My hond red lewens

0
1322
voelgoed_storie.jpg

’n Hond is ’n mens se beste vriend, selfs al is hy weggegooi. Lizette Mobey het agtergekom dat dit soms juis die verstote honde is wat die grootste verskil in mense se lewens kan maak.

Eenkant in die hoek van die vertrek sit ’n verwronge seuntjielyf in ’n rolstoel. Sy oë sien niks. Hy het lankal belangstelling in die vreemde wêreld om hom verloor. Khaja se gestremde lyf en verwronge begrip maak dit vir hom onmoontlik om deel te wees van dinge wat die meeste mense as vanselfsprekend aanvaar. Die enigste teken dat daar lewe is, word sigbaar wanneer sy een arm met ’n inmekaargetrekte hand nou en dan in die lug opskiet.

Huis Emelia in Bloemfontein is ’n plek vir wegsteekkinders. Dit is waar Khaja sy dae deurbring. Die mense hier verrig wonderwerke met wat hulle het. Geduldig word daar na die kinders se geringe behoeftes omgesien. Daar is nie juis vordering nie. Net oorlewing. Die kinders is erg gestrem. Fisiek, geestelik en verstandelik.

Daar was geen belofte van enige opwinding in klein Khaja se lewe nie. Toe ontmoet hy Plofstof. Dis die derde keer wat hierdie ongelooflike hond vir Khaja en die ander kinders by Emelia kom kuier. Khaja kyk onmiddellik op. Van die afwesige kind wat hy ’n paar weke gelede nog was, is daar geen teken nie. Sy oë blink. Sy gesig wys hy weet meer as wat ons dink. Van oor tot oor lag hy terwyl Plofstof doelgerig na een van sy gunstelingkinders stap. Hy gaan sit voor Khaja.

“Plofstof is die spesiaalste hond,” sê Lizette. “Sonder ’n enkele dag se opleiding het hy net hierdie ingebore instink om stukkende mense te help.” Een van Lizette se werkers het die hondjie in die straat opgetel. “Ek het hom R50 aangebied en gevra of ek die hond kan kry!” So het Plofstof lid van die Mobey-huishouding geword.

Beide Lizette en haar man, Craig, is pastorale beraders. Op ’n stadium het Lizette haar spreekkamer huis toe verskuif en sonder dat sy dit ooit beplan of besef het, het Plofstof deel van die terapie geword. Sy eienaardige naam het hy te danke aan sy soms elektriese “haarstyl”.

“Dit sou lekker gewees het as ek die krediet vir Ploffie se vermoëns kon neem,” sê Lizette, “want dan sou ek ander honde ook kon oplei om sy werk te doen. Maar wat jy hier sien, is alles in sy hart.”

[Pagebreak] Lizette vertel dat Plofstof van kleins af die vermoë gehad het om met ander diere te werk. Hy het elke klein diertjie wat op hulle hoewe gebore is, aangeneem en geleer. Moeiteloos. En toe begin hy met haar pasiënte.

“Ek was eers bekommerd,” onthou Lizette, “nie almal is honde-mense nie … Totdat ’n pasiënt eendag wou weet waar is haar ‘terapeut’ dan vandag? Dis toe dat ek besef Plofstof het ’n geweldig kalmerende invloed op mense. Veral die kinders verkies om eerder met hom te praat as met my!” lag sy.

“Plofstof het my geleer om ’n bietjie te laat los. Om net daar te wees. Soms het ’n beker koffie en ’n hond se kop op jou skoot baie meer waarde as ’n duisend woorde se gepraat. ’n Mens kan nie altyd alles uitpluis nie. Soms moet jy dit net uitwag.”

Toe Lizette by Huis Emelia betrokke geraak het, het sy aanvanklik sonder Plofstof gegaan. Baie van hulle is outisties en serebraal gestrem en sy het begin wonder hoe hulle op Plofstof sou reageer. “Ek moes geweet het hy is die perfekte hond om aan hulle voor te stel.”

Ploffie het self sy eie roetine daar vasgestel. Hy gaan groet eers al die oppassers en dan begin hy met die kinders werk. Net so vier of vyf op ’n keer. Dis asof hy presies weet wie hom wanneer nodig het. En dan is daar die blinde dogtertjie wat op die een of ander manier haar weg tot by Plofstof vind. Elke keer. Na ’n werksessie gaan groet hy almal eers weer voordat hulle ry.

Langs Khaja sit Lizette se assistent met ’n houer vol hondebeskuitjies. Die kinders mag daarvan vir Plofstof voer, mits hulle hom dan vir ’n “stappie” vat sodat hy nie “vet” word nie … Dan vat hulle sy leiband en loop agter hom aan. Of rol, want dié in rolstoele kry ook ’n beurt! En vandag wil Khaja, met sy toe hand en spastiese arm, ook vir Plofstof voer. Eers strek hy sy arm uit. Dan maak sy krom vingers een vir een oop om oor Ploffie se sagte pels te streel. Almal trek hulle asems in. Hier en daar word ’n traan weggevee. Gaan hy dit regkry? Gaan hy sy dom arm by die dun opening ingedruk kry?

Stadig lig hy sy arm op en mik vir die opening. Hy konsentreer asof dit die heel belangrikste ding is wat hy nog ooit gedoen het: om vir hierdie wollerige maatjie’n beskuitjie te gee.

[Pagebreak] Sy arm is in! Hy lyk self effens verbaas en dit vat ’n rukkie voor sy dom vingers ’n plan begin maak om ’n beskuitjie vas te vat. Stadig trek hy weer sy arm uit en druk dit in die rigting van Plofstof se bek. Ploffie roer nie. Niemand moet nou skrik of seerkry nie. Eers as die beskuitjie aan sy lippe raak, maak hy sy bek oop sodat Kaya dit kan indruk. Die seuntjie se oë blink en sy glimlag is groter as ooit. Plofstof kou die beskuitjie terwyl almal om hom oe en aa. Hierdie is soveel meer as ’n weggooihond en ’n stukkende kind. Dit is liefde, omgee en aanvaarding. Dit is perfeksie.

Terug by die huis is Plofstof meestal net ’n hond – jy kan ook nie heeltyd werk nie! Soms moet jy saam met die ander viervoetiges in die gang afhardloop, ’n blompot omstamp en deur waterpoele plas. “Ek het al geleer om sy lyftaal te lees. Wanneer hy moeg is, kan ek dit sien – then we call it a day. Nog ’n belangrike les wat ek by hom geleer het! Alles hoef nie altyd dadelik te gebeur nie. Ook nie presies soos wat jy dink of wil hê dit moet nie. Plofstof werk met elke kind teen hulle eie pas. Hy forseer niemand nie.”

Daar is mense wat Lizette al aangeraai het om Plofstof professioneel te laat oplei. “Maar waarvoor? Wat moet hy leer? Ek is ook heeltemal te bang hy begin verward raak en hou op om spontaan en natuurlik met die pasiënte te werk. Dit sou ’n sonde wees om dit van hom – en van die mense – af weg te vat.”

As jy eers eenkeer in Plofstof se salige geselskap was, wil jy dit altyd hê. “Ja!” lag Lizette, “almal wil vir Ploffie hê!” Hy staan nader met sy deurkyk-oë vir ’n laaste vryf oor sy kop. Hierdie hond wat iemand weggegooi het. ’n Klein diertjie wat nog nie eers kon sien nie. As dinge anders uitgewerk het, sou Khaja nooit sy hand kon oopmaak nie. Sou wegsteekkinders altyd in die verlate duister gelewe het. Sou baie trane en pyn nooit beter geword het nie. Maar dit het, want daar was ’n groter plan met Plofstof se lewe. Dit is so met alles en almal wat bestaan.