n Ander mamma se kind is myne

0
299
aanneem.jpg

Jarine is ’n gebore mamma, maar kan nie kinders hê nie. Toe maak ’n ander mamma haar droom waar.

Liewe Biologiese Mamma

Hierdie keer het die lewe op ’n baie vreemde manier gebeur. Een mens se groot hartseer was ’n ander een se grootste geluk. Maar ek hoop om te glo dat daar hierdie keer nie verloorders is nie. Dat alles uitgewerk het soos dit lankal reeds vir ons bestem is.

Ek ken nie jou agtergrond nie, maar wil jou graag ’n bietjie van myne vertel, net om alles vir jou in perspektief te plaas. Soos alle jong verliefdes het ek en my man met sterre in ons oë getrou. Dit was die begin van daardie gelukkige gesinnetjie waaroor die meeste mense droom. Na ’n sprokiesmooi troue gaan hou ons honeymoon en begin huis opsit. Net eers aan die nuwe lewe gewoond raak en die loopbane op dreef kry, dan kom die pienkvoetjies mos. Of nie…

Tien jaar lank het ek en my man gesmag na ’n klein lyfie om ons lewe mee te deel. Ek is ’n kenner van elke enkele mediese vrugbaarheidsbehandeling – en sommer boererate ook. Aanvanklik was ek geïrriteerd met almal se foolproof planne. Later het ek na elke strooihalm gegryp. Ons het meer as driehonderdduisend rand uitgegee, maar die ergste was die emosionele tuimeltreinrit. Dalk hierdie keer, miskien volgende keer, nóú moet dit werk… Tot ons op ’n dag begin aanvaar het ’n biologiese baba is ons nie beskore nie.

Dit was ʼn bitter pil om te sluk. Ek was kwaad. Vir alles en almal en die meeste vir my eie lyf. Hoekom kan niks binne-in my groei nie? Daar word elke dag duisende babas uit duisende lywe gebore. Wat van my? Hoekom is ek oorgeslaan? Hoekom mag ek nie ’n baba hê nie?

Maar wat as ek mag? Wat as ek wel ’n baba vir die Here kon grootmaak? Miskien nie my eie een nie, maar Syne? Soos dit beskik is, het ons ’n wonderlike aannemingspesialis teëgekom. Skielik het alles weer sin gekry. Dit sou ’n lang proses wees, maar ons was immers al gewoond aan wag.

Binne sewe maande was daar ’n babatjie beskikbaar. Die babakamer is inderhaas uitgeverf, reggemaak, rondgeskuif. Ek het elke dag die kleertjies en speelgoed anders gerangskik en die dae afgetel. Verniet. Die aanneming het misluk. Die biologiese ma het toestemming tot aanneming teruggetrek. Was jou hart al ooit so gebreek dat jy nie eers geweet het waar al die stukke lê nie? Elke asemteug brand deur die leë gat in jou lyf. Ek was heeltemal te moeg om vrae te vra soos hoekom, waarom en wat. Alles was dood, dood, dood.

Toe kies jy ons profiel. My keel het toegetrek. Asseblief, Here, nie weer soos laas keer nie. Asseblief. Dit was ’n baie vreemde gevoel. Aan die een kant was ek uit my vel van opgewondenheid. Aan die ander kant was daar die groot twyfel. Ek wou vir niemand vertel nie. Ek wou nie die kleertjies uitpak en die kamer regkry nie (al het ek dit tog skelm gedoen). Op my een skouer het hoop gesit, op die ander een wanhoop – en albei was ewe swaar. Sê nou maar net…

aanneem_baba.jpgMaar hierdie babatjie was toe regtig vir ons bedoel! Alles was so onwerklik en het binne ’n maand gebeur. ’n Paar dae later het ek die eerste keer vir liewe klein Yani, wat toe twee maande oud was, vasgehou. Ek kon nie praat nie. Ek wou nie. Ek wou net vir haar kyk en kyk en kyk. Sy is al amper ’n jaar by ons en ek kan nog steeds nie ophou kyk nie!

Dankie het nog nooit so simpel geklink nie, maar ek ken nie ’n ander woord wat dieselfde beteken nie. Ek besef hoe ’n geweldige opoffering jy gemaak het. Dit was seker die moeilikste besluit wat jy nog ooit moes neem. Ons verstaan heeltemal hoekom jy gekies het om jou baba te laat aanneem en bid elke dag vir jou. Mag jou pad vorentoe vol vreugde wees. Ons bid dat jy mettertyd berusting sal vind. Weet dat jy die regte profiel gekies het! Yani word elke dag van haar lewe oorlaai met liefde – en dit sal vir altyd so wees. Jy het vir ons die grootste geskenk denkbaar gegee.

Klein Yani het ons hele bestaan handomkeer verander. Haar glimlag en groot bruin oë smelt my hart in ’n oogwink. Sy is die middelpunt van ons bestaan. Vreemd om te dink dat so ’n klein lyfie ’n huis so vol kan maak. Dikwels sal ek haar hoor of ruik en heeltemal oorweldig word deur die werklikheid. Sy is regtig hier. Sy is regtig myne. Ons huis het ’n babatjie gekry!

’n Mens weet nooit wat die toekoms inhou nie – dalk kruis ons paaie eendag weer. Weet net ons pas die geskenk wat jy vir ons gegee het, baie mooi op. Met ons hele lewe.

Liefde
Jarine