My liggaam vir jou genot

0
25
liefde_met_passie.jpg

Jou voete is so mooi in jou skoene, edel dogter,
die rondings van jou heupe is soos juwele
wat deur kunstenaarshande gemaak is.
Jou naeltjie is ’n ronde kom
waarin die kruiewyn nie ontbreek nie.
Jou maag is ’n hoop koring
met lelies omring.
Jou twee borste is soos takboklammers,
soos die tweeling van ’n ribbok.
Jou nek is soos ’n toring van ivoor,
jou soos die damme by Gesbon,
by die poort van dié groot stad.
Jou neus is soos die toring op Libanon
wat na Damaskus toe kyk.
Jou kop is soos die Karmel,
jou hare soos rooi wol,
jou haarlokke bekoor die koning.
(Hooglied 7:1-5)

Die boek Hooglied is ’n versameling liefdesliedere – om die waarheid te sê, ’n versameling erotiese liedere. Deur die eeue was beide Jode en Christene maar ongemaklik oor die eksplisiete wyse waarop die man en vrou in hierdie boek hulle fisieke liefde vir mekaar verklaar. Die gevolg was dat albei groepe probeer het om die erotiese aspekte van Hooglied “weg te verduidelik” om dit darem “waardig” genoeg te maak vir die Heilige Skrif. Die Jode het die liefdesverklarings verduidelik as “liefde tussen God en Israel”, terwyl Christene vandag nog geneig is om dit te vertolk as ’n beskrywing van die liefdesverhouding wat daar tussen Christus en sy kerk bestaan.

Borste as Testamente

Al hierdie pogings spruit uit die feit dat die mens nie kan glo dat God dit sou toelaat dat sulke erotiese sake so eksplisiet in die Goddelike Woord beskryf word nie. ’n Populêre uitweg is dus om elke beskrywing te vergeestelik. Dit het nogal tot lagwekkende verklarings gelei. In Hooglied 7:3, byvoorbeeld, besing die minnaar sy geliefde se twee borste. Hy sê dat haar borste vir hom soos takboklammers is. In die vroeë Kerk was Skrifverklaarders dan gou by met die verduideliking dat dit eintlik dui op ’n Christen se liefde vir die twee Testamente, naamlik die Ou en Nuwe Testament!

Die waarheid is egter dat hierdie minnaar regtig sy geliefde se borste uiters eroties beskryf. As ons nou probeer om dit ’n mooi geestelike betekenis te gee, is ons eintlik besig om die oorspronklike betekenis van die teks te ontken. Maar hoekom sê die digter dat sy vrou se borste hom aan takboklammers laat dink? As ons na outydse afbeeldings van takboklammers kyk, sien ons dat die antieke mense baie lief was daarvoor om takbokke te teken wat spring en huppel. Dit lyk dus of die minnaar die “springerigheid”, die op en af bewegings, van jong, ferm borste beskryf. Dit lyk vir hom net soos bokkies wat oor die veld hardloop en spring! Wat ’n pragtige erotiese beeld!

[pagebreak]

Dit sou interessant wees om te sien wat gebeur as ’n moderne skrywer sy liefde vir God se Woord in terme van sy liefde vir ’n vrou se borste sou beskryf! So ’n boek sal onmiddellik as heiligskennis bestempel word. Tog is dit presies wat ons doen as ons die boek Hooglied geestelik verklaar. Nee, kom ons aanvaar eerder dat God wat ons geskep het, en wat al ons erotiese drange ken, geen probleem daarmee het dat ons dit met die man of vrou wat ons liefhet, gaan uitleef nie. God het dit selfs goedgedink dat hierdie erotiese liedere waarmee ’n man en ’n vrou mekaar se liggame besing, wel deel mag wees van sy Goddelike Woord.

Jy mag dus as vrou jou liggaam ten volle aan jou man bied sodat hy dit kan geniet, terwyl jy dit self ook geniet. Net so mag jy weer op jou beurt die fisieke aspekte van jou man se liggaam geniet (soos ons in deel 14 van hierdie boek sal sien).

Mooi van tone tot kop

Kom ons bekyk die aanhaling van naderby om te sien hoe elke deeltjie van die vrou se liggaam deur haar geliefde geniet word. Haar minnaar besing haar liggaam van kop tot tone – of liewer van tone tot kop! Hy begin deur te sê dat haar voete so mooi is vir hom. Daarna gaan hy voort om haar liggaam opwaarts te beskryf: heupe (eintlik dye), naeltjie, maag, borste, nek, oë, neus, kop en hare.

Moderne verklaarders wys daarop dat as die man sy geliefde van onder na bo beskryf, die volgorde nie “heupe, naeltjie, maag” kan wees nie. Die naeltjie lê tog nie tussen die heupe (dye) en die maag nie. Hulle verduidelik dan dat die Hebreeuse woord wat met “naeltjie” vertaal is, net so goed met “skaamspleet” vertaal kan word. Dit maak ook beter sin omdat die skaamspleet inderdaad tussen die dye en die maag lê. Ons lees verder dat “kruiewyn nie ontbreek” in haar “skaamspleet” nie. Dit verwys waarskynlik na die klammigheid (afskeiding) in die vrou se vagina (wat hier beskryf word as ’n “ronde kom”).

Nietemin, die minnaar is betower deur die pragtige liggaam van sy geliefde en hy gebruik talle beelde om uiting te probeer gee aan sy bewondering. Baie van die beelde maak nie altyd vir ons sin nie, omdat ons nie oor genoeg agtergrondkennis beskik nie. Min moderne vrouens sal gevlei voel as hulle minnaar hulle maag met ’n hoop koring vergelyk, of hulle nek met ’n toring van ivoor, of hulle oë met die Gariepdam!  Nogtans is dit duidelik dat hierdie minnaar elke sinnetjie as ’n kompliment bedoel.

[pagebreak]

Elke beeld ’n mond vol

Maar kom ons kyk tog na ’n paar maniere hoe ons hierdie beelde kan verstaan. Die ronding van die vrou se heupe laat haar minnaar dink aan die ronding van juwele. Haar maag is soos ’n hoop koring. Dit verwys moontlik verwys na die geelbruin kleur van haar maag. Die koring mag dalk ook ’n simbool wees van die vrugbaarheid van haar buik (baarmoeder). Deur te sê dat haar oë soos damme is, bedoel hy moontlik dat haar oë so helder en glansend is soos die water in die damme.

Daar is al baie gegis oor hoekom hy haar nek met ’n toring van ivoor vergelyk en haar neus met die toring op die Libanon. Sommige geleerdes reken dat die minnaar na die vorm van die nek en neus verwys. Die betekenis is dan dat haar nek lank en slank is, en haar neus moontlik spits.

Tog is daar ’n ander verklaring wat meer oortuigend lyk. Die funksie van ’n toring in die antieke tyd was om ’n stad of gebied te beskerm. As die invaller so ’n toring gesien het, het hy besef dat hy nie sommer net kan aanval nie, daar kan weerstand gebied word! Dit is dus meer waarskynlik dat die verwysings na die neus en nek na hierdie vrou se houding verwys, naamlik dat sy nie sommer net “oorgeneem” of “ingeneem” kan word nie. Daardie weerbaarheid wat sy uitstraal, verhoog juis die erotiek van die lied. Hierdie pragtige vrou sal nie sommer in jou skoot val nie. Sy is geen goedkoop meisie nie! Daar is dus ’n baie fyn spel tussen die pragtige vrou se aanloklikheid aan die een kant en die afstand wat sy bewerkstellig aan die ander kant. Hierdie verklaring vir die nek en neus wat met ’n toring vergelyk word, is baie aanneemlik omdat dit inderdaad so is dat ’n mens vandag nog in ’n groot mate jou houding verraai deur die manier waarop jy jou nek en neus hou. Vandaar dan ook uitdrukkings soos ’n “stywe nek hê” en “met die neus in die lug loop”, wat albei beteken om “hoogmoedig te wees”.

Die lied word afgesluit met die opmerking dat ook die hare van die vrou die koning betower. Die minnaar word in die boek Hooglied as ’n “koning” voorgehou (kyk bv. Hoogl. 1:4, 12).

Hierdie is ’n pragtige erotiese lied van ’n minnaar wat die liggaam van die vrou wat hy bemin, in besonderhede beskryf. En God het dit goedgedink dat hierdie lied deel mag wees van sy Woord. Daarom hoef ’n vrou skuldig te voel wanneer sy haar liggaam onweerstaanbaar aanbied vir haar minnaar nie. En om haar man se seksuele drif nog verder aan te wakker, bou sy daardie tikkie weerstaanbaarheid in. Sy sorg dat hy haar nie sommer oorrompel nie, en daardeur verhoog sy die plesier van die belewenis.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.