My lewe gaan nie oor my nie

Dit was een van daardie oproepe wat jy net nie wil kry nie.

“Ang?” Ek kon hoor iets was verkeerd die oomblik toe sy my naam noem. “Haai, Jojo! Hoe gaan dit?!”

“Het jy ‘n minuut?”

“Beslis! Wat is aan die gang?”

Vir die volgende 20 minute het tyd stilgestaan terwyl sy my die hartverskeurende nuus vertel het: “Ek het ovariumkanker.”

Sy moes ‘n operasie ondergaan.

Sy het my natuurlik in haar Jojo-manier verseker dat alles reg sal wees. Of sy hier of in die hemel gesond word, haar saligheid is vas.

Later daardie week het sy haar operasie gehad en ons was baie optimisties na aanleiding van die chirurg se opmerkings. Al die massas is suksesvol verwyder en geen kanker is in die limfknope gevind nie. Biopsies is geneem en al wat ons nou moes doen, was wag op die uitslae om die stadium van haar ovariumkanker vas te stel.

Toe het ek die tweede oproep ontvang. Die kanker was stadium 4. Hulle het haar ‘n jaar gegee voordat die kanker weer sou verskyn.

My hart het gebreek.

Hierdie keer toe ek met haar oor die foon praat, kon ek nie my trane terughou nie, al het ek hoe hard probeer.

Ek moes net vlieg om haar te sien. Sy het my op die lughawe opgetel. Met ons rit terug na haar huis toe, het ons geen tyd versmaai met aangename geselsies nie en reguit tot die punt gekom.

Dis moeilik om jou gedagtes te orden rondom hierdie tipe nuus.

Gedagtes soos: “Hoekom ek?” “Hoekom nou?”, vul jou verstand.

Ons het oor alles gepraat. Die goeie, die slegte en selfs die lelike, hartverskeurende waarheid van die situasie waarin sy haarself bevind het.

Dit was nie wat sy wou hê nie.

Dis nie hoe sy haar lewe voorgestel het nie.

Maar weet jy, Ang … my lewe gaan nie oor my nie.

My lewe is vir sy glorie.”

Die harde werklikheid van die saak is, sy is so reg.

Elkeen wat na my Naam genoem word,

Elkeen wat Ek geskep het tot my eer,

Wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. – Jesaja 43:7

Wanneer ons kies om ons lewe deur Hom, in plaas van onsself te sien, besef ons dat ons lewens nie gaan oor jou of oor my nie.

Ons is gemaak, geskep en uniek gevorm vir sy glorie, nie ons s’n nie.

Sodra ons die lens waardeur ons kyk verander, sien ons moeilike tye, teleurstellings en ja, selfs kanker-diagnoses in ‘n hele nuwe lig.

Wanneer ons kies om God te loof en te prys te midde van stukkende drome en harde werklikhede – neem die wêreld kennis daarvan.

Dis een ding om God op die goeie, maklike dae te prys. Dis iets heeltemal anders, iets bonatuurlik wanneer ons dit deur ons hartseer kan doen.

Wanneer ons kies om nie toe te gee aan Satan se versoeking om ons lewens deur die “eie-ek”-lens te sien nie, maar eerder ons lewens deur die lens van Christus te sien, neem ons lewens ‘n groter doel aan.

In plaas daarvan om ek-gefokus te wees, word ons bediening-gefokus.

Ons hartseer, pyn en kanker-diagnoses gaan van nutteloos tot doelgerig wanneer ons kies om terugslae te sien as geleenthede om God te eer.