My lewe blom éérs na 50

0
16
Vera Rousseau

Ná 53 jaar van aanhou hoop en vertrou, ontvou ’n onwaarskynlike liefdesprokie en trou Vera Rousseau vir die eerste keer…

Ná 53 jaar van aanhou hoop en vertrou, ontvou ’n onwaarskynlike liefdesprokie en trou Vera Rousseau vir die eerste keer…

Die dag toe die bouers opgepak het en weg is, staan ek in my splinternuwe droomkombuis en sê vir die Here: “Lord, I am só content! U is my alles. Ek het niks meer nodig nie!” En ek het dit bedoel. Ek het régtig daardie vrede ervaar. Die Here is vir my genoeg. Dit was Desember 2011 nadat ek besluit het om my plekkie lekker te maak vir myself. Ek het my droomkombuis laat insit met ’n gasstoof en mooi kassies. My kantoortjie is goed ingerig sodat ek gemaklik van die huis af kan werk en my hart was ’n reënswael. Min het ek geweet dat ek skaars ses maande later op die ouderdom van 53 vir die eerste keer voor die kansel sou staan en in hierdie einste sterretjiekombuis vir die man van my drome sou kos maak!

Een Sondag tydens die diens nooi ons pastoor, Richard, persone wat onvrugbaar is om vorentoe te gaan vir gebed. Toe hy byvoeg dat hy nie net praat van onvrugbaar vir kinders nie, sê ek vir die Here: Here ek glo dat U vir my ’n man het. En toe staan ek op. Terwyl Richard vir my bid, sien ek voor my geestesoog die rûe van ’n man en vrou wat hand aan hand wegstap en ek weet op daardie oomblik – hulle loop in die bediening in. Ek staan daarvoor, Vader, het ek gebid. Al is ek reeds in my vyftigs en ongetroud, ek staan daarvoor!

Ek het ’n vol lewe gehad. Oorsese reise, staproetes saam met vriendinne, ’n interessante loopbaan in die wynbedryf en toe bemarkingsbestuurder by Flora Force het vir genoeg opwinding gesorg. Tog was dit altyd asof daar iets was wat haper. Die een groot krisis vir my was toe ek besef het ek gaan weens my ouderdom nooit kinders hê nie. Dit was vir my ’n slag. Ek het my ’n naweek lank gaan afsonder en my hart voor God uitgehuil. Dit was vir my baie erg; ek wou so bitter-bitter graag kinders van my eie hê. Sy belofte was egter dat Hy my die ma van baie geestelike kinders gaan maak.

Die ander krisis was toe daar aan die begin van 2007 ontdek is dat ek borskanker het. Ek het gesien dat die Here se weë nie altyd net oor berge en deur dale loop nie. Die Here se weë sluit soms naalde, wit hospitaalgange en bestraling in. Die Here se weë laat egter áltyd álles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet! Na bykans ’n jaar van chemoterapie en bestraling, operasies en ’n wonderbaarlike geloofsreis met God, is ek vry van die groot K.

Intussen het André en Linda Rousseau leierskapkursusse by ons kerk begin aanbied. Hulle het tevore 25 jaar in Amerika gewoon. Linda het, soos ek, ook borskanker oorleef en ons het met mekaar hieroor gesels. Haar kanker het egter teruggekeer en hierdie keer het sy ervaar dat God sê dis tyd vir haar om Huis toe te gaan. In 2010 het sy gesterf. Ek het ’n intense skuldgevoel ontwikkel. Linda was ’n vrou wat die Here met hart en siel liefgehad en gedien het en háár kanker het teruggekom. Sy is dood. Ek lewe nog. Hoe werk dit? Mens het nie antwoorde op so iets nie. God se genade is onverstaanbaar

Ek het baie by ons pastoor en sy vrou, Richard en Jacqui, aan huis gekuier. Elke keer wanneer ek by hulle kom, was André maar daar. Hy was eensaam na Linda se dood en baie by hulle, maar ons het nie eintlik veel met mekaar gepraat nie. Hy het homself op ’n afstand gehou. Nuwejaarsdag 2012 het ek op pad terug van familie af by Richard en Jacqui ingeval en daar was André ook! Ons het almal om die tafel gesit en gesels. André het gevra of enigeen van ons spesifieke planne vir die nuwe jaar het. Die geselskap het ’n ander rigting ingeslaan voordat André sy vooruitsigte met ons kon deel. Eers later het Jacqui vir my vertel dat God vir André gesê het 2011 was ’n jaar van restoration, maar 2012 is die jaar van exploration! Nuwe dinge was op pad. En André het glo bygevoeg: “I might even go on a date!” Weet jy, toe Jacqui dit sê, wéét ek skielik net ek is daardie vrou wat hy vir ’n date gaan vra! Wat ’n mal gedagte! Maar ek het gewéét.

Net daarna het ek en ’n vriendin die Walvisroete gaan stap. Ek onthou ek het vir haar gesê dat wanneer ek terugkom by die huis, ek ’n oproep gaan kry en dan gaan iemand my vir ’n date vra. En weet jy wat, ek dink dit is my man! Ons het Maandag tuisgekom. Donderdag toe lui my foon. “Hello, Vera. This is André Rousseau.” Daar vra hy of ek Saterdagaand saam met hom wil gaan uiteet. Kan jy dit glo! Hy kon nie eers my naam onthou nie. Hy moes vir Jacqui bel om hom te herinner. Dít hoor ek later.

As die Here my nie hierop voorberei het nie, het ek sekerlik so geskrik dat ek sommer nee sou gesê het! Later het André vertel hoe hy vir God gevra het om asseblief vir hom te wys wie die dame is wat hy moet uitneem. Hy het skielik geweet dit was ek, maar hy kon nie my naam onthou nie en moes vir Richard bel om uit te vind! Sonder dat hy geweet het hoe gek ek is oor kos wat brand, het hy my na Bukara Restaurant geneem. Ek was so opgewonde; ek het vir my ’n nuwe rok gekoop. Wanneer laas het ek die geleentheid gehad vir ’n núwe rók! Ons het teenoor mekaar by ’n tafel gesit. Iewers tydens die ete het hy agteroor gesit en verbaas gesê: “I’m quite relaxed. And you?” Ja, wás ek nie! Ons kon nie glo dat ons so gemaklik kon wees met mekaar nie. Skaars ’n maand later het ons albei geweet… Ons het net gewéét!

Die sewende van die sewende maand 2012 is ons in die St. Mary’s kerkie op die Braak in Stellenbosch getroud. Dit het spierwit gehael toe ek Stellenbosch dié dag inry. Ek het vir die Here gesê: “Dankie, Here, nou gee U sommer vir my konfetti uit die hemel!” Ons troue was ’n feesviering van formaat! Lank voor die tyd het ons vir God gevra ons troue moet die harte van die gaste aanraak. Vriende wat nie die Here ken nie, moet Hom daar op ’n nuwe manier leer ken en ervaar. Ons het geloof en geprys en die hele dag as dankoffer gebrand vir Hom.

Moenie ’n fout maak nie – die aanpassing in ’n eerste huwelik ná 50 is op sy beste maar ’n wilde ding. Ons het besluit om eers in my plekkie te bly. Daar roer ek die kospotte toe sowaar vir my beminde ín my droomkombuis! Ek en André het ongelooflike tye saam in die Here se teenwoordigheid gehad. Ons het saam gebid en saam gelofprys. Maar skielik was bekende frases soos “onderwerp jou aan jou man se gesag” en “André is my bedekking in die Gees”, uiters vreemd in die vlees! Omdat ek daaraan gewoond was om alles self te doen en self reg te maak, moes ek doelbewus ’n punt daarvan maak om André by my doen en late in te sluit. Ek moes myself dwing om dinge aan hom oor te gee. Die “bedekking in die Gees” het ek eers gesnap toe ek die dag op pad was om ’n praatjie by ’n damesgroep te lewer. Ek het vir André gevra om daarvoor in te tree, en terwyl hy vir my bid, besef ek dít is my bedekking en my skuilte – my man se outoriteit oor my in die gees!

Ek hou ’n legkaartstuk in my hand. Die vreemde vorm en strepe kleur beteken niks, maar ek weet God sien die stukkie inpas in ’n ewigheid van hoop. Hy weet waarom 53 jaar nie te lank was om te wag nie, hoekom ’n stuk van my legkaart kanker moes heet en watter prent ons volgende legkaartstukke gaan vorm. Ek bid en God wys vir my ’n swart gekronkelde wortel. Dis ’n wortel van vals idees, selfbejammering en al die leuens wat gebeure op jou lewenspad jou wysmaak. Bring dit na die kruis, my dogter, vra Jesus. Ek sien Hom staan voor die kruis en sit die misvormde wortel in Sy oop hand. Maar ek wil nie met ’n gat in my loop nie, Vader! So, Hy ruil dit om en gee vir my eer in ruil vir my smart; vreugde in ruil vir my droefheid en blydskap in plaas van my hartseer, net soos Hy in Jesaja 61:3 beloof.

Ek het grys bloekomtakkies met rose van antieke pienk en ivoorwit saam met fynbos in groot silwer kruike gedruk vir ons troudag. Die tafeldoeke was wit. In my hart het ek my skoene uitgetrek en my hoof bedek, want ek het geweet hierdie is gewyde grond. Ek het besef dat God André se pad, wat deur ’n dal van doodskaduwee geloop het, en my reis deur ’n duisend seisoene alleen, gebruik het om ons op die plek te bring waar God ons alles is. Eers toe ons tot die besef gekom het dat Jesus vir ons “genoeg” is, kon Hy ons drome en hoop verguld met die suiwerste goud. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet. Wat ek ontvang het, is vir my mooi.

André neem my hand. Saam stap ons God se vreugdebediening binne. Nés ek dit destyds gesien het.