Mý lewe: Je-ani Swiegelaar

Je-ani Swiegelaar

Je-ani Swiegelaar is steeds ongetroud, met net ’n papegaai en ’n konyn op haar naam. En sy besef: Elke fase bied iets om te vier.

Jy kan nie.” Dit is die drie woorde wat my nog altyd in rat laat skop het. Ook maar goed so, want waar sou ek vandag daarsonder gewees het?

Dit was keuringsdag by die universiteit. Erg intimiderend. Die paneel dosente wat ’n paar onprofessionele pogings sinies bekyk. Dan keel skoonmaak en ’n oordeel vel: “Jammer, maar jy kan nie drama kom studeer nie.”

Die woorde het stilletjies in my kop weerklink: Wie is jý om vir mý te sê wat ek kan en nie kan doen nie?

Ek het steeds ingeskryf, maar toe die lekkerte van die koshuislewe en die vryheid van studentwees die oorhand kry, het een van die dosente weer op die verkeerde knoppie gedruk.

“Luister hier, meisie. Jy is besig om jou ouers se geld en ons tyd te mors. Dit sal beter wees om op te skop.”

Die hardkoppigheid het weer sterk na vore gekom, en die besluit is geneem: Nou gaan julle ’n ding sien.

Ek het teruggegaan klas toe met ’n bang, en ernstig geraak oor my studies. Hard gewerk en myself gedurig daaraan herinner: Onthou as jy regtig wil, kán jy.

Die einste dosent het aan die einde van die finale jaar kom jammer sê dat hy so kwaai was en hoe trots hy gevoel het oor hoe dinge uiteindelik verloop het.

Dit maak nie saak in watter fase jy is nie, om ’n sukses te maak verg toewyding, harde werk en ’n bereidheid om iets uit elke uitdaging te leer.

[VIDEO] Je-ani Swiegelaar: “Dit maak my bang”

Soos die fase waarin ek nou is. Mense het gesê ná 30 raak die lewe net lekkerder. Regtig? Ek wou dit eers nie glo nie.

Middernag op my verjaarsdag, nog by Innibos, het ’n paar vriende ’n groot koek met kersies van iewers af gebring. Almal het gesing en was reg vir partytjie hou. Behalwe ekke.

Vir my was dit eerder ’n bron van angstigheid. Tussen groot groepe mense waar die kollig net op my val… dit laat die introvert na vore tree. Die skugter Je-ani, wat boonop met die groot vraag geworstel het: So, wat het jy nou eintlik tot op hede bereik?

Wonderlike vriendskappe, ja, en ’n droomberoep, maar daar is ook ’n paar ander elemente wat teen hierdie tyd welkom sou gewees het. Soos om eiendom te kon besit of om in ’n langtermynverhouding te wees, naby aan trou.

Maar hier sit ek, met net twee diere op my naam!

Party naweke alleen tuis, is die gemis tog daar: Dit sou lekker gewees het om nou saam met iemand spesiaals te kon braai. Of rugby te kyk. Of weg te gaan vir die naweek.

Dis nie dat ’n mens jouself bejammer nie, maar die vrae duik tog op. Hoekom het dit nog nie gebeur nie? Wat is fout? Doen ek iets verkeerd?

Dit het introspeksie en ’n goeie skoot insig geverg om te besef dat dit die druk van die samelewing is wat so praat.

Nie een van my hartsmense plaas ooit druk op my om te settle nie. My ouers het nog altyd net gesê: “Maak nie saak met wie jy huis toe kom of hoe jy kies om jou lewe te leef nie, wees net gelukkig.”

Dit maak die toekoms nogal iets om na uit te sien. Daardie wonder oor: Wat lê nog voor? Hoe en wanneer gaan dit gebeur?

Ook, in alle eerlikheid: Om ’n bekende gesig op TV te wees is nogal ’n struikelblok. Ek weet nooit met watter intensies iemand my benader nie.

So het ek al mense ontmoet en gekuier, maar na die tweede, derde koffie vra die persoon: “So hoe lyk dinge? Het julle nie nog ’n dokter in Binnelanders nodig nie?”

Sulke situasies maak dit moeilik om te vertrou. En dis sleg, want ek kies van nature om te glo in die goedheid van mense.

Sosiale media kan my ook partymaal uitboul. Soos die tannie wat eenkeer oor my TV-karakter op Facebook geskryf het: “As Louis en Naomi soen, lyk hulle soos ’n drillende basaarpoeding.”

Wow. My eerste reaksie was om haar te komplimenteer, want sy het ’n fantastiese vergelyking gebruik. Maar eina, dit maak tog seer.

Ek sou tog hoop dat iemand wat al persoonlik met my te doen gehad het, sal sien ek is ’n goeie mens. ’n Persoon wat vir ander lewe. Wat my tyd, die kosbaarste kommoditeit ons gejaagde samelewing, mildelik gee.

Dis wat die begrip “goeie mens” vir my beteken. ’n Voorneme om dit wat belowe word, te doen. As ek byvoorbeeld beloof het om te kom kuier, gaan ek die tyd en energie afstaan om by daardie belofte te hou.

Ons is geneig om te veel te praat en te min te doen.

Om ’n goeie aktrise te wees is lekker, maar dis net ’n bonus. Om as ’n goeie mens geag te word is veel belangriker.

Tog, wat ander dink, is nie regtig so noodsaaklik nie, net solank my eie mense tevrede is. Vir die res: As jy nie van my hou nie is dit jou kruis om te dra, nie myne nie.

Buiten ’n spesiale verhouding, is daar ook die groot droom in my hart: om ’n eie kind te hê.

’n Ruk gelede is die besluit geneem: Dit gáán gebeur, of ek ’n man kry of nie. Die finansies is gereël en ’n afsny-ouderdom is bepaal. As ek teen daardie tyd nog nie getroud is of ’n potensiële lewensmaat het nie, gaan ek met die proses begin om hopelik my eie kind te kan dra.

Liefde beteken dus vir my iets wat van ’n man of van ’n kind af kan kom. Ek glo niemand is gemaak om alleen oud te word nie, en niks gaan my keer om eendag dieper liefde te kan gee of te ontvang nie.

Dis wat so lekker is van hierdie lewensfase. Die volwassenheid om te besef: Jy het vryheid van keuse.

Ek noem dit die “sponsjare”. ’n Tydperk om alles in te neem met ’n bietjie meer wysheid as toe ons jonger was. Om dinge te sien vir wat dit regtig is. ’n Fase om jou menswees en waarde te bepaal, sonder om verskoning daarvoor te maak.

Voorheen was ek nooit juis gelukkig in myself nie, maar perspektief en aanvaarding het geleidelik gekom.

My kurwes, breë skouers, groot kuite… mettertyd het ek dit begin sien soos ander mense dit sien: dat dit mooi is.

Al is dit steeds ’n groot gesukkel om winterstewels te gaan koop omdat my kuite doodeenvoudig te groot is, kan ek met hierdie einste bene ’n fiets trap dat hy klap. ’n Groot rugsak kan met gemak op my skouers gelaai word wanneer ek die berge wil invaar.

Wat meer wil mens hê as ’n sterk, gesonde lyf? So het ek geleer om myne lief te kry en te waardeer.

Ek moes ook vrede maak met die feit dat as ’n mens ná meer as drie dekades nog nie maer is nie, dit waarskynlik nooit gaan gebeur nie.

Oefen eerder gereeld, eet reg, maar geniet die lewe – dis my leuse. Net jy gaan hierdie lyf moet ronddra, niemand anders nie. Maak vrede daarmee en doen die beste met wat jy het.

Wat ’n wonderlike, bevrydende gevoel!

Innerlik is daar ook skaafwerk nodig. Ek kan nogal moeilik wees. Daar is ’n groot onwilligheid om kompromieë aan te gaan. Min ruimte vir ander se opinies.

Dit het duidelik geword met die skryf van my en Germandt Geldenhuys se produksie, Keelvol. My hardkoppigheid het amper ons pogings gekelder.

Maar dit was ook ’n waardevolle geleentheid om te leer hoe om na iemand anders se mening te luister, en dit met my opinies te versoen.

Aan die ander kant is ek ook ’n regte people pleaser. Iemand wat van nature emosies en gevoelens opsy skuif sodat ander mense gelukkig kan wees.

Dit het darem al met tyd en ouderdom verbeter. Deesdae is “nee” my nee, en “ja” my “ja”. Ek skroom nie meer om te sê hoe ek regtig voel nie. As ek iets nie wil of kan doen nie, sê ek so.

As iemand deesdae vir hulp vra, is die vraag: Hoe gaan dit my affekteer? Gaan ek te na gekom word daardeur?

Hou dan verby.

Wat my volmaak, is om lekker te werk saam met kollegas, by die huis te kuier saam met vriende, sport te kyk en fiets te ry.

Eintlik is my lewe maar vervelig, maar wat daarvan? Dis die dinge wat my gelukkig maak.

Met die skryf van ons eie produksie het die besef gekom dat jy jou eie grootste inspirasie en motiveerder kan wees. Moenie net dink of droom oor ’n ding nie. Doen dit! Daag jouself uit. Wees die rolmodel wat jy graag in ander wil sien.

So het ek en Germandt op ’n dag gesels oor hoe lekker dit sal wees om vis te vang. Maar wag, wat keer ons? En so is ons reguit winkel toe. Koop die stokke, span die lyne, en daar gaan sit ons langs ’n dam en hengel. Man, was dit lekker!

Nog ’n gewaarwording in hierdie fase is die verrassende besef dat die lewe glad nie so ’n groot wroeging is soos wat mense dit uitmaak nie.

Dis oukei om soms te kla. Ons mag maar. Maar kla vir net vyf minute en kom dan daaroor, want dit gaan altyd slegter iewers anders. Wanneer ek en my vriendin Leandie (du Randt) een keer per week saamkuier, skink ons ’n glas wyn en pak eers goed af. Kla en raas oor alles wat pla, en dan volg die raadgee, inspirasie en motivering.

’n Vrou vertel nou die dag hoe graag sy Amerika toe wil trek, “want plekke soos New York is so mooi,” kerm sy.

Nè? “Was jy al daar en daar?” vra ek, en noem ’n paar vrot plekke op waar dinge nie so rooskleurig lyk nie. “Gaan jy regtig jou land en jou mense opgee, omdat New York mooi is?”

Nee, wat. Perspektief is belangrik.

Ekself het geen planne om te emigreer nie. Die liefde vir ons land, ons mense en kultuur is te groot. As die volkslied gespeel word, is ek die een wat nog plegtig sal opstaan en saamsing.

Hoekom vlug? Hoekom ’n ander land gaan verryk as jy dit nog nie hier gedoen het nie?

Ek voel vreeslik trots op hoe ver ons gekom het en kan nie wag om te sien waar ons land oor twintig jaar gaan wees nie. Hier is soveel passie, vindingrykheid en diversiteit – en dit maak my gelukkig.

Geluk is ook opgesluit in die eenvoudiger dinge: om vir my diere kos te gee, die huur te betaal, ’n vriendin op ’n koppie koffie te trakteer. Hierdie dinge is moontlik as gevolg van ’n werk wat my vervul.

So, ondanks die klein dingetjies wat pla, voel ek gelukkig met wie en waar ek in die lewe is. My vriende raas met my, maar dis waar.

Ek is ’n plain Jane. Doodgewoon en gemiddeld. ’n Muurblommetjie. Maar ek wil die beste muurblommetjie moontlik wees.

Mense soos ek is nodig in hierdie wêreld, want sonder ons kan die ware supersterre nie uitstaan en helder skyn nie.

Daar is net ’n handjievol wat die beste in die wêreld kan wees in wat hulle doen.

My doelwit? Om die beste Je-ani te wees.

Dán is ek gelukkig en tevrede.