My wil en God se wil?

135
God se wil

Moet jy ’n belangrike besluit neem? Miskien worstel jy en lê jy snags wakker hieroor en wonder wat Hy vir jou wil hê. Hier is riglyne oor hoe jy God se wil kan ontdek.

1. Die Bybel help ons beter verstaan

Lees jou Bybel en gebruik dit as ’n padkaart of ’n GPS. Die Bybel is ’n wonderlike rigtingwyser wat ons help en vir ons riglyne gee oor wat die regte dinge is om te doen.

Natuurlik is dit nie ’n wetenskaplike handboek wat ons op elke hedendaagse vragie ’n antwoord het nie.

Jy sal nie spesifieke raad kry soos op watter ouderdom jy vir jou kind ’n selfoon kan gee of wanneer sy met seuns mag begin uitgaan nie. Ook nie instruksies oor watter beroep jy moet kies of waar jy jou geld moet belê nie.

Daar is nie noodwendig klinkklare antwoorde nie, maar ons kry wel duidelike riglyne oor hoe om in sekere situasies op te tree. Sy wil kry jy in die Woord, want dit is waar Hy Homself aan ons openbaar.

Dit help natuurlik nie jy bestudeer die Skrif soos ’n handboek en ken alles uit jou kop, maar jy het geen verhouding met die Here nie. Julle moet saam ’n pad stap, dan sal jy al hoe makliker kan agterkom wat die beste ding is om te doen.

Daar is slegs een ding wat regtig blywend is: die waarheid.

Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar die Woord, die waarheid, is vir ewig.

As jy jou toekoms bou op die regte waardes en beginsels, kan jy nie sommer die verkeerde koers inslaan nie.

2. Moenie die krag van gebed verwaarloos nie

Bid daaroor. Jy hoef net te vra dat Hy jou sal help met die groot besluit omdat jy nie jou eie kop wil volg nie, maar Hom tevrede wil stel. Vra leiding en glo dat jy berusting sal kry oor hierdie besluit.

Jy kán daardie vrede kry wat alle verstand te bowe gaan. In Johannes 14:27 staan daar: “Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.”

Hierdie vrede is anders as wêreldse vrede. Vir die wêreld is vrede en geluk om ’n sterk bankrekening te hê. Dit beteken alles gaan goed en voor die wind. Maar daardie sterk bankrekening, roem of goeie beroep kan vinnig verdwyn en dan het jy maar weer niks.

Wat jy nodig het, is iets wat vir altyd sal bly: vrede te midde van jou omstandighede. Daardie rustigheid om te weet dat ongeag wat met jou gebeur, daar altyd Iemand is wat na jou kyk en vir jou sorg.

Dis natuurlik belangrik dat jy self moet bid en nie net ander mense moet aansit om dit vir jou te doen nie!

’n Vrou vertel vir my hoe sy een oggend vir al haar vriendinne ’n WhatsApp gestuur het en gevra het hulle moet vir haar bid want sy het ’n moeilike vergadering. Terwyl sy die laaste boodskap stuur, was dit asof sy in haar gedagtes hoor: Maar het jý My al gevra?

3. Met jou hart én jou verstand

Ons moet die verstand wat ons gekry het, gebruik om goeie keuses te maak. Ons is nie verniet na sy beeld geskep nie, ons het die vermoë om te kies.

Onthou jy die vraag wat ons almal se ouers ons ook op ’n tyd gevra het: “As al jou maatjies in die vuur spring, gaan jy dit ook doen?” Nee, want jy gaan jou verstand gebruik! Jy weet dit gaan jou brand en jou baie seermaak.

God wil nie sy wil op mense afdwing nie. Hy gee vir ons die vryheid om te kies. Die enigste ding wat Hy nie wil hê ons moet kies nie, is die sonde. Hy weet maar alte goed hoeveel hartseer lê voor as jy die verkeerde afdraaipad vat. Ons moet die lewe aangryp en geniet, maar op die regte manier.

Ja, ons het natuurlik ’n verantwoordelikheid ook. Baie mense neem besluite en dan loop dinge verkeerd, want hulle het nie ook hulle verstand gebruik nie. Dis maklik om dan sommer die skuld vir hierdie mislukking op Hom te pak.

Wat dink jy gaan gebeur as jy gedurig besig is om boodskappe op jou foon te tik terwyl jy bestuur? Jy kan maklik in ’n motorongeluk beland. As jy so ’n dom ding doen, het jy mos nie jou gesonde verstand gebruik nie!

“Klankbord” jou besluite met iemand en hoor wat daardie persoon daarvan dink. Ander mense ken jou baie goed. Jy is dalk nie op die oomblik objektief nie omdat jou situasie jou verblind.

4. Doen jou bes en vertrou Hom vir die res

Regdeur die Bybel lees ons dat die Vader altyd ingestel is op mense se behoeftes. Dis wonderlik om te dink dat Hy van ons weet en bewus is van ons uitdagings.

Hy weet van jou vreugdes en jou pyn en jou bekommernisse. Selfs nog voor jy hulp gevra het, weet Hy wat in jou gedagtes leef.

Net voor die wonderwerk met die broodjies en vissies is Johannes oorlede. Jesus was eintlik baie hartseer, want Johannes was ’n goeie vriend. Eintlik wou Hy seker net eenkant gaan sit en ’n bietjie gerou het.

Maar Hy is nie geïrriteerd met hierdie mense nie en stuur hulle nie weg nie. ’n Mens kon maklik dink dat ’n paar hongerpyne tog nie so erg is as die dood van ’n goeie vriend nie. Nee, inteendeel, ons lees dat Hy die mense innig jammer gekry het en hulle nie geïgnoreer het nie.

Ons hemelse Pa is baie beter as die beste aardse pa, hy stel belang in al die fasette van ons lewens, elke sekonde van elke dag.

Hy gee om oor jou verhouding met jou man of jou vrou en jou verhouding met jou kinders en jou kollegas. Hy stel belang in jou loopbaan en jou gesondheid.

Hy wil baie graag hê dat jy jou roeping sal uitleef en jou drome sal verwesenlik. Hy weet of jy alleen is of nie. Elke haar op jou hoof is getel.

Is dit nie wonderlik om te weet dat jy Iemand het wat na jou kyk nie?

5. Hy kan méér doen as wat jy dink

Miskien verlang jy na ’n tyd toe jy groot drome gehad het. Dalk het jy hoë verwagtings gekoester oor jou loopbaan, jou huwelik of jou kinders. Maar iewers langs die pad het daar iets gebeur en nou het jy jou maar by jou omstandighede berus.

Moet nie jou drome laat vaar nie. As dit vir jou te moeilik lyk om aan te pak, onthou jy is nooit alleen nie. Hy kan vir jou meer doen as wat jy ooit kan bid of dink. Is dit nie wonderlik nie? Niks is onmoontlik nie.

Moenie dat die wêreld jou potensiaal versmoor en vir jou vertel jy is onrealisties nie. As jy ’n sopkombuis wil begin, moenie dat iemand jou negatief maak en vir jou vertel dis ’n onbegonne taak nie.

Nie alle drome is egter van God af nie. Jy kan jou lewe lank iets najaag wat eintlik glad nie vir jou bedoel is nie.

Jy sal weet dis die regte droom vir jou as dit jou net nie met rus wil laat nie. As jy bereid is om alles daarvoor op te offer. As dit vir altyd sal hou en as dit ’n behoefte kan vervul wat niemand anders kan nie.

Die grootste en belangrikste is natuurlik of dit God se Naam verheerlik. Vra: Gaan dit wat ek doen, God eer? Of gaan dit iemand seermaak of skade berokken?

Gaan dit geld mors? Kan dit dalk lei tot verslawing? Gaan dit opbou en eenheid bewerkstellig? Hoe gaan ek voel oor hierdie besluit as ek eendag op my sterfbed lê?