My tiener Christenskap!

tiener

So my seun is ‘n tiener, en van ons gesprekke is nie altyd goed vir ‘n Mamma se hart nie.  Jy loop dae daarna nog broeiend rond en wil hom ‘n taai klap gee vir sy woorde en redenasies.

Toe een oggend op pad werk toe sê Derrick Prins iets baie interessants.  Sin is acting on the desire to be independent from God.  Iets lui ‘n klokkie hier binne in my, want ons het ‘n onderhoud met Arnold Mol gehad waar hy aan ons verduidelik het dat dit juis ‘n tiener se missie is.  Hy wil sy onafhanklikheid bewys.

Ek moes vir myself glimlag.  Want dit maak my mos ‘n tiener in soveel opsigte as dit om by my verhouding met die Here.

Ek weet hoe die lewe werk en ek weet wat goed is vir my en vir my mense.  So my gebede is basies ek wat die Here vertel hoe Hy wat moet doen, en as Hy dit nie doen nie, dan gooi ek ook soms my speelgoed uit die kot uit en beskuldig Hom daarvan dat Hy nie my of my geliefdes liefhet nie.  Nes my seun…

Dankie tog die Here is stadig om toornig te word!

Dis toe dat ek rebellie in die bybel begin bekyk en daar lees in Jesaja 63 van hoe dit Sy Gees grief, en die gevolg daarvan!  God het teen Sy eie mense begin veg!

Hebr 3:15 sê dit verhard ons harte en die perfekte toets vir jou tienerhart is jou woorde.  Woorde soos “God gee nie om nie!”  of “Waar is God hierin?” maak Sy hart skoon moedeloos. (Mal 2:17).

Die gevolg van ons harde harte is dan ons redenasies.  Ons begin wegdraai van die waarheid en ons begin onsself omring met mense wat ons opinies eggo.  (2 Tim 4:3-4)

Toe het ek op Radiokansel mos ‘n onderhoud met ‘n kunstenaar met die naam Verona Pillay.  Sy het haar seuntjie verloor agt dae na sy geboorte. En in haar pyn het sy God blameer en met alle mag probeer wegstoot. Maar sy verduidelik dat hoe meer sy vir haarself gesê het dat Hy nie bestaan nie, en haar gedrop het, hoe meer het Hy haar seer beskuldigende gedagtes gevul.  Hy was letterlik “hardegat” met Sy liefde.  Hy het geweier om haar oor te laat aan haar bitterheid en pyn.  Uiteindelik het sy berusting gekry in Sy teenwoordigheid en aanvaar dat Hy weet wat Hy weet.  So ons Here los ons nie omdat ons in ons tienergeit aanjaag en twak praat nie.  Hy volhard om ons lief te hê dwarsdeur dit, ander kant uit, tot ons verhouding herstel is en ons verder volwasse kan word.  Al vat dit dissipline (Hebr 12:5-6), al vat dit donker dae (Ps 119:67). Hy doen wat dit vat uit liefde, soos enige ouer.