“My seun sterf … en ek begin lewe”

0
89
storie_van_hoop.jpg

Hy was haar hart se punt, haar kosbaarste geskenk. Toe gebeur die ondenkbare, en Judene Visser leer dat die dood ’n baie waardevolle leerskool oor die lewe is.

Ek is só moeg. My oë is dik gehuil en my kop wil bars. Dankbaar sak ek in een van die hospitaal se lang, stil gange neer. Daar is nie mense nie, nie masjiene nie. Geen teken van die werklikheid wat ’n entjie verder besig is om in my grootste nagmerrie te ontaard nie.

Met my knieë opgetrek tot teen my bors voel ek skielik verskriklik klein. Die enormiteit van die situasie is besig om my te verswelg. Drie dae gelede is breinvliesontsteking by ons seun, Juan-Pierre (19), gediagnoseer. Oornag is ons sterk, gesonde kind deur ’n bakteriële infeksie platgetrek wat besig is om sy ingewande tot ’n sagte pulp te vernietig. Is daar nog enige hoop? Beteken ons gebede iets? Is dit my skuld?

Van ver af hoor ek die voetstappe aankom. Dit klink na manskoene, maar ek is te moeg om op te kyk. Die skoene loop verby, maar gaan staan en draai om. Stap terug tot reg voor my. Bruin en blink, nes my oupa s’n. Dan kom sit hy langs my op die vloer. Knieë opgetrek, nes ek. Met groot moeite kyk ek op, vas in die dokter se oë. Omgee-oë. Hulle raak waterig terwyl hy praat.

“Ons kan geen breinaktiwiteit opmerk nie,” sê hy sag. My seun is … breindood? Ek het net twee vrae. “Is daar enige moontlikheid dat breinaktiwiteit kan terugkeer?” en “Het JP enige pyn?” Net een van my vrae kry die antwoord waarvoor ek gehoop het.

Die tyd is besig om uit te loop. Ek vra nóg ’n keer dat my seun se lot verander word. Ek wéét dis moontlik. As JP vandag, in hierdie laat stadium van die siekte, op ’n onverklaarbare manier genees word, sal dit tog ’n wonderwerk wees! Ek sal die res van my lewe daaraan wy om mense van Sy grootsheid te vertel. “Gee my net die kans!” Niks verander nie.

Later vra ek anders: “As sy lewe dan nie gespaar kan word nie, laat dan net toe dat sy liggaam gespaar word,” smeek ek. “Asseblief! Ek sal hom voer en skoonmaak. Liefhê, vertroetel en vertel hoe spesiaal hy is, selfs al kan hy niks verstaan nie.” Ek weet dit was selfsugtig – om vir ’n gestremde seun te vra eerder as ’n dooie een.

[Pagebreak] Net mense wat al self verby die punt van desperaatheid gedryf is, sal dit moontlik verstaan.

God het anders besluit. Dis amptelik. JP word breindood verklaar. Sy jong lewe is kortgeknip. Maar vir ons, vir my en my man, Siegmund, is dit net die begin van ’n lang, pynlike reis na aanvaarding en begrip. ’n Wanhopige soeke na antwoorde.

JP was ’n wonderlike, geliefde kind. Die 700 mense by sy begrafnis het dit almal geweet. Ons het hom van kleins af probeer leer om verantwoordelik en selfversekerd te wees. Om altyd die pad van hoë morele standaarde te kies. Hierdie lesse het hom gevorm tot ’n selfversekerde jong man met mooi maniere en ’n goeie hart. Ons was só trots op hom.

Hy was suksesvol en gewild. En dankbaar. JP het altyd sy liefde en waardering vir ons gewys. Soms het hy ons gedruk dat ons ribbes wou kraak. Ander kere sou hy ’n briefie in sy lelike kraphandskrif los wat sê: “Ek mis julle. Dankie vir alles. Ek is lief vir julle.”

Ek mis hom en al die duisende herinneringe wat ons lewe saam so kosbaar gemaak het. Ek mis sy opwekte stem oor die foon wat my altyd gegroet het met: “Hallo, Judes.” Niemand sal ooit my geliefde seun se skoene kan volstaan nie.

“Hoekom?” is die een vraag wat al hoe harder in my binneste kom hamer het. Hoekom moes hy sterf? Waar is hy nou? Kan daar enigiets goeds uit sy dood kom?

Ek het nie gedink God sal my antwoord nie, maar Hy het. Stukkie vir stukkie het my persepsie oor die lewe, en die dood, begin verander.

My grootste gewaarwording was dat die Here soms lyding gebruik (let wel, ek sê nie veroorsaak nie) om mense te verander en nader aan Hom te bring. Ek het in ’n Christelike huis grootgeword. Ek het gereeld kerk toe gegaan, maar ek het nie naby die Here geleef nie. Die trauma van ons seun se dood het hierdie behoefte in my wakker gemaak.

Bybelverse wat ek as kind gehoor het, maar wat geen sin gemaak het nie, het skielik lewe begin gekry. Ek kon dit verstaan en prakties toepas. Ek het begin agterkom dat God direk betrokke is in my lewe, en dat ek eintlik min of geen beheer het oor die pad wat Hy alreeds vir my gekies het nie.

[Pagebreak] Dit was ’n verligting om te weet ek hoef nie net op my eie oordeel staat te maak nie; ek kan op God vertrou om vir my die pad te wys. My keuse om my lewe geheel en al aan Hom oor te gee het die intense pyn van my seun se dood draagliker gemaak.

Ons trap maklik in die slaggat om status en toekennings na te jaag, maar dit kan in een verblindende oomblik alle sin verloor. Al wat dan saak maak, is ons geestelike status.

God was ons genadig en het deur ’n vriendin se droom gewys dat ons seun dolgelukkig in die hemel is. Ek het Hom gesoebat vir hierdie teken en is oneindig dankbaar daaroor.

Ek het ook geleer dat jy jou trauma tot God se eer kan gebruik. Nadat ek my lewe vir Hom gegee het, het ek met hierdie knaende gevoel gesit dat JP se dood nie verniet was nie. Ek móés iets goeds daarmee doen, maar wat? Moet ek op die straathoeke gaan staan en preek? Wie sal luister? En wat sal ek sê? Ek was verskriklik opgewonde toe ek hoor dat die skrywer van my gunstelingboek by ’n vriendin se kerk sou optree. Ek kon nie wag om te hoor waaroor dr. Isak Burger sou preek nie.

Sy boodskap het nie teleurgestel nie. “Wat wil God hê moet Christene doen?” het hy my einste vraag van die preekstoel af herhaal. “Hy verwag nie van jou om jou werk te los en vir die nasies te gaan preek nie. Hy verwag nie van jou om op te trek in Afrika om Sy Woord te gaan verkondig nie. Al wat Hy van jou verwag, is om met ander te deel wat Hy vir jóú gedoen het – en jy begin by jou geliefdes en die mense na aan jou. Dis al.” Ek was só bly dat God my op hierdie duidelike, eenvoudige manier geantwoord het.

Al my ander vrae is een vir een beantwoord, en ek is vandag – meer as ’n jaar na JP se dood – steeds besig om nuwe dinge te leer. Jy kom nooit óór jou kind se dood nie, maar jy kom wel déúr dit – en jy besef daar is soveel meer as net hierdie wêreld.

Ek was blind, maar nou kan ek sien. Daar is ’n ewigheid wat op elkeen van ons wag … en dís waarvoor ons eintlik moet leef.