jóú geloofstorie oor ’n wonderwerk.
Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 MINUUT lank, na 062 194 2334. Luister elke Vrydag na jou en ander se geloofstories by voelgoed.co.za/mygeloofstorie.