My kind en sy juffrou bots

0
83
hettie britzz

My kind en sy juffrou stamp gedurig kop. Dit is so erg dat hy nie wil skool toe gaan nie. Hoe hanteer ek die situasie op die regte manier vir my kind se eie beswil?

My kind en sy juffrou stamp gedurig kop. Dit is so erg dat hy nie wil skool toe gaan nie. Hoe hanteer ek die situasie op die regte manier vir my kind se eie beswil?

Kennis oor jou kind se temperament gaan jou waarskynlik hier red. As jou kind en sy juffrou bots, verduidelik vir hom wie sy juffrou is. Gestel sy juffrou is ’n sierboom, sê dan: “Jou juffrou hou baie van stilte, sy hou daarvan as net een kind op ’n slag praat. Sy hou van netjiese rye, en daarom gaan sy raas as jy nie stilsit en stilbly, en in jou ry staan nie.”

As jou kind ’n palmboom is, gaan hy byvoorbeeld nie lank konsentreer nie, en is dit nie vir hom lekker om stil te bly en stil te sit nie. Help dus jou kind om te verstaan wie hy is deur sy temperament en sy juffrou s’n uit te wys.

Leer jou kind verantwoordelikheid, deernis en empatie

Plaas die klem op die feit dat niemand reg of verkeerd is nie. Sê vir jou kind daar is juffrouens wat daarvan hou as kinders saamgesels en graag lag en grappies maak, maar hy is ongelukkig nou nie in daardie juffrou se klas nie. Sê ook: “Ek sal vir Juffrou verduidelik jy is ’n palmboompie, en dat dit vir jou moeilik is om stil te sit en stil te bly, maar jy moet ook saamwerk in hierdie juffrou se klas. Steek jou hand op as jy iets wil vra. Dit sal vir Juffrou wys jy respekteer haar.” Verduidelik vir jou kind wat respek beteken. Respek is: “Ek laat jou wees wie jy wil wees. En wie Juffrou wil wees, is iemand wat alleen praat in haar klas. Wie jy wil wees, is iemand wat graag gesels. So, vra miskien vir jou juffrou ’n kans om te praat voordat jy net iets sê.”

Kweek empatie by jou kind deur hom te leer om iets sags en positiefs vir sy juffrou te voel. Vra ’n vraag soos: “Wat dink jy was al Juffrou se slegste dag? Hoe dink jy kan ’n mens dit vir haar beter maak?” Jou kind leer so om na die juffrou se emosies ook te kyk en nie net na sy eie nie.

Jy as ouer moet altyd koel en kalm bly

As jy en jou kind nie ’n oplossing vir die koppe stamp kan vind nie, maak ’n afspraak om die onderwyser te spreek. Doen dieselfde as wat jy jou kind leer: Kyk met deernis na die onderwyser. Vind uit wat haar temperament is, en wat haar omstandighede en haar eise is. As jy met woede en wanbegrip begin, gaan dit sake net vererger.

Wees kalm wanneer jy die juffrou benader en volg die skool se beleid. Begin met iets soos: “Daar was ʼn insident waaroor ek graag jou kant van die saak wil hoor, want ek ken nog net my kind se kant.” Jy mag duidelik sê wat jy van die onderwyser verwag as sy dalk haar humeur verloor het en onregverdig opgetree het. Dring dan aan dat sy voor die klas om verskoning vra vir haar uitbarsting.

Neem jou kind se temperament in ag

Hoe jy hierdie situasie hanteer, gaan beslis jou kind beïnvloed. ’n Roosboomtemperament wil sterk, groot en in beheer wees. Wanneer ’n roosboomkind se ouer baie emosioneel en in die openbaar die onderwyser konfronteer, maak dit alles erger. Dit is baie meer effektief as ’n konfrontasie privaat gebeur en die roosboom nie eers daarvan weet nie.

Moenie van ’n denneboomkind, wat konfrontasie tot elke prys probeer vermy, verwag om teen sy juffrou op te staan nie. Dit gaan net verskriklike angs veroorsaak. Dit sal hom eerder troos as jy sê: “Ek gaan môre skool toe om die saak op te los.”

Met ’n sierboom praat jy mooi, want hulle is tog so bang iemand gaan uitvind en hulle spot. Of dat die juffrou op hulle gaan pik. Jy moet verduidelik dat jy binne die reëls bly. Vir ’n palmpie gaan dit alles oor wat mense dink, en dis uiters belangrik om die saak vertroulik te hanteer. Dis vir palms baie sleg om te beleef iemand hou nie van hulle nie. Hulle moet beslis ’n geleentheid kry om met die juffrou versoen te raak.

Die goue reëls: Maak ’n afspraak met die onderwyseres. Moenie perspektief verloor nie. Moet dit nie op Facebook uitblaker nie. Toon begrip vir onderwysers se groot taak en wees realisties. Ken jou kind en sy temperament. Onthou, onderwysers bly mense met foute. En almal, ons kinders ook, het ons foutjies.

Lesers, onderwysers en skole kan gerus hierdie gratis toepassing gaan aflaai http://www.kddskool.co.za/

www.immergroenouerskap.co.za