My kinders maak my fiks

0
54
amor.jpg

Oefening hoef nie nét in die gim te gebeur nie. Amore Vittone se gunsteling oefeninge is om met haar kinders te speel.

Oefening hoef nie nét in die gim te gebeur nie. Amore Vittone se gunsteling oefeninge is om met haar kinders te speel.

Met al die buitemuurse aktiwiteite hardloop ek lekker rond! Omdat mense verwag ek moet mooi lyk as ek op die verhoog klim, moet ek êrens tyd kry om te oefen. Dis egter nie die oorwegende rede nie. As ek nie oefen nie, voel ek nie gesond nie. Ek het effens lae serotonien; daarom help dit my baie om selfs net tien minute lank vinnig om ons kompleks se dam of in die straat te gaan stap. Die lekkerste is egter om oefening te kry deur met my kinders te speel.

My kinders is vir my alles; die belangrikste vir my is om by hulle te wees. Toe hulle klein was, het ek my hoëhakskoene uitgeskop en saam met Kylie (9) en Jordan (11) op die trampolien gespring. Deesdae geniet ek dit om buite op die gras sokker saam met hulle te speel. Dis ’n sport wat jou lekker fiks hou omdat jy heeltyd heen en weer hardloop. Daardie tweetjies se energie raak net nooit uitgeput nie! Soms word ek moeg, dan plak ek myself op die gras neer met Jordan wat laggend sê: “Kyk hoe moeg is Mamma!” Ek ry ook dikwels perd saam met Kylie by haar ryskool. Dit is baie terapeuties om in die oop veld te wees – en natuurlik bring ek dan ook gehaltetyd saam met my dogter deur.

Jy kan op allerhande ander maniere jou oefensessies aanpas om steeds deel van jou kinders se lewens te wees. As Jordan byvoorbeeld by die klub gaan sokker oefen, trek ek ’n T-hemp en oefenbroek aan en gaan draf om die baan. Ons neem vir Kylie ook saam en laat haar en ons hondjie in die sandput baljaar. Op dié manier kry ek my daaglikse oefening én sien hoe Jordan ontwikkel as sokkerspeler. Ander kere gaan draf ek, terwyl Kylie langs my fietsry.

As jy ’n besige ma is met ’n druk program, dink kreatief. Koop een van daardie groot oefenballe by Mr. Price en oefen daarmee terwyl jy saam met jou kind na ’n Disney-fliek kyk. Of leer saam met haar om te hoela. Moenie die verskoning gebruik dat jy nie tyd het nie; maak tyd daarvoor. Jou kinders is net een keer klein; jy wil tog nie eendag terugkyk en spyt wees dat jy geleenthedee misgeloop het om dinge saam met hulle te doen nie.