“My skool se deure kon oopbly”

656

Charmaine het nie net amper haar skool verloor nie, maar ook haar man. Vandag is sy dankbaar dat sy haar trots in haar sak gesteek en hulp gevra het.

“Op ’n baie jong ouderdom het ek die passie ontdek om met kinders te werk en het altyd ’n begeerte gehad om my eie skool te begin.

“Ek is toe met ’n wonderlike man getroud wat self ook lief is vir mense. Saam het ons besluit om vir my ’n skool oop te maak en het toe een gekoop wat reeds bestaan het.

“Wel, dit was baie moeiliker as wat ek ooit kon dink en binne ’n jaar het ek dit sterk oorweeg om maar liewer die deure te sluit. Dit was finansieel net onmoontlik om kop bo water te hou.

“Die huur was op daardie stadium vier maande agterstallig. Boonop moes ek personeel, water en ligte betaal. Die lys uitgawes was oneindig. Spanning het begin intree en ook ons huwelik negatief geaffekteer. Emosioneel en finansieel het dit ons uitmekaar gedryf.

“Waar ek vandag hier sit, is ek ontsettend dankbaar vir Judea Harvest en hulle span. Ek het by hulle gaan aanklop. Dit was vernederend, om die minste te sê, maar ek het geen ander opsies oorgehad nie en het baie van hulle gehoor. Ek moes my trots sluk en ’n geloofsprong neem.

“Dit was moontlik een van die beste besluite van my lewe. Toe ek my oë uitvee, was daar glad nie meer skuld nie en kon ons vir ’n slag vóór kom en asemhaal.

“Die skool het ook deel van hulle kosskema geword en kry gereeld pakkies kos wat rys, soja en groente bevat. Dit alleenlik haal ’n groot las van my skouers af. Dit is so gerusstellend dat daar iemand is wat bereid is om te help en te weet dat daar ’n span mense is wat saam met ons bid.

“Ek kon die genade van God duidelik in ons lewe beleef. Dit was ’n keerpunt vir ons en ons skool staan nou sterker as ooit.

“Ek is ongelooflik trots op wat bereik is. Ek en my man weet ons maak ’n positiewe impak op die omgewing asook in die lewens van die kinders in ons kleuterskool.”

Judea Harvest versprei die Woord van God in arm gemeenskappe deur tente op te rig, wat deur die week sommer ook as kleuterskool en veilige hawe dien. Dr. Louis Blom, die leier van hierdie bediening, vertel dat die Here hulle opdrag gegee het om ’n geestelike oes in te bring uit plakkerskampe waar mense nie voorheen toegang tot kerke gehad het nie. Kos word ook aan minderbevoorregtes voorsien en pastore word opgelei.

Jy kan help om ’n tentkerk in ’n arm gemeenskap te borg. Vir meer inligting, kliek op www.judeaharvest.co.za, skakel 079 831 7646 of stuur ’n e-pos aan admin@judeaharvest.co.za.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.