My prentjie van God

Ek wonder hoe Jesus gevoel het oor die mense vir wie Hy aarde toe gekom het wat hulle rûe op Hom draai.

Hy is hier om goed te doen. Hy maak hulle gesinslede gesond. Hy laat hulle lam vriende loop. Die blinde oom in die familie sien weer. Die tannie oor wie se bloedvloeiing mense agter die hand gepraat het en wat altyd eenkant gesit het, sit nou saam en lag en praat.

Jesus het vir elkeen van hulle gekom en tog is daar mense wat nie die volle prentjie kan sien nie. Ja, ons kan so maklik glo dat net ons eie prentjie die waarheid is. Ek sit in die Kruiskerk hier op my dorp. Dis Sondagaand. Die prediking is anders. Die een prediker is van die gemeente en die ander is Stef Bos. Hulle praat oor geloof, oor God, familie en vaderskap. Stef sing ’n paar songs. En in ’n helder oomblik besef ek dat hy ’n ander prentjie van God het as ek. Ek post op Facebook: “Vanaand in die Kruiskerk besef ek my prentjie van God is nie die enigste prentjie wat reg is nie…”

Baie van die ouens vir wie Jesus aarde toe gekom het se prentjies was nie te lekker nie. Jesus het nie in hulle prentjies van God ingepas nie. Dit is so jammer dat hulle nie die ruimte gehad het om hulle prentjies ’n bietjie aan te pas nie. Jammer dat hulle gedink het hulle het die enigste regte prentjie en al die ander is verkeerd. Die uiteinde is nie goed nie…

Ek moet my prentjie maar weer ernstig gaan bekyk. Ek moet my tekortkominge besef. Ek moet myself en my doen en late in lyn kry met God se prentjie. Ek moet oor en oor in my kop sing dat Jesus my vriend is, dat Hy eerste van sy kant af vir my gesterf het. Ek moet seker maak dat ek met die dinge wat ek doen nie my rug op Hom draai nie. Dan sal my prentjie soos God se prentjie lyk en sal my lewe anders wees.