My oomblik onder die vragmotor

0
344
irene_fischer.jpg

Die dokters het gesê sy sal nooit weer loop nie, maar na twee miljoen minute bewys Irene Fischer hulle verkeerd.

Irene Fischer, voormalige OFM-omroeper, gesels nog net so lekker soos toe sy radiowerk gedoen het, maar nie meer so maklik nie. Na die ongeluk is sy gedeeltelik verlam aan die een kant van haar lyf. Die woordeskat en vlymskerp humor is nog daar, al praat sy stadiger en met moeite. Dit help egter nie om haar oor die ongeluk uit te vra nie – sy onthou niks. Nie voor, tydens of na daardie drie sekondes op ’n Oktoberoggend in 2009 toe ’n vragmotor ’n rooi verkeerslig verontagsaam het en in haar vasgeploeg het nie. Op foto’s van die wrak is die regterkant van die motor heeltemal weg. Daar waar sy gesit het.

Irene se storie gaan egter nie oor daardie drie sekondes nie. Dit gaan oor die jare daarna. En oor die vrou met haar can do-houding wat vandag ’n missie het, iets waarmee sy blykbaar nie gebore is nie. “As jy niks besonder goed kan doen nie, wat maak jy dan? Jy kerf vir jouself ’n missie uit. Net omdat dit nie organies in jou gebot het nie, maak dit geensins minder cool nie.” Vandag is sy ’n welwillendheidsambassadeur vir Loslitdag en woordvoerder vir die Vereniging vir die Beskerming van Verkeerslagoffers (Association for the Protection of Road Accident Victims – APRAV). Sy wil bewustheid skep en mense leer oor gestremdheid: wat dit is en hoe om dit te hanteer. “Al moet ek dit een mens op ʼn slag doen!” Maar daar was ook ’n tyd toe sy minder braaf was. Heelwat minder.

“Die jaar 2012 was vir my besonder rof. My hare het begin uitval van die anti-epileptiese pille wat ek moes drink. Dit het my erg ontstel, want my hare was amper die enigste ding aan my wat nog dieselfde was as voor die ongeluk.” Die impak van die ongeluk het Irene se lewer en milt geskeur, haar bekken, sleutelbeen en skouer gebreek, en een ribbebeen het haar regterlong deurboor. En dan was daar ook die traumatiese breinbesering wat haar ’n hemipleeg gemaak het – ’n woord wat sy nie eers voor die ongeluk geken het nie. “Dit beteken basies dat ek die willekeurige beweging aan die een kant van my lyf verloor het.” Die breinbesering het nie haar intellek aangetas nie, maar feitlik al die ander terreine van haar menswees. “Ek raak gou ontsteld en al my sintuie het ’n knou gekry – my sig, gehoor, spraak, tassin, reuk en balans.

“Ek reken jou lyf kan net ’n sekere hoeveelheid trauma hanteer voor dit knak en jy doodgaan. Ek was vies vir die dokters wat my lewe gered het, want ek was dood. My hart het twee keer ophou klop en ek het langer as twee uur nie self asemgehaal nie. Hulle moes my laat gaan het. Maar toe druk hulle pype in my lyf en pomp my vol medisyne en nou is ek terug. Gebreek. Destyds was ek só ontevrede omdat ek nog hier is…

“Dis die vreemdste gevoel om uit hierdie veranderde dop vir die wêreld te kyk en te sien hoe ongeërg sommige mense my hanteer, net omdat ek snaaks klink as ek praat, rukkerig loop en my gesig gedeeltelik verlam is. Dis eintlik skrikwekkend. My een oog is kleiner as die ander een en dit ontsenu mense.

“Maar ek het oorleef en ek is nog hier. Hier binne. Ek is herverpak en lyk dalk effens anders. My lyf is eintlik net ’n tipe vermomming, nes joune. So, praat met my, stel belang of glimlag net. Dis nie my skuld dat ek so lyk nie, ek het nie daarvoor gevra nie. Jy hoef nie my beste vriend te word nie, erken my net. Vir my en al die ander gestremdes.

“Gestremd. Dit het ’n rukkie gevat voor ek aan die woord gewoond geraak het. Aanvanklik het ek na myself verwys as differently abled of met funksionele inperkings. Maar toe sluk ek verlede jaar my trots en noem myself ’n gestremde. Ek onthou dit nog goed. Jacqui January het ’n onderhoud met my gevoer in RSG se Leefwêreld van die gestremde. Ek het besef dis ’n woord wat die meeste mense verstaan, al is hulle opinies daaroor verwronge. Maar ek het myself belowe dat die woord my nie in ’n boks sal prop nie. Nooit nie.”

Na die ongeluk was Irene soos ’n baba – in ’n vrou se lyf. Sy moes weer deur al die ontwikkelingsfases van ’n kind gaan. Eers leer praat, toe eet, potty train, kruip en uiteindelik loop. “My stem was letterlik weg. Kan jy glo dat die brein jou stem insluk as dit groot genoeg skrik? Aanvanklik het ek woorde met my vinger op ’n alfabetbord gespel om te sê wat ek wou. Gelukkig kan ek niks daarvan onthou nie. Kan jy jou die magteloosheid indink? Twee weke na die ongeluk het ek my eerste woorde gesê: I love you, Mommy. My spraakterapeut was Engels en ek dink ook ‘Ek het jou lief, Mamma’ was te lank.”

Sy moes ook drie maande lank ’n doek dra. Op 26. “Daar is iets baie vernederends daaromtrent, maar ook pretensieloos. Ontsettend baie dinge word irrelevant – plooie, gewig, mode, status, geld. Niks waarvoor jy moet betaal, maak saak nie. Al wat saak maak, is die dinge in die lewe wat verniet is, maar wat geen geld in die wêreld kan koop nie. Dinge soos liefde, vrede, omgee, geluk, geduld, dankbaarheid…”

Daar is vir Irene gesê sy sal nooit weer loop nie. Nooit weer werk nie. Nooit weer bestuur nie… “Whatever! Dit het drie jaar en nege maande gevat, maar ek loop weer. Stadiger as ’n skilpad, maar vorentoe. Ek het weer leer swem en perdry. Op die oomblik is ek besig met bestuurslesse. Ek sal alles probeer, meer as een keer. As ek nie slaag nie, sal ek beslis iets daaruit leer. Alles het waarde, dit hang net af van hoe jy daarna kyk,” sê sy. Al moet sy soms selfs ’n oogklap dra. Omdat haar sig en oë beskadig is, het sy pal dubbelvisie. Wanneer dit te erg raak, sit sy ’n bont oogklap aan, want niks aan Irene is vaal en vervelig nie!

“Ek het nie meer ’n traumatiese breinbesering nie,” meen Irene, “want die woord besering dui op iets wat nog moet herstel. Iets of iemand wat op die oomblik ongemak of pyn verduur – en ek het dit nie. Ek is gesond en voel fantasties, en het ook nie meer breinskade nie. Die woord breinskade klink vir my soos hierdie bose ding wat in my kop bly sluimer en smeul. En dit is glad nie die geval nie. Die nagevolge van die skade aan my brein is wel blywend, maar die breinskade is beslis nie ’n konstante toestand van agteruitgang nie.

Emosioneel en psigies moes Irene ook van voor af weer ryp word en leer om haar nuwe lyf te verstaan. Met die hulp van ’n sielkundige en ’n psigiater het sy haar impulsiwiteit en onstuimige emosies beter begin verstaan en hanteer. “Ek moes leer om gaaf met myself te wees en myself te beskerm. Al hoe ek dit kan regkry, is om mense te leer hoe om my te hanteer. Ek is ook op goeie medikasie gesit en cruise nog steeds daarop!”

Al is haar mond effens verlam en wil die een voet nie altyd so gemaklik die ander een volg nie, is daar geen keer aan Irene nie. Sy is rou eerlik oor wat met haar gebeur het en hoe dit nou gaan. Ten spyte van haar uitdagings, het sy vir haar ’n missie uitgekerf. Of dalk te danke daaraan.

“Geeneen van my gestremdhede kan gesond word of genees word nie. Ek is nie siek nie, ek is net gestremd. Ek is permanent verander, maar is nou in ’n baie goeie toestand! Dit het 21 operasies geverg om my in die beste moontlike werkende toestand te kry. Al wat ek nou moet doen, is om my gesondheid in stand te hou.”

Irene hou gereeld motiveringspraatjies en het onlangs ’n manuskrip voltooi oor haar reis sedert 2009 deur die lewe as ’n gestremde. “Hopelik skep die avonture wat ek beleef het en my ontdekkings oor die menslike brein meer bewustheid oor traumatiese breinbeserings en hemiplegie.”

Vir ’n lang ruk was Irene skaam oor hoe sy praat. In die video hieronder kan jy hoor hoe sy met selfvertroue vertel hoe trots sy op haar stem is.