My hart klop buite my lyf

Ek is vandag so vol energie. Ek is so vol lewe dit voel of ek te veel boeretroos gedrink het. So opgewonde wil ek net weer iets vind wat sin aan my bestaan gee.

Dit is seker so dat ‘n mens se hart binne jou moet klop vir alles waaruit jy jou vreugde tap, maar ek is vandag so entusiasties dat dit vir my voel my hart klop buite my lyf, en ek moet hardloop om by te bly.

Smag ons nie almal na iets wat so vol avontuur is nie? Ons wil ons menswees vul met soveel meer.

Wees vandag saam met my opnuut verlief op die lewe selfs al weet jy nie waarom nie. Dikwels kyk ons na eksterne faktore en ons vergeet om dieper te kyk na wat binne lê. My vraag is, is dit nie juis dit wat binne jou is, wat maak dat jou hart uit jou lyf wil spring van opgewondenheid nie?

Raak stil en hoor hoe jou hart klop. Hardloop agter jou hart se ritme aan. Leef vir die oomblikke waarin jy jou hart buite jou lyf sien dans.

Die waarheid is, jy het nie baie nodig om werklik gelukkig te wees nie. Vier bloot die son wat elke oggend deur jou ruite loer.

Sing jou gunsteling liedjie.

Drink ‘n glasie wyn.

Dans tot jou bene ingee.

Deel jou menswees met ander.

Dit is onsettend verrykend om toe te laat dat jou hart buite jou lyf klop. Vind jou asem waar jy jou hart hoor klop. Dit is waar jy vreugde sal vind.

Ek is vandag sommer vir geen rede vol vreugde. Ek voel hoe my hart klop vir die lewe en ek wil jou nooi om jou hart se roep ook te hoor en te volg.

Sonder rede.

Sommer net.