“My man is deur rebelle ontvoer!”

0
210
gyselaar.jpg

Lorna Greyling en haar gesin het die nagmerrie van ’n Nigeriese ontvoering deur God se genade oorleef.

Dis Dinsdagaand. Die kerk se bidgroep kom by ons huis bymekaar om te bid oor die onmoontlike situasie wat ons gesin getref het. Almal se senuwees is gaar. My man, Nick, ’n klankingenieur by Supersport, is die vorige dag saam met ’n groep onskuldige mense in Nigerië deur rebelle ontvoer. Ons het nog niks weer van hom gehoor nie. Die gedagte dat hy dood kan wees, bly in my kop maal.

Toe die foon lui, is ek dáár. Dis Nick se nommer op die skerm. My hart klop wild in my keel, maar ek is nie naastenby voorbereid op wat ek hoor nie… “Help my! Help my! Hulle gaan my skiet!” Die angs en pyn in Nick se stem laat my bene onder my invou. “Asseblief! Help my! Asseblief!” herhaal hy sy pleidooi. Oor die foon kan ek hoor hoe die rebelle hom slaan. Dit voel asof iets my aan die keel gryp; ek kry nie asem nie. Pynkrete rol oor Nick se lippe… reguit in my kop in.“Eina! Help my! Asseblief! Almal se nommers is af! Almal se fone is af! Hulle gaan my skiet!” skree Nick.

Die rebelle dwing die groep gyselaars om met hulle familie kontak te maak sodat daar oor ’n losprys vir elkeen onderhandel kan word. Die booswigte weet presies wat hulle wil hê, en hoe om dit te kry. Hoe erger hulle slagoffers aangerand word, hoe groter word die som geld wat hulle hoop om hieruit te maak. Nick kon net deurkom na my selfoon toe. Ek is oneindig dankbaar om sy stem te hoor, maar die wrede realiteit van sy omstandighede tref my soos ’n voorhamer tussen die oë. Skielik hoor ek iets wat klink soos ’n geweerskoot… en toe gaan die foon dood. Die skok van die oomblik verlam my.

Nick gaan baie weg, soms tot drie maande lank. Dat enigiets verkeerd kan loop, is nie ’n moontlikheid waaraan ons ooit regtig dink nie.Maar dié dag was anders. Daar was ’n swarigheid tussen ons, amper asof ons iewers diep binne geweet het dat hy nie hierdie keer moes weggaan nie. Ek was heeldag hartseer en tranerig. Ons het mekaar aanhoudend gebel en as ons bymekaar was, het ons mekaar styf vasgehou. Hy sou maar vir drie weke weggaan. Ander kere was dit nege weke, of selfs langer. Hierdie keer was die afskeid bitter moeilik. Ons het aanhou gesels, lank nadat hy al lughawe toe moes ry. Uiteindelik het hy in die motor geklim, maar ek het drie keer teruggehardloop en uitgeroep: “Stop! Stop!” en hom wéér gaan soen.

Die volgende dag het soos enige ander oggend begin. Ek het vroeg opgestaan en ons dogtertjies reggekry vir skool. Op pad by die deur uit, piep my selfoon. Ek kyk vinnig. Dis een van my kliënte wat gereeld vir my bid en elke nou en dan ’n Bybelvers of boodskap SMS wat op haar hart gelê word. Vanoggend het sy Psalm 91 gestuur, en in haar eie woorde bygevoeg: “No harm will come to you or any of your family members. Toe ek later die dag die nuus kry dat Nick ontvoer is, het ek dadelik die boodskap op my selfoon onthou. Psalm 91 het in my gees opgestoot. Oor en oor het ek die Here se stem gehoor: “Moenie bekommerd wees nie. Ek is by jou. Niks sal hom oorkom nie.”

Dus, my eerste gedagte was om nie my te bekommer nie… maar dan begin die vrae in jou kop rondmaal: Is hy gewond, bang, honger? Het hy seergekry? Wat maak hulle met hom? En later: Wat as hulle hom doodmaak? Wat as ons hom nooit weer sien nie? Ek is te jonk om ’n weduwee te wees. Ons drie dogtertjies is te klein om sonder ’n pa groot te word!

[pagebreak] Teen Sondag, sewe dae na die ontvoering, gaan ek vroegoggend kerk toe, nog voor die meeste mense begin opdaag. Ek is besig om moed te verloor. Al die gyselaars is al twee dae gelede vrygelaat, behalwe Nick! In die middel van die kerk gaan lê ek op die grond voor die Here en huil. Ek is so, só moeg. “Help my, help my! Gee my krag en maak my sterk vir nog ’n dag, want ek voel ek kán nie meer nie.” My hart is seer en ek het ’n oorweldigende verlange na my man. Dis onmoontlik om die pyn te beskryf – dis ’n fisiese pyn wat in jou hart en keel kom sit. My hele wese roep om hulp.

Later rol ek om en lê op my rug. Ek kan God se teenwoordigheid soos ’n wolkkombers oor my voel neersak. Krag, vrede, blydskap, geloof, hoop, liefde. Ek bly net daar lê en drink dit in. Van die ander bidders wat ook vroegoggend inkom, kom staan om my en begin bid. Skielik voel ek ’n yskoue hand op my been, maar ek maak nie my oë oop nie. Dit voel soos ’n engel wat langs my staan. Die volgende oomblik fluister die Here in my binneste. “Kyk na jou hande. Kyk wat is op jou hande.”Ek sit regop en maak my oë oop. Is dit waar? Kan dit wees? Uit my hande kom ’n goue stof! Wanneer God se heerlikheid fisies manifesteer, is dit soos suiwer goud! Ek gryp dadelik my selfoon om dit af te neem. Dis ongelooflik! ’n Ware teken dat wonders nog gebeur en dat God deur alles – en ten spyte van alles – stééds in beheer is.

Daardie aand kry ek weer ’n SMS van Nick af, maar hierdie keer om hom by ’n spesifieke nommer te bel. Ek tik die syfers so vinnig in as wat my vingers kan byhou. So lank as wat ek leef, sal ek nooit daardie gevoel vergeet toe Nick antwoord nie: “Liefie, ek is uit, ek is uit! Ek is vry. Dis verby!” Ek onthou ek het op my knieë neergeval en begin huil. Totaal oorweldig. “Ek glo dit nie! Is dit regtig? Is dit jy? Is jy uit?” “Ja, ja! Dis verby.” En dit was. Ek kon net die Here daarvoor loof en prys! Gedurende die nagmerrie-week terwyl Nick aangehou is, het ons oudste dogtertjie, Miré (toe 7),’n prentjie vir haar pa geteken. Min het sy (ons) besef dat haar sketsie eintlik profeties was: Die boonste gekrap het die bose magte voorgestel wat haar pappa kom vat het. In die middel was die omringende bosse waarin Nick en die groep gyselaars dae lank aangehou is. En heel onder was die liefde van God en die mense se gebede wat haar pappa weer veilig by die huis sou besorg. God was inderdaad getrou aan sy belofte… en ek is só bly dat ek gekies het om dit te glo!

Lorna tree graag as spreker op om haar getuienis te deel. Of lees haar boek, Ontvoer! Waarin sy en Nick elkeen, vanuit hulle eie perspektief, van hulle nagmerrie-ondervinding vertel (lornagreyling@yahoo.com).