“My gesin was sonder kos of hoop”

0
688

Edith Musankwa se gesin het lank gesukkel om kop bo water te hou. Daar was dikwels nie eens kos om te eet nie. Dit het alles verander nadat sy haar dogter verloor het en besluit het om die Here ’n kans in haar lewe te gee.

“Wanneer ’n mens heeltyd swaarkry en boonop nie die Here ken nie, is dit moeilik om positief te bly. Jy glo ook nie dat jy vir ander mense sal kan omgee nie, want in jou eie oë is jy dan self niks werd nie.

“Toe ek jonger was, was die lewe moeilik. Ons was baie arm en het nie geld gehad vir kos en ander noodsaaklikhede nie. Die naaste water was twee kilometer ver. My gesin moes elke dag loop om drinkwater te kry en wasgoed te was. Om werk te kry was feitlik onmoontlik.

“Tydens een van ons besoeke aan die rivier het ’n krokodil my tienjarige dogter aan die kop gegryp en doodgemaak. Dit was afgryslik om te aanskou. Ons harte was stukkend en ons het bang geword! Ons kon glad nie langer naby die rivier bly nie; die vrees vir hierdie gediertes was allesoorheersend.

“Om ’n inkomste te probeer verdien, het my man toe begin visvang om te verkoop, sodat ons weer kos vir onsself kon kry. Daar was ook goedhartige mense wat ons toegelaat het om groente en vrugte op hulle grond te plant. Die swaarkry het egter aangehou.

“Dit was ’n groot verligting die dag wat Reaching A Generation besluit het om ’n boorgat in ons gemeenskap te sink. Skielik was water nie meer ’n probleem nie. Maar hulle het meer gedoen as dit, hulle het ons ook kom leer van die Here.

“Voorheen het ek nooit gedink dat ek vir ander sou kon omgee nie. Ek het nie geweet hoe nie, maar hulle aksies het my geïnspireer en los werkies het na my kant toe gekom sodat ek ’n inkomste kon verdien.

“Deesdae werk ek as ’n gesondheidswerker by die plaaslike gemeenskapskliniek, waar medisyne voorsien word en babas en kinders opgepas word. Die kerk is ook ’n plek waar ons aktief betrokke is. Kinders is my groot liefde en passie.

“Ryk is ek beslis nie, maar ek deel my lewensreis elke dag met ander in die hoop om waarde tot hulle lewens toe te voeg en nog harte vir die Here te wen. My lewe het verander. Ek hoop dat ek ander kan help om dit ook te doen.”

Reaching A Generation se passie is om jongmense ’n kans te gee. Hulle glo daarin om te belê in die mense wat kinders moet opvoed.

Die organisasie, wat deur Jacques van Bommel gestig is en bestuur word, se hoofdoel is om hoop te gee deur middel van geloof.

Boorgate word in arm gemeenskappe gesink, landbouprojekte word begin om in kosbehoeftes te voorsien en spesiale programme word aangebied om kinders en volwassenes vir die toekoms toe te rus en van Jesus te leer.

Jy kan ook help om vir kinders ’n beter toekoms te gee.
Belê in Reaching a Generation se doel en besoek reachingageneration.org vir meer inligting.
Jy kan hulle ook skakel by 015 491 1175
of volg op sosialemedia by @reachingageneration.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.