‘n Afspraak met Skurwe voete

Dit is Dinsdagaand. Die kinders slaap in een van hulle kamers.  ‘n Klein tipe wonderwerk.

Ons bloeitjies slaap nog by ons. Jip. Hulle begin gewoonlik in hul eie beddens, maar as ons die volgende oggend wakker word lê jy in ‘n ander bed as waarin jy jou nagrus begin het, met een of ander kind by jou. “Musical beds”.

Hiérdie spesifieke ou bederf-aandjie lê ek rustig en lees.  Kan dit amper nie glo nie. Die genade van lees.  Die volgende oomblik voel ek ‘n voetjie.  ‘n “Al-redelik-lank-getroud-jou-voete-kielie-myne-skurwe-voete-JOUNE tipe voet.

Ek kap amper my ken soos ek my been wegruk en sê vir manlief:  “Engel, ek sal vir jou iewers ‘n pedicure moet gee. Jou hakke voel soos raspers.” Voetjie kom weer.  Mmm, wag ‘n bietjie, lyk vir my hy het ander tipe Pappa-planne… NIKS met sy voete se toestand te doen nie.  Ek begin giggel.  Dit is alreeds tienuur.  Die dag was lank.  Die lees so salig. Ai. Gaan ek nou maar die toepaslike “Nie vanaand nie Lief, ek het ‘n hoofpyn” verskoning gebruik.

Ek moet sê ek dink die glas rooiwyn saam met sy aandete speel beslis ‘n rol in hierdie Dinsdag aand se voetjie-voetjie.  Herskeduleer vir ‘aand’ en ek lees verder en skielik klink dit asof ek in die Kruger Wildtuin is. Pappa-planne slaap dadelik en begin snork.

‘n Lewe met kinders grootmaak laat maar min tyd vir die twee van julle, tog bly julle twee die fondasie van die hele gesin.  Die man en vrou se band moet sterk wees, min slaap, dissipline, hoe ry die Mammas’ bid bid so, heen en weer, die televisie heeltyd op Tom & Jerry, jy moet baklei vir ‘n beurt om net die nuus te kyk, eis sy tol en kan maklik die fondasie van die huwelik skud.

Ek dink iets wat my laat moeite doen met die ‘date nights’ is die feit dat hierdie klein hartkloppies van jou nie te ver van vandag af uit die huis gaan, hulle jongmens lewe begin.  Jou grootste opvoedingswerk is dan voltooi.  Nogal senutergend.  Dit is die verloop van die lewe en my keel trek reeds toe.

Daarom moet jy in jou wederhelfte belê. In tyd. In samesyn. In lag. In afsprake.  Daar is nie altyd geld vir uiteet, maar soms voel ek regtig dat die aand wat jy wel iewers gaan uit eet, buiten uit ‘n blik uit jou kas, is ‘n ‘belegging’ in jul verhouding.   Net nie Spur nie. Daar is perke aan hierdie sonder-die-kinders-aandjie.  Mag ons nie van die paartjies wees wat nooit ‘n woord  vir mekaar te se het as die nes leeg is en ons voëls vlieg in Stellenbosch rond nie.

Daarom moet jy daarvoor ook voorsiening maak. Bêre solank ‘n paar gesprekke in jou hart-tas  vir eendag… Moenie mekaar verloor langs die pad van geld-maak, kinders-grootmaak, huis-maak nie.

Wees bly as Pappa nog wil voetjie-voetjie.

Drink maar panado’s… (knipoog)